Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Victoria Watervalle, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Botswana

Ons twee weke lange reis van Hentiesbaai na Kasane was voorwaarlik ʼn belewenis, maar die tyd het nader gestaan dat ek en Jacques die bakkie se neus Suide toe moet draai. Ons vriende van Wellington, Jurgens en Karien Schoeman, het intussen by ons groep aangesluit en hulle gaan vir die volgende twee weke verder saam met ons groep reis deur Zimbabwe.

Synde dat dit ons laaste dag by Chobe Safari Lodge is, besluit ons om van die geleentheid gebruik te maak om die tuiste van “the smoke that thunders”, ook bekend as die Victoria Watervalle, te gaan besoek in Zimbabwe.

Sentraal- en suidelike Afrika het die afgelope ruk so baie reën gehad dat die Zambezi in sy volle glorie was. ‘n Absoluut onvergeetlike ervaring!

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Die volgende oggend word daar gegroet en dan is ons twee manne weer aan die beweeg. Die vorige dag reik ek uit na Braam Oosthuizen, wat Botswana soos die palm van sy hand ken, en kort voor lank is ons gewapen met ʼn paar waypoints wat ons moet gaan verken.

Ons reis Suid op die A33 via Pandamatenga tot by die 1ste waypoint wat Braam vir ons gegee het: ʼn kaplyn wat Oos hardloop, reguit Zimbabwe toe. Terwyl ons bande afblaas wys Jacques die katspore in die sand vir ons… Pappie, hier gaan ons koppe op ʼn “swivel” moet wees! 

Ons volg die sand twee spoor pad tot ons vasry in die bekende Hunters Road. Ek het al so baie foto’s en video’s van manne gesien wat hierdie roete aangepak het, en dit was lekker om dit self nou te beleef.

By ons 2de waypoint, Leadwood Pan, word middagete onder ʼn groot boom geniet. Terwyl ek aan my koffie teug dink ek aan Braam se voorstel dat, as ons braaf genoeg is, kan ons in die pan swem, maar die katspore wat ons so paar kilometer terug gekry het, lê nog vars in my gedagte so ons skiep maar toe daai voorstel! 😊

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Ons reis in ʼn Suidelike rigting al langs die Zimbabwe grens tot by ons volgende waypoint, waar ons regs draai op ʼn dik sanderige tweespoor pad. Die pad kronkel deur die bos tot jy by Domtshetshu Pan kom, waar ons vanaand gaan kamp.

Terwyl ons die 1ste bier knak om die dag te vier, verras twee olifante ons by die watergat. Wat ʼn voorreg om hulle so in hul natuurlike habitat te sien!

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Die volgende oggend is ons weer vroeg aan die beweeg. ʼn Nuwe dag het vir ons voorgelê met nuwe paaie om te verken! Vandag het ons geen waypoints wat ons gaan soek nie, so ons gaan dit “wing” soos ons ry.

Ons volg die sanderige tweespoor pad verder Wes tot ons weer by die A33 aansluit.

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

So paar kilometer verder kom ons af op ʼn grusame ongeluk – ʼn vragmotor het, seker gedurende die aand, twee olifante getref. Beide olifante lê langs die pad dood. Die situasie voel amper onwerklik, maar dit wys net weereens die inherente gevare uit daaraan verbonde om in die nag in Afrika te ry…

Ons stop by Elephant Sands waar ons ontbyt geniet en dan skiet ons vir Nata waar die bakkie volgemaak word, en dan draai ons Wes op die A3. Die pad is plek-plek gruwelik sleg en daar word meer langs die pad as op die pad gery.

Die vorige aand om die vuur het ons bespiegel dat ons wil kyk of ons by Kubu Eiland kan uitkom, waarna ons gaan mik vir Khama Rhino Sanctuary, maar na ʼn vinnige besoek by Planet Boabab het ons bevestiging gekry dat die panne onder water is, rdus kort ons ʼn ander plan.

