Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Kardoesie op die N7 het ‘n karavaanpark?

20230226_095126

Toe die kommunikasie van Wouter Viljoen deur kom rakende ons gemeente, NG Wellington Oos, se jaarlikse “Pa & Kind” kamp het ek onmiddellik die datum vas gemaak in die kalender, want dit is altyd ʼn fees vir die kinders.

Ongelukkig het ons die laaste twee jaar gemis, maar die jaar wat ek en Lian gegaan het by Alartsoewer, was dit ʼn stryd om die knaap die Sondag by die huis te kry so het hy dit geniet.

Vrydagmiddag toe die klok 13h10 slaan, staan en wag ek dat daai knape by die huis in wals van skool. Lian wou nog hanna-hanna en koekies & hande klap toe start ek daai straight six seun, Tigger (ons 80 Series Land Cruiser).

“Maar PAAAAAAAAAAAAA…..!”

“Pa se g@t man, ek ry – klim, of bly tuis en was sommer die hond ook as jul verveeld is, maar ek gaan nou kamp!”

Beide het die volwasse & slim keuse gemaak en geklim.

(Vrywaring – geen hond of kind was beseer tydens hierdie kort skermutseling nie)

Church camp @ Kardoesie Campsite

Kardoesie is geleë op die N7 tussen Piketberg & Citrusdal op die kruin van die Piekenierskloof Pas. Die kampterrein het twee gedeeltes en Wouter & Henry het vir ons klomp die hele boonste gedeelte gereserveer.

Die eienaars hou die plek regtig in goeie toestand en ek het lanklaas ʼn kampterrein gesien met so ʼn netjies grasperk.

Die ander POSITIEWE punt (natuurlik vir al die pappas) is daar is GEEN winkeltjie by die kampterrein wat jou beursie kan leeg tap nie. Daar is natuurlik die groot padstal teen die N7, maar die jong span het twee keer gedink of hul daai afstand wil aanpak vir ietsie soets.

Church camp @ Kardoesie Campsite

Met ʼn swembad, klim raam, waterslide, groot grasperk vir sokker & krieket wedstryde, fietse…wat wil ʼn kind nou meer hê.

So op die onderwerp van fietse. Vroeër die week skakel ou mater, Andre Piek, my en vra vat ek die seuns se fietse saam. Onmiddellik gaan ek na my default kaart en sê – “NEE!”

“Ag komaan Henry! Ek vat my kinders sin saam, so bring die verdomde goed saam!”, vra hy saggies oor die foon. Soos altyd override ek my default keuse en teen my beter wete sê ek “OK”.

Met ʼn gesukkel en natuurlik met my tonne seevaart kennis van toue/knope kry ek beide fietse vas teen die Cruiser se swingarm.

(Nota aan myself – Jacques wanneer ontwerp ons ʼn fietsry rak vir die swingarm?)

Op pad Kardoesie toe bel die einste Andre my om te hoor hoe ons vorder en waar ons trek. Net voor ons groet laat stel hy my in kennis dat hy SKOON VERGEET het van sy kinders se fietse. Like REALLY!?

Natuurlik het my kinders dit baie amusant gevind, maar ja Mnr Piek jy skuld my mater.

Die dat ons in Februarie kamp, het ek myself voorberei vir ʼn hittige naweek, maar tot my verbasing was daar heeltyd ʼn ligte windjie wat die dae & aande regtig bitter lekker gemaak het.

Henry De Koker het vir die kinders ʼn waterslide saam gebring so toe hy daai lang waterige ding start is dit soos ʼn circuit breaker wat aangeskakel word onder die kinders.

Later word die vure aangesteek en dan is die hele jong span om die vure gewapen met ʼn stok en deug – stokbrood. Boerewors word op die kant gebraai so wat is nou lekkerder as ʼn warm roosterkoek, dik plaas botter en dan ʼn boerewors daarin.

Church camp @ Kardoesie Campsite

Saterdagoggend en dit was nie lank voor die jongspan soos miere gewemel het orals nie.

Net voor middagete raak ons rustig en geniet ons groep onder leiding van Ds Cornis ons eerste gesprek. Alhoewel die kamp bedoel is dat pa’s & kinders’s die tyd saam geniet, is dit ook NB dat hul Geestelik gelei word so Ds Cornis het gefokus dat die debat nie net met die pappas is nie, maar ook die insae van die jongspan kry.

Church camp @ Kardoesie Campsite

Res van die dag was ʼn kombinasie van lekker boeresport, sokkerwedstryde, swem en natuurlik ʼn INTENSE krieket wedstryd.

Ek het later vir Andre gevra, raak hulle (kinders nou) net moeg nie, want daar word net nie stil gesit nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is gaande daaroor en as hul besig is dan is ek rustig, maar dit verstom my net soms hoe lekker kinders kan speel.

Later die middag het ons weer rustig geraak vir nog ʼn Geestelike geselsie tussen die gesinne.

Church camp @ Kardoesie Campsite

Soos die son sy oranje strale begin terug trek in die Weste het die pappas die braai dromme begin nader trek en vure is aangesteek.

Kort voor lank het roosters vol vleis op die kole verskyn en dit het later gevoel of ons net nie ophou eet nie. As die een klaar is dan moet daar geproe word en dan die volgende een en dan weer die volgende een…

Church camp @ Kardoesie Campsite

Sondagoggend en niks jaag ons nie. Die vorige dag die sokker & krieket wedstryde word voorgesit soos die jong spanne begin wakker word terwyl die pa’s teug aan ʼn koppie sawelyf.

 Na ons 3de en laaste groep geselsie het, het die realiteit in gesink dat dit tyd was om kamp op te slaan en seker maar huiswaarts toe te beweeg. Na ʼn vinnige koffie & ietsie vir die honder mae by De Tol Deli pak ons die +/- 125km terug huis toe aan.

Church camp @ Kardoesie Campsite

Wat ʼn ongelooflike lekker naweek saam met lekker mense. Baie dankie vir al die manne wat dit gereël het, maar wil graag Wouter Viljoen, Henry De Koker & natuurlik Dr Cornis Botha vir al die relings & Geestelike leiding.

Aan my twee seuns, Jean & Lian: altyd vir my lekker om te sien hoe mooi jul kan saam speel met ander kinders. Mens hoef nie altyd JOU speletjie te speel nie, en elke maatjie moet voorstelle kan maak. Ek weet dit is soms moeilik vir jou Lian, maar ek sien jy werk hard daaraan en ek is trots op jou seun.

Kliek hier vir paar kiekies & videogrepe van hierdie lekker Geestelike wegbreek naweek.

Church camp @ Kardoesie Campsite

Leave a comment