Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Solo kamp op die Maan

Blog Main Image Template

Dit was weer tyd vir ‘n solo kamp met my twee gunsteling mense (my seuns) en nadat ek die fotos van Anton Trollip op Facebook sien van sy kamp by Moon River Bush Camp het ek geweet dit is ʼn plekkie wat ek alleen met my seuns wil gaan verken en beleef.

Laaste paar wegbreke was saam met vriende en alhoewel ek die reise en naweek wegbreke saam met vriende baie geniet, is dit vir my ook belangrik om met my seuns alleen tyd in die natuur te spandeer.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Vrydagmiddag en soos ons verby die Tulbagh afdraai ry op die R46 lê die donker wolke swaar op die Winterhoekberge voor ons en ek kan sien Jean (wat voor saam met my sit) dink presies waaraan ek dink: dat hierdie een nat, koue naweek gaan wees. Kom wat wil hierdie kamp gaan voort – ons het genoeg van alles so as die weer sy dinges op ons draai dan maak ons die beste van die saak.

Bo aan die Gydo Pas en die prentjie lyk heel anders. ʼn Paar wolke wil-wil hul verskyning maak, maar die Koue Bokkeveld slaan jou plat met sy mooi skakerings van rooi en oranje blare/bome en ek moet sê dit is een van die mooiste gedeeltes waardeur ek in ʼn lang ruk gery het in Herfs.

By Op-Die-Berg draai ons regs en volg die tweespoorpad totdat dit na so +/- 15km verander na grond. Hier zero ons die odometer en na so +/-14km draai ons links net na die Eucalyptus woud aan linkerkant.

Aan die einde van ʼn kort kronkelpaadjie ontmoet ek Veronica en haar man by hul huis wat uitkyk oor die berge. Met ʼn gespook kry ek die klonge, wat teen die tyd die koppies al in gevlieg het, terug in die Cruiser en dan is dit reguit na ons kamp, Sugarbush, waar ons vir twee aande sou kamp.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Ek kry ʼn lekker plekkie langs die uitgespoelde rivier en vinnig word daar kamp opgeslaan. Die seuns is natuurlik in volle verkenner – stadium en terwyl hul die rivier poele gaan ontdek word ‘n vuur aangestuur. Vanaand hou ons dit eenvoudig met net burgers op die kole.

Jean trek die kort lootjie en hy is op rooster diens terwyl Lian die buns en bykosse regkry. Die donker wolke wat ons effe bekommerd gehad het voor Ceres is nêrens te sien nie en ons is geseënd met ʼn wolk- en windlose aand om die vuur. Lian, soos altyd, is Mnr. Grapjas en die knapie vermaak ons so dat Jean ‘n paar keer van sy stoel afval soos hy lag.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Volgende oggend en die Koue Bokkeveld is lekker koud. Daar is geen haas om uit die tent te vlieg nie. Uiteindelik aan die beweeg, toast Jean vir ons ʼn paar buns op die kole terwyl Lian voor die pan besig is om roereiers te kook.

Die omgewing om ons skreeu om verken te word en die knape is lus om die koppies in te gaan. Ek identifiseer een van die koppies en die aanvanklike terugvoer van die twee was iets soos: “ag pa dit is dan nie so hoog nie”. Maar (en daar is mos maar altyd ʼn ‘maar’), halfpad op, toe is die grootpraatjies iets van die verlede en elke 5 minute wil daar geweet word of ons al bo is.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Terug by ons kamp en die seuns is soos honde met ʼn tennisbal – daar word net nie stil gesit vir ʼn paar minute nie en nou moet die rivierpoele verken gaan word.

Dit is ʼn mooi sonskyn Herfs dag, maar dit is ʼn mooi sonskyn Herfs dag in die Koue Bokkeveld so dit moet vir jou iets sê, maar nee daar moet geswem word. Soos die seuns die water tref, so vinnig vlieg hul daar uit. Twee stelle oë kyk vir my aandagtig en wag, want dit is nou my beurt.

My asem slaan weg, maar ek hou my houding en gebruik die geleentheid om die seuns te forseer om tande te borsel.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Laatmiddag en daar word besluit om vuur sommer in die sand te maak. Vanaand is dit ʼn manne pot op die vuur – vleis, aartappels en pampoen. Die groen items is by die huis (opsetlik) vergeet.

Soos seuns maar is, word daar heeltyd met die vuur gespeel en ek hou maar ogie soos ek aan my bier teug langs die vuur.

