
Soos jy van die titel kan aflei gaan hierdie avontuur oor een of ander rally. Maar nie sommer enige rally nie, nee pappie – hierdie een word gedoen in ou karre (mag nie jonger as 1985 wees en duurder as R30,000.00 wees nie).
So, hoe het dit nou gebeur dat ek skielik van kamp en toer oorskuif en by so iets betrokke geraak het? Ek kan nie die spesifieke dag onthou nie, maar dit het iets soos hierdie begin: ek kry een aand laat ʼn Whatsapp boodskap van my besigheidsvennoot, Hermanus Huisamen, met die pamflet van die Jam Jar Rally en ʼn kort, bondige boodskap: “Kom ons doen die Jam Jar die jaar” En soos die gesegde gaan – The rest was history.
Clikit Media Motorsport en Swartskaap word gebore!
OK, so kom ons praat gou vinnig oor Swartskaap voor ons die storie verder vat. Swartskaap is ʼn 1985 Mercedes-Benz 2.8 LE wat so bietjie opgedollie is: ‘n paar dakrakke, bakkie wiele, VHF radio, nuwe kleur en natuurlik so paar plakkers.
Die plan kortliks was om twee kliënte van Clikit Media saam te neem op hierdie avontuur, maar omrede hierdie ʼn eerste vir ons was, het ons besluit dalk sal ʼn rugsteunvoertuig (netjiese woord nê?) nodig wees, en meer belangrik dit sal ons ook die opsie gee om nog ʼn paar vriende saam te neem.
Woensdag laatoggend en daar gaan ons – Swartskaap, ʼn Hilux en 6 super opgewonde manne. Ons spannetjie is soos volg:
- Gerhard Lombard
- Jannie Louw
- Tertius Joubert
- Dreyer Retief
- Hermanus Huisamen
- Ekke
Tertius se broer, Retief Joubert, was so vriendelik om sy Karoo plaas (Plaatfontein) by Prince Albert vir ons beskikbaar te stel vir ons eerste aand, maar oppad soontoe het ʼn onskuldige stop by Matjiesfontein se The Laird’s Arms ons hele trip amper in die wiele gery as gevolg van die aankomsvrees wat ons effe te vroeg gegryp het.
Donderdagoggend en ons is vroeg aan die beweeg. Vandag se plan is om vanaf Prince Albert via Oudtshoorn deur te skiet na Gqeberha (voorheen bekend as Port Elizabeth). Die 520km sal ons so ses en ‘n half ure neem, met ʼn paar stoppe tussenin en dan is daar darem nog genoeg daglig as ons in Gqeberha aankom.
Wel, dit WAS die plan… Hahaha. Die vorige dag het Swartskaap met sy nukke begin toe ons op die grondpad klim en Hermanus-hulle het hom net-net tot by die plaas gekry. Die simptome is vinnig gediagnoseer onder ons manskappe, wat ongeveer saam 5% meganiese kennis het, as ʼn “fuel starvation” probleempie.
Uiteindelik in Oudtshoorn aangekom en daar word ʼn nuwe petrol filter aangeskaf en dan is dit na een van Tertius se vriende, Mannetjies Badenhorst van Badenhorst Slagtery, wat die nodige kundigheid het om die ding vir ons in te sit.
Swartskaap is “back in business” en ons is hard oppad Gqeberha toe. Op De Rust word ons eenvoudige plan vir die dag WEER in sy moer geskiet en die ou simptome is terug. Ek, Dreyer en Jannie is nog in Oudtshoorn toe die hartverskeurende nuus ons bereik asook die nodige parte (petrol pomp) wat benodig word.
Uiteindelik in De Rust het die spannetjie ʼn karakter van ʼn werktuigkundige nader gesleep om te help met die nodige tegniese handigheid. Met die petrol pomp vervang en na ʼn kort toetsrit is daar nog steeds geen verbetering nie. Ons karakter van ʼn werktuigkundige is self nou verslae, en ons ontvang advies van ses baie tegnies bekwame ouens oor wat ieder en elk dink fout is.
Na vele gesukkel word ontdek dat die center pennetjie van die distributor cap weg is en DIT is wat alles veroorsaak. Dis 16h30, en ek en Dreyer vertrek TERUG Oudtshoorn toe, en die klok is teen ons, want as ons nie nou êrens ʼn ander distributor cap kry nie, dan moet ons na Plan F toe gaan, en ons het nie sover gekom om aan Plan F te dink voor ons die Boland verlaat het nie.
