Ons reis verder op ons Noord-Kaap & Botswana toer.
As jy die eerste gedeelte van ons toer gemis het, lees gerus Verneukpan wind & Putsonderwater se eensaamheid.
Van Witsand Kalahari Natuurreservaat volg ons die grond pad tot ons aansluit by die N14 en dan is dit reguit Vryburg toe waar ons COVID toetse moet laat doen.
COVID toetse is glad nie ʼn hoogtepunt vir enige kind nie, maar ek moet sê die 3 jong manne was “champs” en dinge het seepglad verloop by Vryburg Pathcare.
Ons volg die N18 tot by Mahikeng en dan net voor die Ramatlabama grenspos (wat ons sou kruis oor twee dae) draai ons regs en ‘n paar km later, op ʼn grondpad, stop ons by die hekke van Botsalano Game Reserve.
Die reservaat word gebruik vir die teel van bokspesies en ander soogdiere wat dan geskuif word na ander reservate in die provinsie. Lea van Ultimate Routes het vir ons die Legora boskamp bespreek en alhoewel ek nie die ander twee boskampe (Lerako & Sandry) eerstehands besoek het nie, was Legora perfek vir ons twee dae daar.
Die bewaarder by die hek het genoem hul het die vorige dag 50mm reën gehad en verwag weer reën die aand. ʼn Afdak waaronder beide ons tente kon inpas was dus perfek en soos geluk dit wou hê, net nadat ons klaar gebraai het, het die wolke bo ons “kwaad” begin raak en eers was dit donderweer en toe kom die groot druppels.
Ons oggend roetines vir die volgende paar dae sou bestaan uit koffie/beskuit/pap en dan, of kamp opslaan of soos hier by Botsalano waar ons twee dae sou kuier is dit vroeg soggens veld toe om wild te gaan soek.
Wild was volop en wow was ons nie geseënd met so groot spesie verskeidenheid nie. Van die diere wat ons gesien het was: Zebra, Springbok, Swart Wildebees, Kudu, Gemsbok, Rooi Hartebees, Jakkals, Eland, Volstruis, Blesbok, Steenbok, Duiker, Buffel, Waterbok, Kameelperd, Vlakvark, Rietbok, Rooibok en dan natuurlik almal se gunsteling die Wit Renoster.
COVID resultate word uit geprint by die kantoor wat aan die anderkant van die reservaat was en na ʼn gesukkel met die internet wat Dial-Up soos supersonies laat lyk, is die 5 dokumente uit geprint en is ons reg vir Botswana die volgende dag.
Laat middag terug by die kamp is vuur aangesteek terwyl seuns hulself besig hou met ʼn paar pale en dit is altyd lekker om te sien hoe daar nuwe speletjies geskep word. Steaks & krummelpap is op die menu met gemengde vrugte & vlae vir nagereg.
Volgende oggend groet ons Botsalano en dan is dit +/- 25km tot by die Suid-Afrika/Botswana grenspos wat naby Ramatlabama geleë is.
Soos met al die vorige grenspos kruisings verduidelik ek die ernstigheid vir die seuns om die ornamente langs hul kop aka ore te gebruik en mekaar net vir ʼn paar minute nie te tart nie. My woorde was skaars koud en Jean klap sy jonger broer en die “party” is aan. Tussen papiere in vul, luister wat beamptes sê en en en…en die twee klein wetters met die dood te dreig is dit maar stresvol. Ek sweer ek gaan eendag met die polisie op die grenspos reël dat hul beide toe sluit word vir rondvoeter.
Soos die knape hul “stamp” in die paspoorte kry word daar blad geskud en dan NB om hul so gou moontlik in die bakkie te kry, weg van beskawing.
Die opwinding op die radio’s is hoog, want uiteindelik is ons in Botswana en hierdie sou ʼn eerste vir al 5 van ons gewees het. Die seuns was al ‘n paar keer in Namibië, maar die land voel vir my altyd soos ʼn familie lid van Suid-Afrika. Botswana het definitief daai Afrika gevoel en die seuns het gou geleer van Afrika spoed.
Ons volg die A1 tot by Gaborone en dan is dit winkels toe om proviant te kry vir die volgende paar dae. Die wêreld is warm, maar dit is nie nou se probleem nie. Volgende stop is by Lethlakeng waar ons die bakkies moet vol maak, want oppad Khutse is geen diesel beskikbaar nie.
In die volgende blog artikel reis ons verder na Khutse en die ongelooflike 4 dae wat ons daar gekamp het en dan die lang pad terug huis toe. Lees gerus: Khutse, CKGR & Mokolodi se weerlig storm.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: Alhoewel jul so naby was om ʼn moerse pakslae op die grenspos te gekry het, was dit baie spesiaal om jul gesiggies te sien toe die beamptes jul paspoorte “stamp”. ʼn Kort uittreksel van Gio Evan se gedig: Travel, Because Travel Teaches You…, wat oom Jurgens Schoeman van Live The Journey met pa gedeel het voor die toer wil ek graag met jul twee deel en ek weet die lang ure & km’s in ‘n bakkie of ʼn ou Cruiser is nie maklik vir enige jong siel nie, maar ek hoop met al ons avonture (al is dit net skool toe en terug) sal jul ʼn respek ontwikkel vir ons ongelooflike kontinent, Afrika en meer belangrik vir al sy mense.
“Try to travel, otherwise you may become racist,
and you may end up believing that your skin is the only one
to be right, that your language is the most romantic
and that you were the first to be the first.
Travel, because if you don’t travel then
your thoughts won’t be strengthened, won’t get filled with ideas.
Your dreams will be born with fragile legs and then you end up believing in tv-shows, and in those who invent enemies…”
Kliek hier vir ʼn paar foto’s & videogrepe van die tweede gedeelte van ons toer.
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende October 15, […]
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende October 29, […]