Vanaand is effe kouer as die vorige aand, en na aandete probeer ek die seuns skoon kry in die rivierstroompie voor ons kamp, maar dit is maar ʼn gesukkel want die water is yskoud. Pakkie koekies en lekker warm komberse en dan maak ons reg vir ʼn movie op Jean se iPad.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Sondagoggend en my wekker gaan 6am af. Vandag is Moedersdag so ons moet so gou moontlik terug in Wellington wees. Alles is nat gedou buite en die seuns kom die tent met ʼn gesukkel uit, wat heel verstaanbaar is.

Lian is reguit in die Cruiser nadat hy aangetrek het en Jean is op die dak besig om my te help om die nat daktent op te slaan. Alles is nat en met die dat ons op ʼn sand hoop staan kleef die sand mos nou aan alles wat nat is.

Ons vorder goed en die einde is in sig. Soos ek die twee daktent straps vir Jean gee om oor te trek trap ek per ongeluk die linker-agterwiel se valve morsaf.

“Wat het nou gebeur pa?”, kom Jean se woorde van bo die dakrak. Sy handjies is rooi van die koue en ek kan so effens via sy kopliggie sien hy lyk bekommerd.

Ek verduidelik wat ek gedoen het, maar daar moet nie bekommer wees nie – ons ry mos met twee spaarwiele so ons moet net dit gou vervang. Om eerlik te wees, is dit die laaste ding wat ek wou gedoen het in die donker en koue, maar hierdie wiel gaan nie vanself geruil word nie.

Nuwe wiel is op, en die pap ene is vas gemaak op die swingarm. Terug in Tigger en orals is daar hi-5’s en opwinding en daar word lekker gelag oor hoe ons oggend toe uitgedraai het.

Die son se strale wil-wil uitkom en die mis hang vlak deur die vallei, wat ʼn ongelooflike prentjie voor ons skets. Kort voor lank en ons is terug op die teerpad en dan is dit reguit huis toe.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Aan my twee seuns, Jean en Lian: die geselsies en grappies saans in die tent was definitief die hoogte punt van die naweek gewees. Jean, jy was ʼn regte “trooper” gewees Sondagoggend en ek weet jou handjies het gevoel of dit afvries toe ons die nat daktent moes opslaan. Maar nie een keer het jy gekla of net opgegee nie. Selfs toe ons die wiel in die donker moes ruil het jy ingespring sonder dat ek moes vra. Baie trots op jou my seun.

Wat ʼn top naweek saam met my seuns. Tot ʼn volgende keer.

Kliek hier vir paar foto’s en video grepe van die toer.

Solo camp @ Moon River Bush Camp

Related Posts

Comments (5)

Dis goud wat jy met jou klonge doen, dis om te belê in hulle manwees. Mens trap partykeer die valve af en in daai oomblik is jy krapperig, maar dit leer mens altyd iets en later gee dit jou ‘n lekker storie om te vertel. Jean, jy is ‘n yster. Dit vat ‘n man om nie te kla as dit taai en koud is nie. Ek is ook sommer lus vir kamp, moet net eers weer bietjie warmer word! Geniet dit manne!

Dankie mater. Gisteraand na stiltetyd toe lees ek jou kommentaar vir die jong man, en dié kry sommer ‘n groot smile. Baie waar wat jy sê – alhoewel dit regtig ʼn top naweek was, is daai klein onbeplande voorvalletjie al waaroor ons so lekker gelag het die Sondag.

Ek het al kamp opgeslaan in koue nat weer en dit is nie pret nie. Jou hande raak dom en om dan die einde aan die tonnel te sien, net om dit skielik voor jou oë toe te maak is ʼn klein sielbreker’tjie.

Dit gesê het my seun my op daai oomblik iets spesiaal geleer ou Steyntjie – gewoonlik sal mens skielik net krapperig & dalk selfs semi moedeloos raak want hoekom, waarom…al daai normale menslike sinnelose goed, maar op daai oomblik wat ek die valve aftrap kyk ek op en ons oë connect en dit is snaaks om te verduidelik, maar ek kry toe ʼn kalmte oor my.

Snaaks hoe so ʼn simpel geleentheid so spesiaal was – of altans vir my haha

[…] 0   By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende June 9, […]

Dit klink omtrent na n avontuur.

Dankie vir die inloer Gavin. Regtig ‘n lekker plekkie, en hoe kan seuns dit nou nie geniet met al daai ooptes en koppies nie 🙂

Leave a comment