
Ons kuier by Gecko Rock het tot ʼn einde gekom en ons is weer aan die beweeg. Volgende stop is by Laingsburg, 85km verder, en dan is dit nog so +/- 12km tot by Buffelsrivier waar ons vir die volgende twee aande lekker in die veld gaan kamp.
By die ingang van die plaas ontmoet ons ʼn oud Boland Landbouer, Izak van der Vyver, en ons manne skud blad. Ons is van die eerste besoekers wat na die groot reën daar kom kamp, so die Buffelsrivier loop op plekke lekker diep. Ons kamp plek is anderkant die rivier, so ons sal deur hom moet gaan.
Izak wys die plek waar ons moet kruis en al wat deur my gedagtes gaan is wat maak ons as hierdie 3 ton stuk yster in die rivier gaan vassteek. Die roete word gestap terwyl Izak nog ‘n laaste stukkie advies gee en dan is dit seker nou maar so… My Cruiser gaan seker nie op sy eie anderkant die rivier kom nie!
Natuurlik is my medereisigers skielik bang gat en hul besluit hierdie is ʼn PA-ALLEEN-AVONTUUR. Ek steek die Cruiser se neus in die rivier; die eerste gedeelte kruis ons hom dwars en dan, so in die middel van die rivier, moet ek 90 grade regs draai teen die rivier op. Dan kom ek weer op ʼn klip/sand bank en dan die laaste gedeelte draai ons weer 90 grade links na die wal toe waar ek dan deur die rivier moet gaan, net mooi waar hy op sy diepste is.
“Henry jy gaan hom maar moet gee, anders gaan jy nie daai wal uit nie”, kom die laaste advies van Izak.
Voorwiele sak weg en omdraai is nie meer ʼn opsie nie. Toe die wiele die wal tref, jaag ons so paar ekstra liter petrol deur die vergasser se keel en die Cruiser beur die wal uit.
Ons volg die jeep track al langs die Buffelsrivier tot daar nie meer ʼn pad is nie. ʼn Vinnige recce word gedoen en Jean wys ʼn plekkie uit waar hy dink ons kamp moet opslaan.
Soos altyd verdwyn Lian en Mila in ʼn oogwink en daar staan sy arme broer wat pa moet help kamp opslaan… Hahaha.
Buffelsrivier is ʼn 8,000 hektaar plaas in die Moordenaars Karoo en bied ongelooflike “wild” kamp opsies. Vir die persoon wat dinge effe rustiger wil vat, is daar selfs ʼn kampterrein met al die nodige geriewe, maar as jy hou van in die natuur kamp, moet jy definitief Buffelsrivier op jou lysie sit.
‘n Knetterende vuurtjie langs ʼn lopende rivier saam met jou familie – jy kry min perfekte oomblikke soos hierdie!
Dis die volgende oggend en my mens, die Karoo is koud. Ek sukkel om my tone te voel, maar Mila wil uit so dit is seker nou maar so.
Bewapen met ʼn koppie koffie en die oggend son teen my rug, trek ek my boek nader en geniet die rustigheid voor daai twee knape hul verskyning uit die tent maak.
Met die son lekker uit, en die aand se koue iets van die verlede word die skoene aangetrek en dan gaan verken ons die gebied verder teen die rivier op.
Natuurlik was die rustige stappie van korte duur en toe die een broer die ander broer uitdaag om te swem, het ek geweet ek raak nie betrokke in hierdie brawe uitdaging nie.
Laatmiddag en Jean verras ons manne met ʼn KOOKWATER bord vol Nachos. Storie het amper ontaard in ʼn vuisgeveg soos die knape gestry het vir die laaste paar happies in die bord.
Toe die seuns nog jonger was, is daar altyd speelgoed saam gery. Die laaste jaar of wat besef ek niks word meer saam gery nie. Dalk ʼn rugby bal, maar niks meer nie. Waar ook al ons stop en dit ons tuiste vir ʼn aand noem, is daar iets wat hul altyd besig hou.
Ons laaste aand was dit die bou van ʼn klip eiland in die middel van die rivier 😊
Ons kuier by Buffelsrivier het einde se kant toe begin staan. Die volgende oggend sou ons oppak vir die laaste keer en dan die Cruiser se neus huiswaarts druk, maar ons het nog een aand om te waardeer hier langs die rivier.
Dit was juis toe Lian se beurt vir aandete, terwyl Jean vir die laaste keer op hot chocolate- en cappuccino-diens was.
Donderdagoggend en die spannetjie lyk bietjie getimmer toe ons weer op die grondpad klim. Niks wat ʼn Wimpy ontbyt by Laingsburg nie kan beter maak nie!
Aan my twee seuns, Jean en Lian: ek weet dit was ʼn harde paar dae seuns en pa moet eerlik wees – ek self het lanklaas so koud in my lewe gekry soos hierdie paar dae in die Karoo, maar soos ek al menigte male hier genoem het, dit is so maklik om te sê: “dit is nie lekker nie, kom ons gaan liewers huis toe”. Maar met julle twee was dit net nog nooit ʼn opsie nie. Dit laat my dink aan die bekende aanhaling van Peter McWilliams, “Be willing to be uncomfortable. Be comfortable being uncomfortable.” Manne dit is ʼn voorreg vir pa om “uncomfortable” oomblike met jul te deel.
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Buffelsrivier.
Lees gerus hoe hierdie reis van ons begin het by Zwartkop Guest Farm en toe na Gecko Rock.
[…] vorige kuier by Buffelsrivier was in die middel van die winter en die rivier het toe lekker geloop. Met hierdie besoek het dinge […]