Dit is 04h30 Woensdagoggend en ek kyk vir die wekker soos die minute af tik. Net voor die wekker 04h45 raas druk ek die knoppie dood en ek weet dit is “sulke tyd”. Die opwinding is hoog en dit vat net ʼn ligte skud aan die skouers en die seuns is op en begin al praat van hoe en waar ons gaan ry vir dag 1 van ons Noord-Kaap/Botswana toer.
By die garage voor die Hugenote Tonnel breuk Lourens Hugo se stem oor die VHF radio. Hy en sy seun, Josua, het besluit om die toer saam ons aan te pak en ek het uit gesien om saam die langman & sy seun te toer.
Ons het al paar 1,000 km saam gereis en as jy op ʼn toer gaan, dan wil jy dieselfde “like-minded” mense by jou hê. Ek het al vantevore genoem maar toer & gou ʼn vinnige braaitjie by ʼn maat se huis is twee verskillende wêrelde. Wanneer ʼn toer lank raak, son-wind-reën jou uitdaag, moegheid van heeldag ry en dan nog kamp opslaan en kos maak, kinders wat haak…vrek, die lys gaan aan. Dan is dit baie NB dat die mense saam met wie jy reis raakvatters is en al die goed verstaan. Nou ou Lourens is een van daai knape.
Klaar met die verdomde admin intro’tjies. Kom reis saam met my (Henry), my twee seuns (Jean & Lian) en die Hugo manne (Lourens & Josua) daar van Franschhoek.
Die Oktober skool vakansie is slegs ʼn week lank en toe ek met Lea & Francois van Ultimate Routes gesels het oor opsies na ons buurlande het dit net sin gemaak om die seuns ‘n paar dae vroeër uit die skool te haal.
Elke keer as ek na die kaart kyk was daar so groot groen gedeelte in die middel van Botswana wat my bly fassineer het – CKGR (Central Kalahari Game Reserve). Lea stel voor ons kyk na die suide van CKGR heel onder van die groot groen gedeelte, as jy op ʼn kaart kyk, sal jy so klein stukkie sien wat uitsteek – Khutse Game Reserve.
Ek stem in, en Lea & Francois doen hul “magic”. Eerste keer wat ek van ʼn besprekings agentskap gebruik maak vir ons toere, en maggies dit maak die lewe vir jou stukke makliker.
Ons eerste kamp vir die reis sou op Verneukpan wees. Glad nie ʼn nuwe plek vir beide ons gesinne nie, maar altyd lekker om die seuns soontoe te neem dat hulle die oop vlaktes kan beleef. In die verlede het ons altyd via Brandvlei na Verneukpan gereis wat die vinnigste is, maar met die toer wou ons die seuns ‘n paar nuwe plekkies wys, dus besluit ons om deur Sutherland, Fraserburg & Williston te reis.
Aan die voet van die Verlatekloof pas, op pad Sutherland toe, word daar eers gestop by oom Tjol se Gat vir ʼn koue of twee en natuurlik al die stories van die tolhuis in die verlede.
Net buite Sutherland word middagete langs die pad geniet voor ons aanstoot Fraserburg toe.
Lourens het ʼn boks vol Proteas saam gery en dié was gou eers uit gedeel by van die mense op Fraserburg wat huidiglik deur ʼn groot droogte gaan. Lekker om te sien hoe ʼn eenvoudige gebaar soos ʼn mooi Protea ʼn glimlag op iemand se gesiggie sit.
Dinge gaan wel nie 100% seepglad nie en voor Fraserburg kry ek my 1st van 3 pap wiele binne die volgende twee dae van ons toer. Die gemeenskap is gretig om te help en kortvoorlank is ons weer aan die beweeg.
Ons vat ʼn “detour” op pad Williston toe en gaan wys die seuns eers volstruis kuikens by Riaan Fourie op sy plaas, Tweeriviere. Op Williston maak ons vol en maak ook gou pap wiel #2 reg.
Dit raak ʼn lang dag, maar net soos die son stadig sy strale begin terug trek kom ons op Verneukpan. Drywers word gewissel en die seuns (Josua & Jean) vat die stokke.
Die lam gat gevoel is skielik weg en daar is groot opwinding in die voertuie. Radio’s kry lewe en die stofstreep agter die bakkies raak groter soos die knape die pan plat trap.
