Vrydagmiddag en die skoolsakke word in ʼn hoek gegooi en dan is ons aan die beweeg. Daar wag vir ons so +/- 340km voor ons ʼn vuur kan aansteek en die week op sy gat kan skop.
Op Laingsburg en die “hoe vêr nog” vrae begin deur kom. In my truspieëltjie kan ek die 3 stelle oë van Lian, Reynhardt (ʼn maaitjie van skool) & Mila sien wat net losgelaat wil word.
1.5km voor Leeu Gamka kry jy die afdraai (die Kruidfontein bord is nie meer daar nie) na regs en dan is dit so +/- 17km grondpad tot by die hek van Plaatfontein Gasteplaas. Hannes (plaasbestuurder) wag ons 3 gesinne in, en na ʼn vinnige geselsie is al die kinders op Hannes se bakkie oppad na hulle nuwe Boma Kamp.
Die plaas is so 1,800 hektaar groot, en bestaan uit twee groot kampe (+/- 900 hektaar elk). In die eerste kamp is die herehuis, en as jy dan dieper in die plaas inbeweeg gaan jy deur ʼn hek (tweede kamp) waar die Boma Kamp is.
Die Boma, wat deur die vorige eienaar gebou was vir buffels, grens aan ʼn groot sement plaasdam. Daar is twee staaldeure wat toegang gee, so dit maak dinge baie maklik as jy bv. 3 of 4 gesinne is en jy wil al die voertuie binne die Boma parkeer.
Ons vuurherd was alreeds gepak met lekker fris stompe (dankie Hannes!) met ons aankoms, en kort voor lank staan al die tente en is die vuur aangesteek.
Die kinders het natuurlik nie op hul laat wag nie, en met ʼn lekker platform om van af te spring, het die brawe jong helde die koue water in die skemer aangepak.
Vir aandete het Lourens vir ons ʼn lekker bederf gehad. Die man het onlangs ʼn fris 9.6kg Leervis gevang in Langebaan, en vanaand gaan ou groot Jacques hom vir ons vlek op die kole.
Vis op ʼn ‘wrap’ wat liggies gesmeer is met mayonnaise en dan koolslaai om net so bietjie kleur te gee – my mens, dit bly een van ons gunsteling etes as ons kamp. Dit is vinnig, vullend en die kinders is mal daaroor.
Saterdagoggend en die Karoo sonsopkoms is prentjiemooi. Vandag lê ʼn vol dag vir ons voor. Van Plaatfontein vat ons die R353 na Prins Albert (40km) waar die bakkies volgemaak word, en dan pak ons die bekende Swartberg Pas aan. Swartberg pas is voorwaarlik een van my gunsteling passe om te ry in Suid Afrika en die uitsig oor die Groot Swartberg is onbeskryflik mooi.
By Kobus Se Gat word daar gestop vir middagete, maar ek dink hierdie sal ook my laaste stop daar wees en my aanbeveling is ry die ekstra 12km verder na Wilgewandel.
Die weer het begin kwaad raak en ons moes weer aan die beweeg kom. By een van die uitkykpunte het ek hittete my drone amper verloor as gevolg van die sterk wind.
Terug by ons kamp word die 3 voertuie ingetrek in die Boma en die lastige windjie is skielik iets van die verlede. Vuur kry weer lewe en vanaand maak groot Jacques sy pasta pot, wat ʼn vinnig stygende gunsteling onder die kinders raak.
Kinders was skaars die bakkies uit, toe is dit dam toe. Kortvoorlank is die wind iets van die verlede en so ook die kinders. Al wanneer jy van hulle hoor of sien, is as hulle iets kom haal om te eet.
Na twee bakkies pasta is dit ʼn laaste koffie en dan is dit tent toe. Ek en Jean het die dome tent gedeel met Lian en Reynhardt in die klein pop-up tent. Al 3 gesinne het besluit om met grondtente te gaan, want niemand was lus om tent op te slaan die Saterdagoggend nie, maar ek dink jy kan maklik 4 gesinne binne-in die Boma kamp.
Sondagoggend en almal begin kamp afslaan. Niemand is regtig lus om huis toe te gaan nie, en onmiddellik word daar besluit om ʼn meer interessante pad terug aan te pak Wellington toe.
Van Plaatfontein, reis ons via Prince Albert, Klaarstroom deur Meiringspoort na De Rust. Het al hoeveel keer deur Meiringspoort gery, maar nog nooit by die bekende waterval gestop nie. Die keer, gewapen met 3 waatlemoene (dankie Hannes), word daar besluit vandag is die dag wat ons hierdie waterval gaan besoek.
Die keer was Mila voor die kinders in die water, maar toe Lourens sy hemp uit trek toe weet ek die skrif is aan die muur en dat ek geen keuse het om die yskoue water aan te durf nie, want die seuns sal my aanhoudend spot omdat ek nie wou swem nie; Genade, praat van groepsdruk. Een waatlemoen word binne minute verorber in die parkeerarea en dan is dit die lang pad Boland toe.
Groot dankie aan Retief en Liezel Joubert van Plaatfontein. Welgedaan met jul nuwe kamp en ek glo dit sal gou populêr raak onder besoekers. Vir meer navrae kontak gerus Liezel by plaatfontein1954@gmail.com
Aan my twee seuns, Jean en Lian: ek lag altyd so lekker vir die stories in die bakkie. Was lekker om Reynhardt weer deel van die span te hê en die knaap is altyd ‘n bok vir sports.
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Plaatfontein Gasteplaas.