Na ons twee aande se kuier by Zwartkop Guest Farm, draai ons regs op die R46 na Touwsrivier.
Die Matroosberge regs van ons is spierwit onder die sneeu en ons 3 manne lag lekker in die Cruiser want ons weet die volgende paar dae in die veld gaan klippe kou verg.
Gecko Rock is so +/- 26km buite Touwsrivier en hierdie sou ons derde besoek aan hulle wees. Ons manne het al die voorreg gehad om by hul Echo Valley kamp asook ʼn “wild” kamp (hulle was vol en het ons geakkommodeer) te kuier, maar De Wet’s Rus was altyd vol bespreek so ons het uitgesien om dit so bietjie te gaan verken.
Die vorige twee dae se wind en reën was iets van die verlede en die son het al van vroeg af baklei om deur die onderliggende wolke te kom.
Een ding wat my altyd van Gecko Rock fassineer is die “rolling hills” op die 4,000 hektaar plaas en ons was weereens nie teleurgestel nie.
Na ons twee dae in koue en nat weer in die Tankwa, was die seuns heel opgewonde toe hulle die 3 “cabins” by De Wet’s Rus kampterrein sien en het heimlik gehoop pa het een bespreek.
Hahaha, toe nie!
As ek en die seuns so verdwyn, probeer ek hulle betrokke kry in soveel as moontlik aspekte van ons kamp of toer. Ja, ek sal van bestemming A tot B ry, maar as ons op die eiendom kom of ons is weg van die hoofpaaie en in die bos sal ek laat hulle beurte maak om te ry, iets wat hulle altyd geniet.
Dan is daar al die takies om ʼn kamp: kos maak, skottelgoed, omsien na Mila, vuur maak, snacks… Hierdie is alles takies wat ek tussen ons 3 probeer verdeel, bloot sodat dit nie ʼn geval is van pa wat alles doen terwyl hulle sit en vingers tel nie.
Ons eerste aand en Jean is aan diens vir aandete en die knaap maak vir ons ʼn lekker pizza pie op die kole, terwyl ek op hot chocolate diens is.
Ons manne sit tot laat om die vuur en gesels oor ditjies en datjies, maar later begin die koue ons byt en ons besluit ʼn movie in die tent onder die komberse klink mos nou lekkerder.
Die volgende oggend sukkel-sukkel die son om van die ryp ontslae te raak. Met die dat ons die hele dag hier gaan kuier het ons dus tyd op ons hande en daar word besluit om ʼn lekker plaas ontbyt (toasted buns, wors en scrambled eiers) aanmekaar te slaan.
Lian is op die eiers en koffie terwyl Jean die buns toast saam met die wors op die kole.
Ek maak seker Mila het kos en skoon water en maak weer die tent binne leefbaar.
Dis nie lank voor broer #1 aan broer #2 karring nie, en ek weet hoe die storie gewoonlik eindig. Omrede ek nie altyd weet wie begin karring het nie, het ek ʼn reël dat ek beide voeter. Hierdie reël skep ʼn dinkproses tussen die twee seuns dat, ongeag wie die situasie begin het, beide mooi moet dink oor die saak en wie ook al reageer/huil/skinder moet ook mooi dink, want dit kan skeef loop vir beide.
Gewoonlik begin dit met rugby. Beide is mal oor die kontak, maar 99% is daar altyd trane na die tyd, want Jean neem dit te ernstig op en dan huil Lian, of Lian raak kwaad en dan moet ek die twee van mekaar afkry met ʼn graaf (wees gou vir my rustig tannie, dit is maar net ʼn metafoor wat ek gebruik, so vat nog ʼn slukkie van tannie se ‘tee’ asseblief).
Ek waarsku alewig dat daar nie rugby gespeel word nie, maar ek word dag en nag belowe niks gaan skeef uitdraai nie. My woorde was skaars koud en Jean duik sy broer deur ʼn soutbos dat jy net wortels en grond sien spat. Ek skud my kop want ek weet wat nou gaan kom, maar tot my verbasing vlieg Lian op en lyk of hy deur 220v krag getrap is: “Ek is OK pappa, alles is reg”. Jean is net so verlig en hy gee sy broer ʼn high-5, maar soos die wiel draai stamp Lian vir Jean teen die Cruiser oppad doellyn toe dat ek dog hy hardloop die bumper van die voertuig af.
Met Jean plat op sy rug dink ek OK, dit is seker nou maar nodig vir ʼn vinnige “reset” tussen die twee. Jean staan stuk-stuk op: “Moenie worry nie, ek is OK. All good pappa”. Eers is ek semi-teleurgesteld, want dit gaan seker nou bietjie wild wees as ek beide “reset”, want niemand is kwaad vir niemand nie, maar dan kan ek nie meer my lag hou nie en ons al 3 bars uit van die lag!
Daar word besluit dat albei gewen het met rugby en die telling is steeds 0-0. Dus moet daar iets anders gedoen word om te beslis wie wegstap met die “bragging rights”. Die windbuks kom uit en ons 3 raak betrokke in ʼn intensiewe skyfskiet kompetisie.
Ek weet nie of dit die natuur se siek grappie was nie, maar om die een of ander onverklaarbare rede wen Lian die kompetisie. So kom ons los liewers die onderwerp net hier…
Waterbottels word nader getrek en ons besluit om een van die nabye koppies te gaan verken. Lian besef sommer gou sy kortbroek idee en die digte karoo bossies werk nie lekker nie, maar dit is sy probleem/keuse so hy moet maar die houe vat. Ons noem dit sommer Bos Skool.
Vir die res van die middag spandeer ons tyd maar om die kamp. Seuns en Mila verdwyn so stuk-stuk en dan kom hulle terug om iets te eet en dan verdwyn hulle weer.
Dit was my beurt vir kos so ek was woelig om alles reg te kry en as daar ʼn opening is, werk ek sommer so paar bladsye van my boek deur.
Ons aande was koud en soggens as ons opstaan is alles spierwit geryp. Ons laaste aand was snerpend koud en ek het sommer vroegaand besluit daar is nie ʼn manier dat onder in die added room slaap nie.
Ek tel Mila op en ons twee is die trappe op daktent toe. Natuurlik was die seuns buite hulself van opgewondenheid om Mila bo by hulle te hê. Ek dink die arme hond was meer dankbaar en sy het skaars die kombers getref en sy was aan die slaap.
Dinsdagoggend wag ons dat die tent effe droëer raak en dan slaan ons kamp op. Vandag skuif ons weer aan na ons 3de en laaste bestemming van hierdie mini 6-dag roadtrippie, Buffelsrivier in die Moordenaarskaroo.
Terug by Touwsrivier en op die N1 kan ek sien die 4 dae se koue weer begin sy merk op die knape los. Ons gaan hier ʼn opkikker moet kry om weer moed in daai klein lyfies te kry, want die volgende twee aande in die Moordenaarskaroo gaan wraggies nie sag of maklik wees nie.
By die laaste garage sak ons in en voor die manne hulle kon kry stop ons voor ʼn Steers. Die gesiggies helder op en daar is weer dapperheid.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: manne manne, ek dink nie julle het al so koud in jul lewe gekry nie soos hierdie twee aande nie. Ek het nog nooit ʼn hond so koud gesien nie, en al was dit vrek beknop in die tent met ons AL VIER, was dit ʼn avontuur op sy eie. Volgende keer as julle dink julle kry koud, dink terug aan hierdie twee dae in ʼn spierwit gerypte tent!
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Gecko Rock.
[…] 1 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende July 17, […]
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie July 24, […]