As mens so na die titel kyk sal mens reken dit is iets uit ‘n porn movie van die laat 80’s. As dit maar net was…sug. Wel 2007 is hier en so ook die einde van ‘n kick-ass vakansie. Die liggaam het ‘n break nodig gehad van ‘n besige 2006 en as ek nou terug kyk na die laaste 3 weke was daar nie eintlik tyd vir rus gewees nie. Ek dink ek kort nou eers ‘n vakansie.
Die groot plan vir die vakansie was om die hoogste kommersiële abseil in die wereld te doen by Semonkong net langs die Maletsunyane waterval af. Jy abseil so paar meter links van die waterval en met ‘n lengte van 204m wou ek met alle mag my gat daar af gekry het. Tweede op die lys was die Sani pas wat binnekort geteer gaan word. So baie hanna-hanna oor die ding dat ek dit nie meer kon verdra nie en wou self gaan check wat al die gejuig oor is. Dan is daar ook die twee spesiale pubs in Afrika wat ek graag wou besoek het. Die een die hoogste en die ander die oudste in Afrika.
Die avontuur het begin met ‘n oornag stop by Oudtshoorn om net vir die oudste vrou in my lewe, my ouma, te wys ek lewe darem nog en dat sy nie hoef te worry oor die mal braai fotos wat sy in die Burger van my en my pals gesien het nie. Daarna Port Elizabeth waar ek ook gesig moes wys by my kleinsus, Adri, en swaer Danie. 23 Desember en Marli is ‘n volle 24 jaar oud. Kry Boerbok en Gisella êrens in die dorp vir ‘n vinnige iets vir die maag en dan is ons weer op die pad Bathurst toe waar ons die aand in die Protea Hotel oornag.
Die dat dit M se groot dag is loop die vog en vonkelwyn asof ons klaar Nuwejaar slaan. Baie mense het nog nooit van die dorpie, Bathurst, gehoor nie, maar dit is die tuiste van die grootste pynappel in die wereld en ook die oudste pub in Afrika.
Laatmiddag is die lywe lekker taai van die brannas en nou is dit ons en ‘n pypkar. Marli skreeu asof sy helder oordag aangeval word deur ‘n doof, blinde, stom bosvark gekruis met ‘n Suid Koreanse dagga snuffel hond, maar boeta Henry plant daai spoed pedal plat teen die bord en daar skiet nog woema uit daai pypkar en Marli kry nog so paar ekstra desibels uit daai longe. Ons jaag en dit is modder en chaos maar stop is vir meisies met wit broeke en nie vir ons wat 2 weke aan dieselfde onderbroeke dra nie. Marli is later aan die stuur en aai ek dink ek het 2% van my gehoor daai dag verloor.
Volgende dag is dit Oos-Londen toe waar ons Kerfees by die ou mense sou vier. Het maar min pals nog in Oos-Londen so die tydjie word maar gebruik om ou kuiers in te werk saam met die ouers.
28ste is ons weer op die pad en kom so net na middagete by Coffee Bay aan waar ons die aand sou oorslaap by die Bomvu Backpackers. Pak kaarte word ontdek en na so paar rondtes Straight Rummy sien Marli haar gat solid en is dit strafdop se tyd. Later is dit Hole in the Wall toe en met die terugkom word daar gou ‘n paar koues geklap by Eagle’s Rest. Marli bid al van die begin van die vakansie dat ons tog net by die see moet gaan lê en met die weer wat nie te k*k was nie, buig ek maar die knie en stem in om my gespierde, olimpiese, ronde figuur op die strand te gaan neer moer. Die quarts loop woes die aand en toe ek net duskant ‘n sokkerbal lyk van die gas besluit ons maar om dit ‘n aand te roep.
Die volgende oggend vroeg in die pad en is dit reguit Underberg toe waar ons die Sani pas die volgende dag sou aanpak saam met die ouens van die Sani Pass Tours. Kamp die aand net so buite Underberg by Dragons Rest waar mens so kick-ass view van die Drakensberge het.
08h30 die volgende oggend is ons in die dorp en reg vir ons toer die pas op. Die Sani pas is nie vir sissies nie en die ouens laat net die tiere met wiskunde voertuie (4 x 4) die pas op so Tigger moes maar sy trots sluk en agterbly. Die ouens voeter ons in so eienaardige maan wanna-be voertuig en ek wou die ouman skakel om net seker te maak of my testament darem nog op datum is.
