Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Manne tyd in die Moordernaarskaroo

Buffelsfontein

Hierdie is ʼn nota aan myself.

Dit is Sondagmiddag en my gat is nog pê van ons trippie deur die Moordenaarskaroo. Ek laai ʼn paar kiekies op sosiale media om seker te maak ek “date stamp” die gebeurtenis en besluit ek sal ‘n ander dag paar woorde skryf daaroor.

Die volgende dag drink ek koffie saam met ʼn maat en hy noem, “Bliksem Henry, maar dit lyk of julle manne lekker tyd gehad het”. Ek knik my kop, en toe ek weer terug is in die bakkie maak ek my foon oop en kyk weer na die kiekies. Dit vertel ʼn storie van ʼn pa en sy seuns wat in die veld kamp, lekker eet en mooi landskappe ervaar, maar terselfdetyd is daar ʼn groot gedeelte van die reis wat nie altyd gedeel word nie…

Vir my is daar 3 soorte kampe:

  1. Daar is ʼn veilige/maklike opsie saam met vriende by ʼn gevestigde kampterrein. Daar is aktiwiteite en om alles te kroon, ʼn winkeltjie wat geld vreet. Jy sien nooit die kinders nie en die admin om hulle tevrede/besig te hou is zero. Jy sal hulle net sien as hulle honger of dors is en geld soek vir die winkeltjie.
  2. Dan is daar kampe/toere saam met “like-minded” mense soos ek, na verlate of nie kommersiële kampe. Die kinders doen hul eie dinge, en die ouers kuier lekker om die vuur.
  3. Laastens is daar daai tipe kamp/wegbreek naweek/toer (bv. soos waaroor hierdie artikel gaan) saam met my seuns, net ons alleen, by plekke waar daar geen kind of kraai is nie. Geen sein, geen vriende, geen aktiwiteite nie! Ons moet nou tyd met mekáár spandeer, punt!

Kamp #3 is die een wat jou en jou familie op soveel vlakke sal toets so, kom ek vertel hierdie kampstorie êffens anders, en dalk is daar iemand wat sy/haar kop skud, glimlag en 110% verstaan.

Soos ek die voertuig pak, maal dit deur my kop: “Wat vergeet ek? Het ons genoeg kos? Het ek genoeg hout vir al 3 dae? Genoeg snacks vir saans…? ”. Die watertenk word volgemaak en dan is dit so… Lian klim die Cruiser in, koponderstebo en vasgevang met iets op sy selfoon. My moermeter is sommer onmiddellik semi-in-die-rooi.

“Sit daai verdomde ding nou neer seun”, sê ek ferm dog rustig, maar terselfdetyd ook so dat hy verstaan ek kry warm, is reeds natgesweet en nie lus vir koppe wat vasgepen is op fone nie.

Here we go

Tigger ons Cruiser, swaar gelaai, hardloop soos ʼn droom en die naald is steady op 110km/h – Luke Combs se “Days Like These” speel oor die radio (voor jy verder lees, kliek die skakel en luister dit terwyl jy lees)… Ons hond, Mila, se kop is by die venster uit en ek weet sy lewe vir die oomblik! Die seuns stry oor wie die meeste drieë gedruk het die afgelope rugbyseisoen en ek kan aanvoel dinge gaan binnekort skeef draai as daar nie ʼn beslissing tussen hulle twee gaan kom nie, maar ek maak of ek niks hoor nie 😊 – ek voel “content” met die oomblik. 

By Buffelsrivier kom skud Izak van der Vyver (boer en eienaar) blad en verduidelik waar ons moontlik ʼn paar poele water in die droë rivierbed kan kry. Hierdie was ons 3de besoek by Izak-hulle – die eerste keer het ons dit amper nie deur die rivier gemaak nie, so baie water was daar, en die tweede keer was die rivier plek-plek droog, maar hierdie keer was dit ʼn ander storie. Hulle het amper ʼn jaar laas reën gekry, en die rivierloop is droog en die stof hang in die lug.

“Pa, waar is die water? Ek dog die oom het gesê hier is ʼn plek waar ons kan swem?”, vra Lian verbaas. Ek ignoreer (maak of ek nie gehoor het nie) die vraag, want eerlik ek dink die kanse dat ons water gaan kry in die droë wêreld is zero, maar as ek dit nou gaan sê dan gaan die skouers en gemoed moontlik hang so ek besluit – as ek nie die probleem sien nie, dan is daar nie ʼn probleem nie – korrek? 😊.

