Skip to main content Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Karoo Poison en hul lekker mense

Karoo Poison

Terwyl ek sinnelose tyd een middag op Instagram spandeer, verskyn daar ‘n post van ʼn Karoo Poison MTB resies by Leeuwenboschfontein Gaste Plaas. Skielik onthou ek van ʼn vriend wat hierdie einste resies al gedoen het en, volgens hom, was dit ʼn fees!

Ons kom nou net uit ʼn lang skolerugby seisoen en my siel smag na oop vlaktes en die bos. Met die dat ons 3 manne nog net 1 keer die jaar op ons fietse was en meer belangrik, dat Lian nog net 11 jaar oud is, skryf ek ons toe in vir die Karoo Poison 28km MTB resies.

Twee naweke voor ons vertrek, gooi Lian ons met ʼn “curveball” en breek hy sy arm in sy voorlaaste rugbywedstryd vir die jaar. Jean dink vir ʼn oomblik dat Pa gaan die resies kanselleer en ek kan sien hoe ʼn sug van verligting oor sy siel beweeg, maar ek knip dit sommer gou kort en bevestig net weer dat ons manne definitief gaan 28km fietrsy… Lian sien ʼn geleentheid en speel die emosionele kaart: hy wil nie alleen by die byeenkoms wees as ons op die pad is nie, so ‘n vinnige oproep later en een van sy klasmaats, Estian Nortje, is in die pakkie.

Daar heers groot opwinding soos ons op die grondpad klim en kort voor lank stop ons by Leeuwenboschfontein Gaste Plaas waar ons moet registreer. Lian en Estian kyk met groot oë na die damme en ek moet net keer anders is hulle in die damme en kom ons nie hier weg nie.

So paar km verder draai ons in by Drie Kuilen Natuur Reservaat wat ons tuiste vir die volgende twee dae sou wees. Ek en Jean slaan kamp op, terwyl die jongspan die dam (langs ons kamp) pak met visstokke.

Camping @ Drie Kuilen

Ons slaan die dag op sy gat met lekker geselsies en lag om die vuur.

My mens, ons het daai aand so koud gekry ek kon my tande hoor klap… Toe daai wekker die volgende oggend afgaan, was ek net te bly om uit daai ysblok te klim. Selfs die jongspan het maar grof gelyk toe hulle uit hul tent, wat wit geryp was, geklim het.

Camping @ Drie Kuilen

Na ʼn vinnige koffie en beskuit is dit reguit Leeuwenboschfontein toe waar al die dag se aktiwiteite sou plaasvind. Lian en Estian het soos weerlig verdwyn toe ons daar stop, terwyl ek en Jean dadelik gaan aansluit het by die paar manne wat die Australië vs. Argentinië toets gekyk het.  

Die 28km MTB groep het laaste weggespring en die aanvanklike plan was dat ek ʼn afstand gesoek het wat Lian saam met ons kon doen, maar soos geluk dit wou hê kon hy nie eers deel neem nie. Jean, aan die ander kant, het ʼn tawwe rugbyseisoen agter die rug, so ons fiksheid is nou nie “on par” nie… Voor ons wegspring maak ek dit duidelik dat ons nie ry vir ʼn wen of medaljes nie en, mees belangrik, hy los nie sy pa agter nie – PUNT!

Êrens is daar mos ʼn reël oor so iets, korrek?

Daar is geen tegniese gedeelte in die roete nie en dit bestaan meestal uit grondpaaie. Die gees onder die deelnemers was vrolik en by die waterpunte was daar eers lekker gesels voor daar verder gery word.

By ons (28km deelnemers) omdraaipunt, maak Jean die somme dat, as ons ophou hanna-hanna en bietjie trap, dan kan ons nog ʼn gedeelte van die Springbokke vs New Zeeland kyk.

Soos ons Leeuwenboschfontein inkom gewaar ek twee kinders op ons regterkant ook inhardloop, maar hulle is gepeper met verskillende kleure verf en toe ek mooi kyk, sien ek dit is Lian en Estian wat besluit het om die 2km “colour run” te doen en siedaar! Daar eindig ons 4 manne saam by die eindstreep!

Karoo Poison MTB

Na die teleurstellende resultaat van die Bokke wedstryd ontspan ons manne by die feestent en kry later die geleentheid om bietjie met Louise, een van die organiseerders, te gesels oor hulle byeenkoms en die herkoms/rede/waarom van die Karoo Poison.

Die Karoo Poison is meestal ʼn fondsinsamelingspoging vir ʼn klein skooltjie, Laerskool Koo, in die vallei. Met slegs 2 onderwysers en 35 kinders, is dit ʼn geval dat ieder en elk, jonk en oud, inspring en help met die dag se reëlings.

Lian en Estian het natuurlik ʼn fees van ʼn tyd gehad en mens het hulle net gesien as hulle nog sakgeld soek. Ek het later nie eers meer gevra waarvoor dit is nie; dit was beter so.

Toe die knape later by ons aansluit en hulle is papnat, het ek geweet dit is ons teken om terug te beweeg kamp toe, anders gaan hulle verkleim sodra die son se laaste strale terugtrek.

Karooi Poison MTB

Terug by ons kamp en almal hardloop deur ʼn warm shower voor daar vuur gemaak word. Die dag se stories word herlewe en toe dit bedtyd is, maak ons seker ons het amper al ons klere aan! 😊

Aan my twee seuns, Jean en Lian: die eerste van vele! Ons plek by Leeuwenboschfontein is reeds bespreek vir volgende jaar se resies, so dan pak ek en Jean die 55km roete, en Lian jy doen die 28km roete! Stian, as en wanneer jy hierdie ook al lees: was lekker om jou saam met ons te hê en jy is altyd welkom ons saam te reis.

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier saam met die lekker mense van Karoo Poison.

Ready, set here we go!

Related Posts

Leave a comment