Die Boegoeberg 4×4 is geleë op die plaas Lambertshoek in die Engelsman se Berge. Die roete kyk uit oor Graafwater, Elands Baai, Lambertsbaai en Clanwilliam. Die roete het ook al Drive Out se Top Tien status behaal.
Dis langnaweek en dit sal net ‘n sonde wees om by die huis te bly…daar moet getravel word. Vrydag laat middag en 3 paartjies ek & M (Isuzu), Christo & Rene (Isuzu) en Pierre & Ronel (Discovery) is op die pad Lambertshoek toe.
Met die weer wat nie lekker lyk nie het ons besluit om die kamp ding ‘n skip te gee en om liewers tuis te gaan in Lambertshoek se “Ouma se Huis”. Die huis is ten volle ingerig en jy moet net jou eie kos en drink goed saam neem.
Saterdagoggend en die weer lyk maar donker, maar gelukkig is daar nog nie tekens van reën nie. Daar word besluit om die kort roete aan te pak want ons wil graag ’n draai gaan maak by Leipoldtville se fees / basaar. Die roete is +/- 10km lank en alhoewel nie baie tegnies nie het dit wel so drie sand hindernisse waar mens lekker kan speel.
Terug by “Ouma se Huis” en daar word reggemaak om Leipoldtville toe te skiet…die fees was nou nie werklikwaar iets om oor huis toe te skryf nie, maar mens kan seker nie meer verwag van ’n klein dorpie nie…
Weer terug by Lambertshoek en daar word gebraai en gekuier soos in die ou dae…sjoef.
Sondagoggend 04h00 en ek word wakker met die geraas van reën op die dak. Al wat deur my kop gaan is dat ons vandag gaan kak op hierdie lang roete.
09h00 en al die kos, drink goed & gear is gepak. M double check dat Jean lekker stewig is en dan is dit weer kampplek toe om oom Sybrie te kry vir die briefing.
Die roete het baie klip en as jy nie ground clearance het nie gaan jy sukkel…my eerste probleem omrede my bakkie nog nie werklikwaar gelig is nie…eish…vandag gaan rof wees.
Die wêreld is nat en om dinge net nog meer uitdaging te maak is daar ’n misbank en sukkel mens om die voertuig 10m voor jou te sien. Dit neem nie lank voor dinge begin tricky raak nie. Om net nog ’n spanner in die mix te foeter het die wind opgekom so nou mis reën dit nie meer van bo nie, maar sommer nou dwars. Nou raak dit ’n gesukkel want jy kan nie jou venster oop draai om te loer as jy oor die klippe klim nie…
Daar is geen teken van die mooi views waarvan almal gepraat het nie – dit is net mis en water orals. Daar word besluit om die beplande picnic maar ’n skip te gee en liewers by die huis kom…veilig.
¾ in die roete in en die pad raak net weg voor my. Trek my baaitjie aan en trotseer die koue nat weer. Die oom het ons gewaarsku van hierdie gedeelte – die gedeelte lyk soos moerse steps wat ’n kloof af gaan. So as jy hier in gaan is daar net een pad en dit is onder uit…o bliksem dit gaan rof wees.
Maar omdraai is nie nou meer ’n opsie nie – ons moet hier uit. Ek steek die Isuzu se neus die kloof in, voet op die brick, 1st rat…die bakkie gly oor die los nat klippe en terwyl M instruksies skreeu van links probeer en net keer dat ons nie in die regterkant vas foeter nie.
Die Isuzu se maag slaan op party plekke vas, maar die momentum stoot ons nog verder die kloof af. M se oë is groter as ’n piering. Jean slaap en weet van niks nie en is seker al by sy 10de droom. My onderbroek is nou al duskant my klein tongetjie en my lyf is opeen getrek van konsentrasie.
Uiteindelik is ons onder en word daar onthou om weer asem te haal…
Om net seker te maak ons kom nie te vinnig by die huis nie besluit my voorste linker band hy gaan bietjie afklim van die rim…en dit nogals teen ’n helling. Na ’n helse gesukkel in die nat weer met ’n olie jack is die spaarwiel uiteindelik op en kan ons die laaste paar km “Ouma se Huis” toe aanpak.
15h00 en ons is af van die berg. Ek en Christo besluit om bietjie terugvoer vir oom Sybrie te gaan gee oor hoe die Isuzu’s op die roete gedoen het terwyl die vrouens wat nou al pap nat is ’n warm bad gaan seer maak het.
Met die weer wat geen tekens toon van beter word nie, word ’n groot vuur in die kombuis gemaak en word al die kaart & bord speletjies uit gehaal…
Maandagoggend is almal weer vroeg op en in die pad terug huis toe.
Boegoeberg 4×4 is ’n moet as jy jou voertuig en ryvernuf wil toets en al is sy gradering tussen ’n 3 & ’n 4 reken oom Sybrie dat as hy nat is, is dit definitief ’n 4+.
Sal dit definitief weer gaan doen, maar die keer in die somer om bietjie die views te geniet.