Ons beweeg al dieper die plaas binne via die rivierloop. Izak het sy wild camping areas in zones opgedeel so hy gee toegang slegs aan een gesin/groep per zone, dus verseker hy dat jy heeltyd die alleenheid kan ervaar. Maar met diè dat ons die enigste mense die volgende twee dae gaan wees kan ons kamp net waar ons wil.

“Water pa!!”, Jean stywe arm na vorentoe en ek sien die blou glans van die stroompie.

“Ja man! Lets go!!!!”, juig Lian van agter en dit is soos ʼn las van my skouers want ek weet die hitte gaan ons trap oor die volgende paar dae, so ʼn swemgat sal erg waardeer word.

Jean vat voor en verduidelik hoe en waar ons moet kamp. Ek skud kop en nog voor Lian kan wegraak (ou trick van die knapie) slaan ons kamp op. Teen diè tyd weet elkeen hoe en waar om te vat. Wanneer dit by kamp opslaan kom is ek nie lus vir hanna-hanna nie, en die seuns weet dit.

Vuur word gepak en soos my gat die stoel raak met ʼn boek in die een hand, kom ons jong geliefde Lian se vrae.

“Pa wat eet ons vanaand? Hoeveel koeldranke is daar vir elk?…” Ek antwoord elke vraag so sorgvuldig en geduldig as wat ek kan en dan kom die tweede golf vrae.

“Jean, kom ons gaan stap!”

“Nee, ek is nie lus nie. Ek gaan chill hier by die vuur”.

Bladsy 1, paragraaf 1… en die boek word neer gesit. “Kom ons gaan verken bietjie manne! Trek skoene aan.”

Terug by ons kamp en die onttrekkingsimptome van zero sein en ander mense/maats is uit die sisteem. Die klein JBL speaker word nadergetrek, nog hout word op die vuur gegooi en dan word daar lekker gesels en gekgeskeer.

Buffelsrivier Camp

Volgende oggend en ons top sekuriteitshond, wat die vorige aand te bang was om sonder ʼn lig tent toe te stap, wil skielik stem dikmaak so die tent moet onmiddellik oopgemaak word en weg is sy, blaffend in ʼn rigting, maar kyk gereeld om om te kyk of sy my nog kan sien – bangste hond wat ek ken… Ai.

Die Jetboil word nadergetrek en gewapen met ʼn koppie koffie trek ek daai boek weer nader.

Bladsy 2 en skielik staan Lian voor my.

“Pa kan ons gaan stap voor Jean wakker word?”. Die boek word weer neer gesit en ons drie gaan verken die res van die rivierloop opsoek na groter swemgate.

Terug by die kamp en Jean is uiteindelik wakker. Lian steek hand op om ontbyt te doen, en my mens dit was ʼn wenner – flapjacks, bacon, piesang en dan stroop daaroor.

Vroegoggend en die wêreld raak sommer klaar lekker warm hier om ons. Ons gaan by ʼn swemgat moet kom, anders gaan dit ʼn lang, lang dag in die son wees. Die awning op die Cruiser word toegetrek en Lian het aangedring hy is eerste agter die stuur. Ek het aanvanklik verduidelik ons weet nie hoe die pad deur die rivierloop gaan wees nie, so laat Jean eerste ry en dan kan hy terug ry, maar nee – daai 11 jarige het ʼn wil van sy eie en ek is nie lus vir ʼn gesukkel 11 uur die oggend nie.

Dit begin aanvanklik goed, maar sodra ons oor growwe terrein gaan, sukkel die knaap met sy spoed en dit is ʼn ruk en pluk storie. Ek gee advies en verduidelik hoe en wat, slow is good, fast is bad want jy kan die drivetrain skade aandoen en dan het ons ʼn ander storie op ons hande hier in die veld.

Die wêreld is warm en die veld bitter dor. Almal is al uit hul hemde en die voertuig se aircon werk net wanneer hy wil. Kinders vra nie meer of ek weet of daar nog swempoele is nie, want teen die tyd besef hulle ook hoe droog die wêreld tans is. My kop begin met my ronddonner want hierdie kan seker nie lekker wees vir ʼn 11 jarige en ‘n tiener nie. Vra nou enige kind en dit is maats, tech of sport. Wie is lus om in die Moordernaarskaroo saam slegs hul pa tyd te spandeer in die verdomde hitte??  

Skielik is daar ʼn lekker tune op ons playlist en Lian breek die stilte, “Sit daar harder julle, hierdie is ʼn mal cool liedjie!”.

Eers begin die koppe ritme kry, dan die skouers en kort voor lank word daar sit-sit gedans en saamgesing in die Cruiser.

