Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Montevue se “wild” kamp

1

So baie keer het ons al onder deur die “Old English Fort” in die Kogmanskloofpas gery, 4km voor Montagu as jy van Ashton se kant kom, en nog nooit daar gestop nie. Maar die keer toe ek vir die seuns die klein fort bo op die tonnel uitwys het hul dadelik aangedring daarop dat ons moet stop en gaan loer.

En dit my liewe vriende is hoekom ek daarvan hou om saam met kinders te reis/toer/kamp/verken. Hul is nie so gejaag soos ons nie, en natuurlik sal hul elke oomblik aangryp om bene te rek.   

Wild Camping @ Montevue

Bo op die fort het hul natuurlik die swemgat, links van die pad gewaar en kort voor lank is die drie brawe & grootpraterige knape die berg af op pad swemgat toe. Daar aan gekom was dit die nuweling in die pakkie, Reynhardt Grobler (een van Lian se skool maats), wat braaf genoeg was om oor die drempel te trap en die water te betree. Ek is altyd ʼn bok vir sport, maar swem was op die spesifieke dag nou nie op my agenda nie, maar genade, mens kan nie die knaap alleen laat swem nie, toe is ek ook maar in.

Dit is altyd lekker as Tigger vol kinders is, want die stories wat uit kom is om verhale van te skryf. Die res van ons kamp spannetjie:

  1. Ek & 3 knape
  2. Jacques Groenewald & gesin
  3. Jannie Schutte & gesin
  4. Pierre Bester & gesin

Montevue Nature Farm is so ±15km buite Montagu en is ‘n selfversorgende, buite die netwerk en ekovriendelik toevlugsoord vir enige persoon wat wil ontsnap van die lewe se gejaag.

Wild Camping @ Montevue

Verbyry Dam boskamp, soos die naam sê, kan dit maklik verby gery word as daar nie gefokus word nie. Behalwe vir ‘n basiese kompostoilet en ‘n bietjie gestoorde water in ‘n tenk, moet jy alles saambring om selfstandig te wees. Presies wat ons verkies.

Voertuie word in ʼn laer getrek, en kort voorlank brand die vuur en die eerste koue word geskink – goeie tye!

Wild Camping @ Montevue

Pierre se Land Cruiser Troopy was natuurlik ʼn groot treffer vir Jean gewees en die jong man kon vir ure oor die voertuig gesels, veral hoe dit ingerig is vir gerieflikheid en lang toere.

Die twee jong knape, Lian & Reynhardt was soos twee Jack Russels wat uit ʼn boks gelaat word en kort voorlank het ons die 3 seuns & Rialé in die omliggende koppies gewaar die berge uit foeter.   

Ek het dit al so baie in my vorige artikels genoem, maar boskampe is net soveel meer spesiaal as jy saam eendersdenkende mense dit aanpak/geniet. Die weer gaan nie altyd saam speel nie, jy het nie al die geriewe van tuis daar nie en en en…, maar as hierdie tipe ding jou kos is, dan ervaar mens soveel meer van natuur.

Jacques & Carlize was soos menigte kere vantevore in beheer van die menu, en daar was geëet uit die boonste rakke.

Wild Camping @ Montevue

Ek en Jacques het Saterdag by die jong span aangesluit en is een van die omliggende koppe uit na ʼn uitkyk punt. Dit het maar broekskeur gegaan met die fiksheid wat nou nie is waar dit moet wees nie, sug.

Wild Camping @ Montevue

Sondag is kamp opgeslaan voor die hitte ons tref en dan ry ons ʼn sirkel roete deur die plaas voor ons by een van die damme stop vir middagete, maar meer belangrik ʼn geleentheid vir die kinders om te swem of dalk ‘n modder-smeer-sessie in te werk.

Dankie vir ʼn top naweek saam met top mense!

Wild Camping @ Montevue

Aan my twee seuns, Jean en Lian: Manne – NEEEEEEEEEEE, ek gaan nie nou ʼn Troopy koop nie! Dalk eendag as pa se skippie ingekom het, maar die belangrike ding gaan nie oor die tipe voertuig wat jy nodig het vir ʼn avontuur nie, dit is om daar buite te kom en memories te skep. Moenie verskonings soek en allerhande materialistiese goed die skuld gee nie – lig julle gatte en doen dit net.

Kliek hier vir ‘n paar foto’s van hierdie lekker boskamp naweek.

Wild Camping @ Montevue

Leave a comment