Sani pas is amazing en al die geraas wat mens daaroor hoor is die waarheid. Mens kan dit nie beskryf nie en JA daai laaste 800m van die pas na die Lesotho grenspos is woes en jy moet wragtig jou storie ken as jy daar sonder ‘n 4 x 4 wil op voeter. Bo gekom besoek ons gou een van die local gemeenskappe waar ons die local bier en brood toets. Terug grenspos toe word daar gestop by die Sani Top Chalet wat die Hoogste Pub in Afrika host. Die view is amazing en brannas en coke het nog nooit so lekker geproe nie.
Terug in die dorp na ‘n lang dag op die pas is dit weer tyd vir ons om na ons volgende bestemming toe te skiet. Die keer is dit Matatiele vanwaar ons die volgende dag Lesotho sal binnegaan deur Qacha’s Nek. Kry die aand slaapplek by ‘n oulike gastehuis en met die (*@#)@ bure wat die heeltyd kla dat ons TV te hard is besluit ek en M om dit ‘n aand te roep en die koppe neer te sit.
Volgende oggend is ons 07h00 by die grenspos, want boeta van die gastehuis het gesê dit is 24 uur oop, maar NEEEEEEEEE dit maak eers 08h00 oop so nou moet daar gewag word. Paspoorte word weereens gestamp en ons is Lesotho in via Qacha’s Nek. Hiervandaan gaan ons die teerpad deur die suide van Lesotho via Mount Moorosi, Fort Hartley volg en dan deur die weste noord skiet via Mohale’s Hoek, Mafeteng & Morija. By Mazenod breek ons regs en skiet suid, oos Roma toe waar die teerpad stop en dan uiteindelik tot by Ramabanta waar ons Nuwejaar sou bly. Die hele roete is maar +/- 350km, maar neem ons 9 vrek lange ure om te doen. Dit is berge op en berge af en jy kan nie vinniger as 60km/h op baie plekke ry nie.
Kom laat middag daar aan en met moeë lywe besluit ons om die bakkieslaap te verruil vir ‘n bed en matras. Werk so vinnige middagslapie in en toe ek daar wakker word vir die groot Nuwejaar ete besef ek iets is nie lekker met die lyf nie. Begin ‘n woeste koors kry en dit voel of die hele liggaam skielik begin ingee. Omrede ons so vroeg die oggend by Matatiele uit is het ons niks geëet nie en het skoon vergeet om te eet die hele pad. En met die hele tyd se konsentreer om nie bokke of donkies dood te ry nie het die liggaam besluit dit is nou genoeg. Die lodge personeel maak ‘n kick-ass ete, maar so net na die nagereg besef Marli sy sal maar moet oor neem want ek gaan dit nie maak nie. Terug in die kamer word ek ‘n handvol pille ingejaag en is terug in die bed. En ja dit is ons twee se Nuwejaar. Kuier vir die dood vir die res van die jaar, maar kan die bekende kuier dag van die jaar net nie maak nie…eish.
Volgende oggend hardloop al die silinders weer volstoom en is dit Semonkong toe wat ons tuiste sal wees vir 3 dae. Die 50km doen mens maar in 2 ure en so net voor 12h00 trek ons die hekke binne. Semonkong is die laaste dorpie op die pad en van hier af is daar niks meer nie. As jy verder wil gaan moet jy wragtig ‘n goeie 4 x4 hê of jy doen wat die locals doen en kry jou ass op ‘n perd. Spandeer die middag in die pub / restaurant en probeer opmaak vir die vorige aand se kuier wat ons gemis het. Later kom die nuus deur waarvoor ek al lankal voor wag. Shaun, wat die abseil beheer, het nou net terug gekom van die berg af en gaan ons sommer vandag al neem vir ons oefeninge teen een van die koppies hier langs die lodge. Die knaap is net so oor die 2m en het ‘n paar hande wat beide ore sal warm klap met een hou. Die oefeninge word gedoen teen ‘n 25m drop en mens doen dit so 3 keer om gewoond te raak aan die rack (figure of eight sal uitbrand asgevolg van die hoogte, 204m). Marli begin met haar oudergewoonte verskonings, maar soos altyd is sy af. Het Shaun sommer van die begin af ingelig dat hy maar moet mooipraat en lyk of dit darem gewerk het.
Oefeninge is klaar en dit is terug lodge toe vir ‘n lekker warm aandete en paar koue Maluti biere voor ons die bakkie gaan tref. Die volgende oggend 07h00 is ons reg en gegear vir hierdie avontuurtjie. Het die hele aand na fotos van vorige abseilers gecheck en elke keer word mens stom geslaan as mens na die grootte van die waterval check. Vandag is ons 5 wat die knaap gaan aanpak. Shaun blaas die “kop skud” tunes oor sy ou Land Cruiser se radio om die nerves te probeer kalmeer. M is doodstil en haar greep op my bo arm word stywer en stywer soos Shaun verduidelik dat dit nie meer ver is nie. Paar minute later kom ons tot halt op ‘n koppie. Van hier word al die gear op ‘n perd gesit en dan is dit te voet na die waterval toe. Die dreuning word al hoe harder en harder soos jy nader kom en nes jy oor die een koppie kom sien jy waar die waterval begin en jy weet net anderkant daai klippe moet ek nou af voeter. Shaun reken die rivier is so 70% vol wat beteken dat die waterval in volle glorie sal wees. Hy en sy span begin alles reg kry en my hele liggaam skreeu om ‘n beter view van hierdie dreuning so 8m van my af te sien. Die viewpoint is in die verte op die oorkantste koppie waar al die toeriste ‘n full on view van die waterval het. Hier waar ons sit kan ons net sien hoe hierdie straal water die berg af voeter.
“Ok Marli jy is eerste. Lets get you ready to do this girl!!”
Elkeen kry ‘n geel windbreaker wat gaan help met die mis van die waterval en ook dat Shaun wat eerste gaan jou kan uit ken as jy afgaan. Jy is ‘n klein spikkel as jy afgaan en die geel help dat hulle jou kan sien op die berg as jy afgaan. Marli is reg en ek kan sien sy vat houe, maar sy wys dit nie. Sy wil begin huil, maar die dat die ouens haar nogsteeds terg van Bloukrans weier sy om ‘n traan te wys. Die 204m tou weeg 50kg en die dat Marli 57kg weeg beteken dit sy sal die tou moet feed anders sal sy nie beweeg nie. Ons vet bliksems sal moet klou anders gaan ons soos ‘n sak mielies daai koppie af. Felix, 2de in beheer, praat mooi en na so paar scary sekondes is sy oor die rand en verdwyn sy.
30min later kry ek my call en dit is ta se beurt. Het al ‘n paar keer geabseil en het nie eintlik ‘n probleem met hoogtes nie, maar my maat as jy sien hoe hoog 204m straight af is, is daar hierdie wete dat jy maar vandag se onderbroek kan weggooi. Die Maletsunyane waterval is in volle glorie so paar meter regs van jou. Die geraas is amazing en mens kan net nie ophou staar daarna nie. 15min later is ek op die grond, papnat en word verwelkom deur M wat nie kan ophou smile nie. Sy is nommer 304 en ek 305 wat al die abseil gedoen het. Die roete uit die gorge is maar taai en daar word so paar nodige foto stops gedoen, if you know what I mean.
Terug by die lodge is dit ‘n warm bord kos, paar koue doppe en terug in die bakkie vir n groot nagrus. Dink Marli het met die smile waarmee sy gaan slaap het die volgende dag wakker geword.
Vandag is dit 5 ure op die perde en gaan ons ‘n gedeelte van Lesotho doen wat nie deur voertuie gedoen kan word nie. Was seker die langste 5 ure in ons lewe en M het ongeveer 2 dae gesukkel om gevoel in haar boude terug te kry. Die volgende oggend was dit weer die lang pad terug RSA toe. Volg die pad weer terug Ramabanta waar ons ‘n breakfast kry en dan net duskant Moitsupeli skiet ons links en dan na die grenspos by Van Rooyens Hek. Vandaar is dit Steynsburg waar ons die aand oornag het. Volgende oggend 07h00 weer op die pad N9 straight George toe. Stop by Gourits want M reken sy is nou op volle vaart om ‘n adrenaline junky te word so daar moet nou eers gebridge swing word. Slaap die aand by die backpackers in Swellendam. 05h00 SMS die vet Parma my wakker en ons besluit sommer om net daar in die pad te val terug Kaap toe.
As jy nog lees is jy k*k verveeld my maat. Maar as jy iets uit al hierdie geskribbel sien wat jou interesseer dan laat my weet en ek sal jou help met ‘n paar notas wat ek geneem het oor die area.
2006 was great, maar ek reken 2007 gaan nog taaier wees. EISH!!!