Ons kry ʼn plekkie in die middel van die pan, en kamp word vir die 1st keer op ons 12 dae lange toer opgeslaan.
Die latte steek vuur aan terwyl Lourens ʼn koue (2 bier vir ons twee & 3 non-alkoholiese vir die seuns) vir elke man uit sy yskas haal.
Almal spring in met aandete en terwyl ons teug aan ons “koues” word daar lekker gelag oor my twee pap wiele en die karakters wat ons by die werkswinkels ontmoet het.
Op Verneukpan kan die weer binne minute draai so maak maar seker jy gooi ʼn windskerm in jou voertuig anders kan jy maklik sand vreet. Wou ʼn paar drone foto’s neem, maar die wind het later die aand ons van alle kante geklap dat ons daai avontuurtjie maar ʼn skip gegee het.
Volgende oggend en dit is wind stil – perfekte weer op die pan. Seuns karring al vroeg hul wil agter die stokke in klim so nadat kamp op geslaan is, is dit sulke tyd. Jean is al gemaklik met beide die Hilux (outomaties) & Cruiser (lang stok) so dit was lekker om hom te sien verdwyn oor die pan alleen in die bakkie en dan gesels ons verder op die radio’s.
Lian het tot dusver nog net op my skoot gery en toe die knaap sê hy wil ook alleen probeer, stem ek in, maar met die kondisie dat sy broer “shotgun” ry. En in ʼn oogwink verdwyn my seuns in die verte en wow wat ʼn spesiale gevoel was dit nie. Moes die klein wetters later op die radio roep om my te kom haal en toe daar nou genoeg gery is in alle rigtings trek ons die Tracks4Africa boek nader en soek Putsonderwater wat ons middagete merk sou wees.
Uit by die hek, draai ons regs en volg die grond pad tot ons vasry teen die R27. In Kenhardt draai ons regs by die Shell en dan vat ons die R383 Putsonderwater toe.
Daar is verskeie weergawes van waar die naam, Putsonderwater, kom en as jy jou gedagtes laat gaan kan mens sien dat hierdie klein spoorweg stasie, wat nou heeltemal verlate en verweer is, ʼn belangrike stop was vir passasiers.
Terwyl ons deur die verlate stasie, oor die spore beweeg, dink ek aan my oorlede pa en soos ek hom ken sou hy wraggies ʼn storie of twee gehad het oor die plekkie.
ʼn Paar kiekies word geneem, middagete word geniet en dan is ons weer aan die beweeg. Op Groblershoop word pap wiel #3 gou reg gemaak en dan word die laaste paar km na Witsand Kalahari Natuurreservaat gou opgevreet.
Witsand (soos die naam sê) is die tuiste van groot wit duine in die middel van die Noord Kaap. Nadat die seuns so bietjie in die duine gespeel het op die sandboards besluit ons om kamp te gaan opslaan en dan die dag se sweet te gaan afwas in die swembad.
Laatmiddag word vuur aangesteek, terwyl die seuns die vlaktes in is, en ʼn vet skaaprib kry sy plek langs die vuur. Die eerste onskuldige “Pretoria Pinotage” word geskink en die wêreld se probleme en geraas is iets ver in die verlede.
Volg ons reis verder na Botsalano Natuur Reservaat en as ons die grens oorgaan na Botswana. Lees gerus: Reen & Donderweer by Botsalano.
Aan my twee seuns, Jean en. Lian: een van die hoogtepunte gedurende hierdie eerste gedeelte van ons toer is om julle knape te sien ry op Verneukpan. Die eerste keer wat ek jul daarheen geneem het was jul nog klein en om jul twee knapies so te sien ry in die verte en al wat daar is tussen ons is oop vlaktes & VHF radio’s het pa se hart uit sy bors gespring van trots wees. En dan ook om daai eerste koue bier saam jul te geniet het na ʼn lang dag op die pad – hopelik die eerste van nog vele saam om die vuur. En ja dit sal bly by non-alkoholis tot jul manne bietjie ouer is.
Kliek hier vir ʼn paar foto’s & videogrepe van ons reis sover.
Dankie mater vir die onvergeeflike toer. Jy het ‘n gawe om met woorde te speel en so die toer weer te herleef.
Kom ons beplan die volgende trip.
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende October 20, […]
[…] jy die eerste twee gedeeltes van ons toer gemis het, lees gerus Verneukpan wind & Putsonderwater se eensaamheid & Reën & Donderweer by […]