“NOU TOER ONS MANNE!”, laat loop Jean so tussen die gesingery.

Skielik is die kop weer skoon en ek herinner myself: Dit is hoekom ons hier is. Soos ek afsak in een van die sytakke van die rivier sien ek hoër op, onderaan die voet van ʼn kloof, ʼn lekker swemgat.

Ek druk die voertuig se gat tot teen die water, maak die awning oop en haal yskoue koeldranke vir ons uit. Groen alge of nie, daar word geswem en sommer ook die tyd gebruik om bietjie seep op die lywe te kry.

Mila is soos ʼn vis in die water en ek weet ons gaan sukkel om daai hond uit die water te kry. Meer kommerwekkend, ons gaan hierdie NAT hond in die Cruiser moet laai. Ek stel voor ons stop by nog ʼn watergat wat ons gesien het oppad, so kry die hond en laat ons aanstoot manne.

Met ʼn gesukkel is 3 nat lywe en ʼn super opgewonde nat Golden Retriever in. Soos die deure toeslaan, maak Mila natuurlik van die geleentheid gebruik om te skud en siedaar! Alles en almal lyk of ons Pampoentjies het met al die modderspatsels. Die voertuig binne lyk soos ʼn kunswerk van chaos. Almal bars uit van die lag en ek kan nie help om aan my oorlede pa te dink en wat hy oor hierdie episode sou sê nie!

By die volgende swemgat (kleiner as die vorige een) word die speaker uitgehaal, modder word afgewas en later is ons sonder ons broeke en daar word gedans/ge-boogie soos DJ Lian musiek kies op die playlist.

Uiteindelik terug by ons kamp en almal is semi-poegaai… Ons trek die stretchers en matrasse uit die tent tot onder die awning en kort voor lank is ons al 4 uitgepass.

Laatmiddag kry die vuur lewe, musiek (Country – niks doef-doef goed nie) word liggies aangesit en Jean begin alles regtrek vir ʼn nuwe gereg wat ons gaan aanpak. ʼn Vriendin het die resep met my gedeel en ek het net geweet hierdie trippie is die regte tyd om dit aan te pak, so toe ek dit met Jean deel het hy gevra of hy dit vir ons manne kan maak. Net een woord – WOW!

Na ete word die dag herleef om die vuur en daar word weer gelag vir almal se nuwe dans moves langs die swemgat. Later word daar water gekook vir hot chocolate en cappuccino en dan word die 3 stoele nadergetrek by die gat van die Cruiser waar Jean sy foon teen die laaistelsel laat rus – dit is movie tyd.

Buffelsrivier Camp

Die volgende oggend is dit ek en Mila weer eerste uit die tent. Diè keer doen ek alles stiller. ‘n Koppie koffie en weer die verdomde boek. Here we go baby!

Bladsy 3 en daar hoor ek die tent se zip. Ek wil begin hardop lag, maar ek weet dit gaan net ʼn stel vrae ontketen…

“Môre pappa. Kan ek vir pa koffie maak?”. My hart raak sag. Hoe een sinnetjie alles in die wêreld kan laat stilstaan, nè?

“Moenie worry nie seun. Kom sit en ek maak vir jou hot chocolate. Slaap jou broer nog?”, maar nog voor hy kan antwoord kom daar skielik lewe uit die tent en natuurlik sal ʼn tiener nie ʼn geleentheid mis as hul nie iets self hoef te doen nie.

Ek besluit ek sal aan die stuur van ontbyt wees sodat daar gerus kan word voor ons die oppak proses moet begin.

Opslaan van die kamp is moeiteloos. Ons is oppad na die hoofkamp vir ʼn lekker warm shower voor ons aanstoot na ons volgende bestemming, maar daar heers stilte in die voertuig en elkeen is besig met sy eie gedagtes.

Izak bederf die manne elkeen met ʼn pet voor daar bladgeskud word en dan is ons 4 weer aan die beweeg.

My kop dwaal weg weer na my oorlede pa en ʼn dankbaarheid oorval my. Wat ʼn ongelooflik voorreg is dit nie om ʼn pa te wees nie, maar meer belangrik, dat ek die voorreg gehad het om ʼn awesome YSTER van ʼn pa te gehad het. Dankie pa!

Aan my twee seuns, Jean en Lian: Lief vir julle!

Volgende stop, Middelstevlei, nog dieper die Moordenaarskaroo in.

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Buffelsrivier.

Related Posts

Comments (1)

[…] 0   By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie October 23, […]

Leave a comment