Loop al lank met die gedagte om skoonpa saam te neem op een van ons pa & seun kampe. Met die dat Marli in Denemarkte was vir so paar dae, het ek besluit hierdie is ‘n gulde geleentheid om hom saam te nooi na ons kamp by Doringlaagte.
Vrydagmiddag so net na 3pm glip die vier van ons deur die Hugenote tonnel. Die seuns se opwinding borrel oor met die dat oupa gaan saam kamp en kort-kort moet ek hul keer want hulle praat sommer oor mekaar.
Net soos ons die lae water bruggie buite Montagu oor ry, draai ons link by die Talana pad en dan presies 2.8km verder kry ons Doringlaagte se ingang regs.
Die kampterrein & huisies is om ʼn groot dam gebou. Ongelukkig met ons besoek, was die watervlak bitter laag, maar mens kan net indink hoe wonderlik dit moet wees as die dam wal-tot-wal vol is.
Bestuur het vir ons een van hulle Kolkol Wood-Fired Hot Tub gratis aangebied vir die naweek, so die seuns was natuurlik oor die maan toe ons daar stop en een van die Menere daar staan. Skaars die tent en vuur aan die gang gekry, toe moes daar vuur gemaak word om die water warm te kry.
Klaar geëet die aand toe word daai bad met alle mening betree en soos gedink was dit ʼn storie om hul daar uit te kry laaaaaat die aand.
Saterdagoggend na ontbyt en ons is vroeg aan die beweeg. Terug in die dorp (Montagu) draai ons regs en volg die R318 die bekende Koo Vallei in. Bo by die Burgerspas draai ons links by die bordjie “Tractor Trips – Protea Farm”.
Protea plaas is baie bekend vir hul trekker rit na die stappers hut bo by Arangieskop, en natuurlik hul watertand lekker potjiekos etes tussen die dennebome. Ons 4 manne was hier om albei tot die proef te stel.
Die roete op na die hut is stadig en kronkeling, maar die ou Ford laat dit maklik lyk. Met die dat ons heel voor gesit het beweeg die neus soms oor die krans as daar gedraai word, dan word daar gegryp & geklou aan enige iets haha.
Vrugte, sap (vir die kinders) & ʼn soetwyntjie word bo by die hut geniet voor daar weer afbeweeg word na die potjiekos ete.
Die knape het nie op hulle laag wag nie en het onmiddellik die vetkoeke + jam in gevaar.
Het al baie gehoor om hier aan te klop vir hul potjiekos ete en maggies mens dit is definitief ʼn moet. As jy in die Montagu/Koo Vallei omgewing is maak ʼn punt daarvan om Protea plaas te besoek. Baie belangrik – besprekings is NB.
Terug by Doringlaagte en die Kolkol Hot Tub word sommer hard gestook met die hout – die keer wil ons in warm (nie lou) water swem. Terwyl die bad se vuur lekker lewe kry word die kampvuur ook sommer weer lewe gegee. Niemand is regtig meer honger na die groot potjiekos ete by Protea plaas nie, maar daar moet darem altyd ʼn vuur brand by ʼn kamp.
Terwyl die seuns wag vir die Hot Tub om warm te word, word daar besluit om die water aktiwiteite by die Beach Bar te gaan toets saam met hul oupa.
Laat aand terwyl die vuur lekker knetter en ek en skoonpa teug aan ʼn onskuldige vuil Coke is die seuns weer hard besig om chaos te skep in die Hot Tub wat teen die tyd vrek warm is.
Sondagoggend en die wêreld is koud so niemand is haastig om hulle koppe by die tent uit te druk nie, maar sodra Lian besluit dit is nou genoeg geslaap dan is dit opstaan tyd vir almal.
Na ontbyt en nog ʼn laaste verkenning van die kamp word daar besluit om weer die waterglybane & kanoe’s by die Beach Bar aan te pak. Terwyl oupa/skoonpa ogie op daai twee woelige manne gehou het, het ek die geleentheid gebruik om kamp rustig op te slaan.
Middagete word in Robertson geniet voor daar weer aangestoot word terug Wellington toe.
Kliek hier vir foto’s van die naweek.