Met die dat 2018 nie begin het soos ek gehoop het nie (eers Waterpokkies en toe die afsterwe van een van my kollegas), wou ek so gou moontlik weer aan die beweeg kom.
Met “beweeg” bedoel ek dat ek daar buite in die wêreld moet wees en goed gaan beleef en verken.
Met die dat Lian saam met ouma & oupa Vrystaat toe is, vir ʼn week, om vir sy oumagrootjie te gaan kuier, het ek gedink dit is tyd dat ek en Jean bietjie in die pad val Weskus toe.
Marli het ook van die geleentheid gebruik gemaak om al daai lekker dames afsprake (hare, naels, inkopies, wyn saam met vriendinne…) wat maar altyd ʼn effense gesukkel is met die jong knape na te kom.
Vrydagmiddag 1pm en Jean kan nie gou genoeg uit sy skoolklere kom nie. Laaste inkopies word gou gedoen voor ons vir Marli gaan groet by die werk (Star South). Alhoewel sy hartseer was om ons te sien gaan, het ek geweet sy het so naweek op haar eie nodig sonder ons 3 seuns (ok 2 seuns en 1 wat act soos ʼn seun…ek).
By Malmesbury klim ons op die N7 vir so 3km voor ons links draai op die R45.
Die pad is stil en Jean se opwinding het oorgespoel in sy verduideliking van ʼn kaskar wat hy graag wil bou. Toe ons Hopefield tref en die knapie nogsteeds van die kaskar praat het ek besef dit is tyd vir ʼn pitstop.
Paar km buite Hopefield glip ons by die Plaasmol & Route 45 Pub in vir ʼn koffie (ek) en Coke (Jean). Die geselsies van die kaskar het stil geword…puik.
Uiteindelik in Paternoster en links by die 4 rigting kom die smokkelaars krewe in die hande op ons afgepyl. Die een reken hy gaan ʼn 2 ton Cruiser skuif met sy kreef in sy hand en hardloop homself des-moers teen my spieëltjie. My moer meter is sommer skielik in die rooi. Soos ek uit klim maak ek my reg om die knaap met sy krewe te foeter.
Met ta op sy rug kon hy sien daar is nie veel bekommernisse in my oë rakende sy klein ligte ontmoeting met my voertuig nie en besluit dit is beter om ʼn toon te klap en te wag vir die volgende toeris.
By Cape Columbine Natuur Reservaat glip ons verby die Seekombuis Restaurant op pad Tietiesbaai toe. By die vurk draai ons regs en dan +/- 800m verder kom Sea Shack te voorskyn.
Was jare terug by dieselfde plek toe dit nog die Beach Camp was, maar dinge het baie verander met die nuwe eienaars. Die tente is verruil met 10 hout huisies, of shacks soos hulle dit noem. Elk het ʼn ongelooflike uitsig oor die see en alhoewel daar nie veel meer as ʼn bed en skoon beddegoed is nie, is daar niks meer wat jy nodig het nie.
Ek en Jean het ge-opt vir die tent opsie, of so het ons gedink toe ons bespreek het, maar die 3 x tente waarvan hul praat is ook gemaklike hout huisies in die vorm van ʼn tent met twee stretchers in elk. Hierdie is ʼn ander tipe kamp waaraan ons nie gewoond was nie, maar dit het ons glad nie gepla nie.
Die gemeenskaplike area is volledig toegerus met enige iets wat jy nodig het vir ʼn naweek weg van die huis. Jy moet net jou eie kos & drankies bring.
Beide is effe gatlam van die week en ons besluit om liewers die area om ons te verken en saam met die ander gaste om die vuur te kuier.
Saterdagoggend en meeste gaste is al vroeg op gewapen met koffie in die hand om nie die sonsopgang te mis nie.
Na ontbyt word daai “straight six” wakker gemaak en ons is die reservaat dieper in oppad Tietiesbaai toe.
My oorspronklike plan vir die naweek was dat ons by Tietiesbaai moes kamp, maar na al die negatiewe kommentaar oor veiligheid het ek besluit om dit liewers ʼn ander keer aan te pak as die vriende saam gaan. Wil nie kanse vat met my seun by my nie.
Na Tietiesbaai is die volgende stop die bekende Panty Bar by die hotel. Toe ons die bar in stap het daai seun van my hom bloedrooi geskaam toe hy sien waar die bar sy naam vandaan kry. Ontmoet ʼn local en gesels lekker oor die omgewing.
Na ʼn koue bier (x 1 natuurlik) gaan verken ons die Mosselbank area voor ons weer terugkeer reservaat toe.
By die hek draai ons onmiddellik regs by die Seekombuis restaurant in. Plek het nou nie van die beste reviews op Google nie, maar ons twee het ʼn great tyd daar gehad. Kos was puik en vir ʼn beter uitsig kan jy nie vra nie.
Laat middag en ons was weer terug by die Sea Shack betyds om vuur aan te steek en saam met die ander gaste te kuier. Altyd lekker om saam met nuwe mense te kuier en hul stories te hoor. Selfs Jean het ʼn maaitjie gemaak.
Sondagoggend en ons is vroeg uit die vere. Gaste word gegroet en ons is weer in die pad. Geniet ontbyt by die Skatkis Restuarant en kyk hoe die visserbote die see in verdwyn.
By Vredenburg draai ons links op die R399 Velddrif se rigting in – die tuiste van Bokkoms en natuurlik waar my niggie Elsabe woon.
Laas toe ons mekaar gesien het, was die omstandighede maar hartseer (afsterwe van my ma) so dit was lekker om bietjie by haar in haar tuisdorp te kuier. Terwyl Jean & Janus vas genael lê voor die Play Station gaan wys sy my die dorp bietjie. By Bokkomlaan kry ek die groot rede (Bokkoms) hoekom ek die draai gery het. Jean se eerste bekendstelling met Bokkoms is ʼn storie vir ʼn ander dag. Ek kan maar net lag haha.
Die dag het water begin trek en Marli het seker al begin wonder waar ons is.
Terug oor die brug draai ons links en volg die pad al langs die Berg Rivier tot by Hopefield. Van hier is dit slegs 100km en ons is terug by die huis.
Alhoewel ek dit baie geniet om saam met die hele familie te reis bly dit maar spesiaal om so af en toe alleen met die seuns weg te breek. Op sulke naweke waar ma nie saam is nie, is bad & tandeborsel opsionele aktiwiteite en word soms…99%…vergeet om te doen.
Tot die volgende keer.
Kliek hier vir meer foto’s van die naweek.
Hi Henry, dit is goed om te sien jou ondervinding by Sea Shack was goed an die naweek in ons omgewing ‘n genot.
Dankie dat jy Sea Shack gekies en ondervind het, hoop julle maak weer so.
Groete,
Frank.
Span Sea Shack.
Dankie Frank – was puik gewees.
Is jammer tietiesbaai het so verval, toe ons verlede jaar daar gaan kamp het, het ons maar ‘n nagwag ingekry van Vredenburg. Dan slaap ‘n man beter. Laat weet as jul weer wil gaan kamp daar en paar bemanningslede soek, ek gaan graag soontoe.
Actually hartseer dat dit daai reputasie gekry het. Lyk na ‘n fantastiese plek om te kamp so langs die see.
Sal so maak haha
Lekker ouboet; klink of jy en Jean ‘n great trip gehad het!!