Verneukpan toer

Om ’n langnaweek by die huis te sit is in ’n mate sonde…of dit is maar hoe ek dit sien. Mens werk jou vingers plat gedurende die week en met net ’n handjie vol verlof gedurende die jaar moet mens vakansiedae met ope arms aangryp.

Donderdag laatmiddag kom ons soos ouder gewoonte by Vic op die plaas om die bakkies reg te kry. Eerste stop is by oom Kallie se Springbok lapa in Merverville waar ons so paar maande gelede al ’n draai gaan gemaak het. Ons het net so na 23h00 by Merverville aangekom met die vure wal sommer al lekker hoog loop. Vleisie op die kole, brannas in die hand, vrinne om jou, vêr weg van die lewe se gejaag = dus mos hemel.

Vrydagoggend, na ontbyt, is dit terug op die bakkies en die keer op die R353 Fraserburg toe. Van hier draai ons regs en klim op die R308 (grondpad) tot ons Carnarvon bereik, waar ons die aand sou oornag by die Carnarvon Hotel. Die hotel se Blikkies Bar is ’n moet as interessante plekkies jou hoendervleis gee. Dit het die 2de meeste blikkies versameling in SA en het die atmosfeer en karakters wat mens net in ’n klein dorpie sal kry.

Saterdagoggend word die cooler-bokse gevul en dan is ons weer in die pad – die keer Verneukpan toe. Die laaste paar kilometer na die Louis se plaas huis (Verneukpan ontvangs) het maar rof gegaan met die distrik wat so week voor ons koms reën gekry het en nou is alles nat / modder so die bakkies hardloop maar waar hulle wil.

By Louis-hulle word daar ’n braai drom en ’n vrag hout gekry voor hy ons na die pan neem. Om die pan te verduidelik in woorde is nie maklik nie, want hoe beskryf mens hierdie groot oopte en ongelooflike sons ondergang? Jy kan foto’s neem tot jou kens raak, maar dit vang nie daai onmiddellike sielsrus nie.

Bakkies word deur hulle passies gesit en dit is wonderlik om te dink jy kan jaag en mal gaan soos jy wil want daar is niks om en niemand wat in jou gaan vas foeter nie.

Maar meer oor Verneukpan in Vic se Vanipadaf artikel wat oor so week op die site sal wees. Hou die oë oop daarvoor.

Sondagoggend word alles vroeg oggend afgeslaan sodat die son ons nie in die hande kry op die pan nie. By Brandvlei word daar eers iets vir die maag gekry, bakkies vol gemaak en dan is dit ons en die LAAAANG stuk grond pad Aggeneys toe. So paar km anderkant Katkop besef Ruan maar die bakkie hardloop nou veels te na sy eie wil en na ’n vinnige recce besef ons die regteragterwiel het ’n skeer gekry en sal vervang moet word. Maar dit was nie daar gelaat nie, want so net voor die teerpad naby Aggeneys begin bakkie se kind weer met sy k*k en die keer is dit ’n slow puncher op die linkeragterwiel…met al die spaarwiele wat nou al op is, is dit maar oë toe maak en ry vir die naaste garage.

Sondag laatmiddag kom ons by Kamieskroon waar ons die aand by Vic se oom op die plaas gaan kamp voor ons die volgende oggend die pad terug huis toe gaan aanpak. Die plaas is so tussen die berge geleë. Die lang kilometers en laataande op die vuur het sy merk begin wys en na ’n ietsie op die kole was almal tente toe vir ’n nodige horisontale rus tydjie.

Maandagoggend word die bakkies vir die laaste keer gepak, tande en gesig word by die plaasdam skoon gemaak, blad word geskud en nou is die ons en ’n elle-lange-besige teerpad huis toe.

Die Noord-Kaap is een van daai distrikte wat mense maklik sal oorsien as hulle ’n vakansie beplan. Maar doen jouself die guns een jaar en doen ’n trippie deur die distrik en jy sal gou agterkom watse wonderlike plekkies daar vir ons wegkruip in hierdie mooi land van ons.

Leave a comment