Skip to main content Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Wupperthal se onbekende valleie

bb

Dis Vrydagmiddag en skoolsakke word net neergegooi en dan druk ons die Cruiser se neus by die hek uit. Ons manne is genooi om saam met Jurgens Schoeman en ʼn paar vriende van Live The Journey te gaan kuier in die “Jewel of the Cederberg”, Wupperthal.

Wupperthal is ʼn klein sendingdorpie in die Cederberge wat bekend is vir sy afgesonderde ligging, unieke kultuur en rol as die tuiste van Rooibostee. Die dorpie is bereikbaar via ‘n grondpad vanaf Clanwilliam, wat aan die einde van die Kouebergpas geleë is, of van Ceres via die Kouebokkeveld en dan Eselbank, wat ook 1 van die 14 gemeenskappe is in die Wupperthal omgewing.

Daar is ook twee roetes van die Tankwa Karoo tot in die Biedouw Vallei. Die een kruis die Doringrivier naby Enjo Nature Farm en die ander een is via die ou Posroete (ek vermoed hierdie roete is nie meer toeganklik nie).

Live The Journey bied twee staproetes, die Wupperthal66 en Wupperthal100, in die omgewing aan en ons manne het ‘n uitnodiging ontvang om by 3 van die stap roetes se oornagplekke te gaan kamp en ‘n voorsmakie te kry van die stappers se ervaring.

Camping in the Wupperthal district

ʼn Paar interessante feite rakende Wupperthal :

  • Daar is 14 gemeenskappe/buiteposte, waarvan Wupperthal en Eselbank die twee bekendstes is.
  • Die plaas is 38,000 hektaar groot en word besit deur die Morawiese Kerk. Slegs 7% van die bergagtige grond kan vir Landboudoeleindes, meestal Rooibostee verbouiing, gebruik word.
  • Daar word beraam dat daar +/- 2,500 inwoners tussen die 14 buiteposte woon.
  • Daar is geen polisiemag wat wet en orde handhaaf nie, maar wel ʼn demokraties gekose beheerliggaam wat as die Opsienersraad bekend staan. Elke inwoner is verplig om haar/hom ordelik te gedra en van onsedelikheid, dronkenskap, vloek, laster, bygeloof, towery, en ander aanstootlike gedrag te weerhou.
Camping in the Wupperthal district

Ek het nog altyd die hunkering gehad om nuwe plekke te ontdek, so jy sien my baie min twee keer by dieselfde plek. Nog meer belangrik is dat ek nie langer as twee dae by dieselfde plek kan kamp of bly nie – my voete jeuk net te veel 😊.

Elkeen van die 3 aande op die 38,000 hektaar het sy eie bekoring en iets uniek gehad. Saans is daar lekker om die vuur gekuier en het ons die wêreld se probleme, soos altyd, probeer oplos. Die seeuns het hulle gate uit geniet en lekker gelag vir al die manne se stories en dit was lekker om te sien hoe die knape hulle gedra in ʼn geselskap waar daar nie ander kinders was nie.

Camping in the Wupperthal district

Nog ʼn hoogtepunt was die 4×4 roete teen “Johnny se Poort” uit en wat ʼn belewenis was dit nou nie vir ons 3 manne in die Cruiser nie!

ʼn Hoogtepunt was middagete op die rant van ʼn krans wat uitkyk oor een van die buiteposte, met die Tankwa Karoo in die verte terwyl daar aan een van Calitzdorp se beste uitvoere, port, geteug word… Absoluut ‘priceless’!

Camping in the Wupperthal district

Die 3 dae in die vallei het my so aangegryp dat ek besluit het ek moet een van die roetes kom stap. Dus pak ek in September die 66km aan saam met ander gaste van Live The Journey. As jy belangstel om saam te stap, of as jy meer oor hierdie staproete wil weet, besoek gerus hul webtuiste hier vir meer info of kontak my gerus persoonlik.

Alhoewel hierdie kampe tans slegs vir stappers beskikbaar is, word daar hard gewerskaf om dit ook beskikbaar te stel aan 4×4 liefhebbers in die nabye toekoms.

Camping in the Wupperthal district

Aan my twee seuns, Jean en Lian: julle het my emosioneel karnuffel en geboelie om te gaan swem en ek het amper gesterf van die koue. Dit is net nie reg om in die winter te swem nie, en manne, ek sal daai onthou… Glo my, ek gaan julle terugkry!! 😊

En dan laastens aan die manne wat dit voorwaarlik ‘n onvergeetlike naweek gemaak het: Jurgens Schoeman, Fanie Schoeman, Robert Pinkhard en Louwrens (Padda) van Schalkwyk. Baie dankie, ons maak gou weer so!

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die mooi distrik.

Camping in the Wupperthal district

Related Posts

Comments (1)

[…] al gehoor het van die kleurvolle gemeenskap, Wupperthal, in die Cederberge… Soos per ons besoek vroeër hierdie jaar, het ek ʼn gedeelte van die area en gemeenskap ontdek wat ek dink die man op die straat nie van […]

Leave a comment