
Die feit dat dit ons klomp manne amper 3 jaar geneem het om weer saam te kamp is wraggies ʼn skande! Maar soos die gesegde gaan – liewers laat as nooit.
Middel Augustus het ek die 1st keer van Leeuwenboschfontein te hore gekom toe ons in die vallei langs die plaas gekuier het saam met vriende. Seker gemaak ek het dit op my “to-do” lysie gesit en toe ons (ek, Jacques & Frans) een laat middag gesels het dat ons weer ʼn kamp moet doen het dit na die ideale geleentheid gelyk om daar te gaan kuier vir ʼn naweek.
Vrydaglaatmiddag kom ʼn fris spannetjie stuk vir stuk by mekaar by Leeuwenboschfontein se kampterrein. Ons naweek spannetjie was:
Een ding is verseker, as jy saam met Jacques & Frans kuier gaan daar heeltyd gebraai word. Hierdie twee seuns is wragtig met vleis groot gemaak en het seker nooit baba melk gesien nie. Soos die een vleis gereg van die rooster af kom gaan die volgende een weer op. Enige iets van gerookte varkrib, skaaptjops, Koedoe wors, skaapstertjies, skilpadjies en Springbok fillet. Dit is ʼn konstante geëtery van die rooster en nes jy dink jy kan nie meer nie gaan die volgende rooster weer op die vuur. My mond water sommer klaar as ek terug dink daaraan.
Saterdagoggend word daar besluit dit is tyd om die 4×4 roete (graad 3) na die uitkykpunt aan te pak. Soos altyd geniet die kinders die rond skud en op en af’s terdeë. Uiteindelik by die uitkykpunt gekom en die wind slaan ons van alle kante. Francois het ook intussen by die kampterrein aan gekom en terwyl ons nog die view van bo geniet kon ons sien hoe hy die roete man alleen pak.
Toe hy ook uiteindelik bo kom het ons die man darem paar minute gegee om die stof af te sluk met ʼn koue bier voor ons weer afgesak het kampterrein toe.
Met reën wolke wat intussen begin dreig het, besluit ons om liewers vuur aan te steek in die lapa. Met Jacques en Frans weer in hul element was dit nie lank voor daar weer ʼn herhaling van Vrydagaand se geëtery is nie. Terwyl Frans al die rooster voorsmakies braai, is Jacques besig met om ʼn kookwater skaap skenkel pot aan mekaar te slaan. Om net seker te maak ons eet nie NET vleis die heel naweek nie, word daar ook sommer brood gebak.
Sondagoggend en die vorige aand se onsmaaklike wind is iets van die verlede. Terwyl die kinders die visstokke bietjie nat maak word daar weer vuur gemaak vir Paul se Mexican omelette wat ʼn groot wenner was. Moer dit maak seer om die knaap ʼn kompliment te gee, maar ek moet dit tog noem dit was watertand lekker.
Laatoggend en almal begin stadig om kamp op te slaan. Niemand is regtig lus om die naweek af te sluit nie, maar die nuwe week is besig om ons hard te roep. Laaste kiekie word geneem van die groep voor daar totsiens gesê word tussen mekaar.
Groot dankie aan almal. Ek dink behalwe dat ons lekker gekuier het, het die kinders dit baie geniet. My spannetjie vra alreeds wanneer die volgende een is.
Tot die volgende keer.
Kliek hier vir meer foto’s.
[…] Hierdie sou nie ons eerste besoek aan Leeuwenboschfontein gewees het nie, en van ons vorige besoek het ek geweet dit is ʼn baie lekker plekkie. Lees gerus meer oor daai kuier hier. […]