Ons kry wraggies die part by ʼn 2de-handse parte plek en ons is terug De Rust toe. Nou as jy mooi getel het, sou jy besef dit is nou ons 3de besoek aan De Rust in een dag… Daar is vreugde en opgewondenheid soos ons karakter van ʼn werktuigkundige doenig is met die nuwe distributor cap. Dreyer skiet daar weg, onder groot applous van die manne om alles te toets, maar ‘n paar minute later word al ons drome verpletter, die probleem is steeds daar. Hoe nou? Wat nou? Ek mis sommer my honde….
ʼn Besluit word geneem dat ons nie nog hier kan hanna-hanna nie anders gaan ons nooit in Gqeberha aankom nie.
Ek is nie seker hoe laat ons uiteindelik in Gqeberha aangekom het nie, maar ek dink ons het so +/-3 ure se slaap ingekry voor die wekkers begin afgaan het. Die spanne het so vanaf 7am bymekaar gekom by Something Good restaurant en, na ʼn vinnige ontbyt, is die hele konvooi so net na 8am aan die beweeg.
Van daar beweeg die konvooi na Aldo Scribante resiesbaan waar die spanne so paar rondtes om die legendariese renbaan maak.
Die gees en atmosfeer onder al die spanne is iets om te beleef. Soos ons verder Noord beweeg word daar eers by Addo gestop vir die laaste paar aankope voor ons verder aanskuif op die R335.
Soos ons Zuurberg Pas se hoogtes aandurf, begin ek en Jannie wonder hoe de hel hierdie ou karre hierdeur gaan kom.
Dit was nie lank nie en Swartskaap besluit om bietjie ligter te raak: Gerhard tik die een silencer boks af. Daar is nie kundigheid om die ding op te sit nie en die manne stoot aan. ‘n Paar draaie later en Gerhard tik sommer die tweede boks ook af. Nou het Swartskaap in ʼn ou plaastrekker ontaard, maar teen die tyd was die geraas die minste van ons bekommernisse.
Net voor ons die kruin van die pas haal, word daar stoom van voor opgemerk. Nou, as jy nie ʼn meganiese maatjie is nie, is stoom nie iets wat jy graag voor by jou bonnet wil sien nie. Ons gooi weer ons 5% meganiese kennis in ʼn pot en ons kom tot die gevolgtrekking dat die kar te swaar gewerk het die pas uit. Nou moes ons stadig ry om deur die rowwe terrein te kom, en dan die enjin so paar minute laat rus om af te koel.
Lekker koue verversingkies word geniet – ‘n man wil darem net so bietjie afkoel van die dag se hitte.
Uiteindelik aan die kruin van die pas gaan die manne oor ʼn groot klip en ons brandstofpyp kry ʼn skeur. Teen die tyd het ek al so baie voertuig reparasies gesien dat ek gedink het hierdie is die einde van ons pad. Maar Dreyer sê hy het ʼn plan en na so ‘n uur is ons wraggies weer aan die beweeg. Whoop whoop!
UITEINDELIK in Somerset Oos en nog vele verhale agter ons, wag daar ʼn helse groot aand vir ons manne, eers by Somerset on Main en toe later by Oom Wessel se Padstal.
Dag twee van die Jam Jar rally het ongelukkig nie goed begin vir die Blues Broers nie en die “fuel starvation” probleempie wat Vrydag begin het, het net nie beter geraak nie. Na baie hulp is daar toe tot die gevolgtrekking gekom ons moes die petrol tank ook geflush het toe ons die kar gediens het.
So word daar lesse geleer, maar dit het nie ʼn demper op ons daggie geplaas nie en ʼn vuur is gou aangesteek by ons AirBnb. Later die aand is ons weer terug na Oom Wessel se Padstal vir die prysuitdeling asook die Bokke vs Argentinië wedstryd.
Manne dit was ʼn voorreg en een helse avontuur!
Nota – Tertius moet volgende keer nie weer ʼn verdomde baard knipper saam bring nie asb haha
Kliek hier vir ʼn paar kiekies van hierdie ongelooflike avontuur.
Vir ons maats wat sukkel met die lees, kyk gerus die episode op YouTube hier: