Lengte is sekerlik een van die beste tye om in die natuur te kom. Dus as daar ʼn geleentheid kom om Tigger (ons ou 80 Series Land Cruiser) se bene te rek sal daar nie gehuiwer word om in te stem nie.
Ons laaste stop voor ons die +/- 2 ure rit aanpak Scheppie Saus toe is soos oudergewoonte die Shell garage in Wellington. Die petroljoggies vertrap mekaar amper as daai +/-3 ton knaap daar stop, want hulle weet daar gaan nou baie sous getap word. Terwyl dit ʼn groot aanwins vir hulle is, is dit ʼn pynlike paar minute vir my wat die plastiek kaartjie moet swipe na die tyd.
Op die R44 pad draai ons links by Hermon en dan 10km verder weer regs by Riebeeck Kasteel op die R311 pad.
Die R311 pad tussen Riebeeck Kasteel en Moorreesburg is een van die mooiste paaie om te ry in die Lengte. Sover soos jy kyk is dit net graan & Canola lande. Dit is moeilik om te dink daar is ʼn water krisis in ons provinsie as jy so na die immergroen lande kyk.
By Piketberg volg ons die smal R366 paadjie tot jy die Scheppie Saus bordjie waarna ons links draai op die grond pad.
Danie & Jannie-hulle was reeds besig om kamp op te slaan toe ons daar kom. So vinnig soos ek die Cruiser gestop het, so vinnig was die seuns daar uit en saam met die ander jong span besig om die area te verken.
Ons spannetjie vir die naweek was soos volg:
- Jonker’s (ek, Marli, Jean & Lian)
- Van Tonder’s (Danie, Elizann, Le Roux & Molly)
- Swart’s (Anene, Nicolaas & Liam)
- Jannie & Sanja
Kort voor lank het die vuur hoog gebrand en die glase vol vrolikheid met goeie geselskap so die week se doen en late was iets van die verlede.
Saterdag was almal relatief vroeg uit die tente en die kinders alreeds doenig met hulle eie verkenning. Met al die rivier poele om die kamp terrein was dit nie lank voor die jong span in die verskeie poele gaan speel het nie.
Later het ʼn visvang poging op een van die bure se plase ook uit gedraai op ʼn swem avontuur.
Laat middag het die vuur weer lewe gekry en Danie het met sy Oxtail pot begin. Net soos dinge lekker begin raak het, het die wind begin onsmaaklik lastig raak. So erg so dat ons die hele spul, vuur + pot, moes skuif agter ʼn bos om net te ontsnap van die wind. Tent penne moes weer geanker word en kort-kort moet daar geloer word om seker te maak iets kom nie los nie, want niemand was lus om sy/haar tent 100m verder teen ʼn boom te gaan optel het nie. Dit sou groot skade aan die ego veroorsaak het en niemand is lus om daai donker wolk saam te dra nie.
Soos altyd was Danie se Oxtail pot uit die boonste rakke en met die wind wat nog nie sy lê wou kry nie, het almal besluit om dit ʼn aand te roep en in die tente te kom.
Sondagoggend was ‘n herhaling van die vorige dag. Hoe vinnig die kinders uit die tente kon kom, so vinnig was die swembroeke aan en was die rivier poele weer verken. As hulle terug by die kamp kom, dan was dit reguit na die swembad onder die groot akkerboom.
Na middagete word kamp stadig op geslaan – blad word geskud, ongelukkige kinders (moerig omdat ons nie langer kan kamp nie) word in gelaai voor ons die pad weer vat.
Altyd lekker om saam met die spannetjie te kamp. Sien uit na Sanddrift in November.
Kliek hier vir paar foto’s van die kamp.
Is julle ablusie geriewe toeganklik met n rolstoel. Geen trappe ens nie
Hi Zelda. Ek dink die beste sal wees om die eienaar (Danie) self te bel, maar as ek reg kan onthou is daar nie spesiale geriewe vir rolstoel gebruikers nie.
[…] Begin nou al soos ʼn tradisie raak om saam met hierdie lekker “mal” groep te kamp elke November. Lees gerus die vorige jare se artikels hier: 2015, 2016 en een vroeer die jaar. […]