Ons Tracks4Africa kaart word uitgehaal en die eerste ding wat uitspring is die Makgadikgadi Nationale Park, Wes van Kubu Eiland. Ek onthou skielik dat Braam genoem het dat, as ons kan, moet ons ʼn aand of twee by Khumaga Wildlife Camp probeer kamp. So ‘n paar kilometer Wes van Gweta gaan ons die park binne by die Makolwane hek. Die eerste ding wat ek opmerk is hoe vervalle die ingang van die park is.

Die park was, sovêr die oog kon sien, toe onder gras.

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Middagete word geniet by een van die kampe in die park (Tree Island) en dan stoot ons aan tot by Khumaga.

Na die nodige admin takies kry die vuur lewe en die aand word afgesluit met ʼn paar vuil Cokes.

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Die volgende oggend ry ons nog ʼn laaste draai deur die park na die seekoei gat in die Boteti Rivier waar daar koffie en beskuit geniet word.

Deur die rivier volg ons die teerpad tot ons weer by die A3 kom, en dan draai ons links Namibië toe.

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Ons kruis die Namibië grens, vir ʼn 3de keer in bietjie meer as 3 weke se tyd, by die Buitepos grenspos. By Gobabis besluit ons om die dag op sy gat te slaan en gaan skop ons skoene uit by Coba Lodge.

Die volgende oggend reis ons verder Suid. Die Ooste van Namibië, nes die Weste, is toe onder die groen gras en ons verstaar ons aan die mooi grasvelde. Ons volg al die agterpaaie via Aranos, Koës, Aroab tot by Karasburg. Ons stop by ʼn tannie en oom by ʼn garage in Karasburg om navrae te doen vir ʼn plekkie waar ons kan oornag, maar die tannie skud net haar kop en sê ons moet liewers by Grünau probeer. ʼn Paar oproepe volg, maar alles is reeds vol bespreek by Grünau.

Weer trek ons die Tracks4Africa kaart nader… ʼn Grondpad, die M22, hardloop in ʼn Suid-Westelike rigting vas tot in die B1 en dan is dit net ʼn paar kilometers tot by die grens. Ons wou regtig nog ʼn laaste aand in Namibië kuier, maar die besluit word geneem: ons gaan vir Vioolsdrif stoot en dan êrens ‘n plekkie kry langs die Oranje Rivier.

Jacques se vrou, Carlize, doen so bietjie voorbrand vir ons manne en bespreek vir ons ʼn kampplek en ‘n paar pizzas by Orange River Rafting Lodge. Ons was gelukkig om ‘n plekkie te kry, want, onbekend aan ons, het al die oorde langs die rivier waarskuwing gekry om reg te maak want die Oranje Rivier gaan die volgende dag oor sy walle klim met al die reën wat besig is om af te kom.

Victoria Falls, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Ons vou ons pop-up tente op vir ʼn laaste keer en dan, vir oulaas, kom ons weer aan die beweeg, die keer huis toe – Wellington.

Lees gerus die 1ste gedeelte wat deel vorm van ons maand-lange reis – ‘n Ekspedisie van Hentiesbaai na Kasane

Laastens: Jacques, dit was lekker om te sien hoe jy daai pop-up tent elke oggend en aand baasgeraak het. Hier in die begin het ek darem lekker gelag, maar na bietjie meer as 3 weke op die pad en SIEDAAR, ʼn pop-up guru! Weereens dankie vir alles ouboet. Dit was ʼn voorreg.

Kliek hier vir ʼn paar foto’s van hierdie ekspedisie. 

Comments (2)

[…] 0    By Henry Jonker Avonture Buitelewe June 13, […]

Jacques Groenewald

Lekkerste is om daardie voertuig in n rigting te vat sonder n vaste bestemming . Die onbekende bly my voorkeur . Was lekker om die kaart elke keer te hervat

Leave a comment