Na ek en Jean se eerste pa-en-seun kamp verlede jaar Junie het my gat gebrand om weer ʼn avontuur saam met die knaap aan te pak. Wil dit actually ʼn instelling maak om so elke ses maande alleen met die seuns te gaan kamp.
Met die dat Lian nou eers twee is het ek gedink om nog ʼn jaar te wag voor ons die knapie saam sleep, maar Jean se verkoue het nie beter geword nie en die aand voor ons sou ry het ons besluit dat daar nie ʼn kans is dat Jean in die koue lig moet kom nie. Met Jean uit die prentjie vir die trippie het Marli die go-ahead gegee dat Lian kan saam hardloop en sodoende sal dit ook dan ons twee se 1ste pa-en-seun kamp wees.
Intussen het Jean by sy ouma-hulle in Somerset West gaan kuier en daar word besluit om hom NIE in te lig dat sy broer sy plekkie gaan in neem op die kamp nie. In sy wêreld het pappa besluit om toe NIE te gaan kamp nie. Dink nie hy sal my of sy broer vergewe as hy moes uit vind ons het sonder hom gegaan nie.
Vrydagoggend en die wêreld is woes nat. Skakel Gerrit (eienaar van Cerderberg Oasis) onmiddellik toe ek op kantoor kom om uit te vind hoe stand van sake daai kant lyk.
Die terugvoer van Gerrit plaas huiwerigheid of ek nog die trippie met Lian moet doen.
“Henry die wêreld is nat hierdie kant, maar dit sal opklaar later vanmiddag en geen verdere reën word voorspel nie. Dit gaan wel moer koud word die naweek ou maat”.
Koue kan ek hanteer, maar as dit reën is jy semi geskroef met ʼn 2 jarige, want daai knapie gaan nie die heel naweek net in ʼn tent wil wees nie.
13h00 en die son bak lekker in die Boland. Laaste goed word in die Cruiser gegooi voor ek Lian by Kleuterkampus kry en ons Bainskloof aanpak.
Hoekom ek Bainskloof oor is weet ek wragtig nie, want ELKE keer raak iemand van ons familie karsiek. Ons kan net nie al daai verdomde draaie hanteer nie. Ons was nie eers 5km anderkant Bainskloof uit nie toe Lian se maag sê hy het nou genoeg van al daai draaie en ook seker van die groen koeldrank gehad en die knapie skiet een ma-helse kat.
Trek die Cruiser in die bos en maak die klein groen monster gou skoon. Met die omgekrapte magie nou beter en geen verdere Bainskloof draaie nie het hy sommer gou-gou weer lewe en lus vir die trippie gekry.
So 20km voor Cederberg Oasis besluit ons om gou ʼn breuk te vat en koffie & beskuit langs die pad te geniet. My mens was die wêreld nie vir jou koud nie. Ou arme Lian se tande het so geklap dat hy nie eers sy koffie kon drink nie. Ek in ʼn kort broek, T-hemp & plakkies het rond gehuppel soos ʼn oorgewigte feetjie van hel net om hitte te kry.
By Cederberg Oasis aangekom word ons tentjie gou staan gemaak, terwyl Lian die bure se kinders van ʼn afstand dop hou. Kort voor lank is daar vriende gemaak en die jong span + Lian hardloop die plek plat totdat hy in ʼn boom tak vas hol. Jup, soos my pa gesê het elke sport het nou maar sy beserings. Hoe gaan ek die een vir Marli verduidelik – ons is nog nie eers ʼn halfuur hier nie en die knapie het klaar ʼn moerse sny teen sy kop.
Cederberg Oasis is so +/- 65km as jy regs draai by Op Die Berg dorpie. Die plek is gemaak vir travelers en min mense ry sommer net verby. Dit is ook een van die min plekke waar daar nog ʼn honesty bar is. Jy eet en drink soos jy wil en dit is jou verantwoordelikheid om dit net neer te skryf in jou leer. Wat my opgeval het is al hoe hard ook al die manne kuier daar word nie vergeet om dit neer te skryf na elke rondte wat gegooi word nie.
Gerrit se vrou, Chantal, is in beheer van die etes en die vrou weet van kos maak. Elke Saterdag is daar ʼn groot steak/rib ete en dit is nie lank voor die plek begin vol vir die ete nie.
Lian het nou al paar vriende gemaak waarvan Kokko (Gerrit se hond) hom net nie wil los nie. Orals waar Lian gaan volg die hond hom. Van die ander ouer kinders het ook nou al Lian onder hul vlerk gevat terwyl ek saam met Pierre & Elizma Stemmet (ook Wellingtonners) aan ‘n paar koues teeg.
Terug na Pierre & Elizma – kamp langs mekaar en toe ek myself die volgende oggend gaan voorstel besef ons dat ons skaars 500m (soos die kraai vlieg) van mekaar woon in Wellington en hier in die middel van nêrens kamp ons langs mekaar. Praat van ʼn klein wêreld!
Die aande was woes koud en selfs Saterdag as jy in die skadu in beweeg het jy sommer gou die koelte gevoel. Dit gesê, was dit nogsteeds ʼn puik naweek en iets wat ek sal koester vir altyd.
Ons volgende pa-en-seun kamp sal hopelik albei knape in sluit. Ek dink dan sal iets meer afgeleë en nog verder ideaal wees.
Kliek hier vir meer foto’s.