Die naweek tydens ʼn besoek aan my ouers in PE noem my pa dat hy besig is met sy tweede boek aan my en my suster. Nadat ek so paar uittreksels van die boek gelees het wys hy ʼn gedeelte wat hy oor sy ouers geskryf het vir sy broer Chris.
Die gedeelte het my vol op die bors geslaan en paar keer moes ek diep sluk om my emosies te beheer. Ek het nooit my oupa (Henry James of Jiems soos almal hom geken het) ontmoet nie en die Liewe Vader het hom lank voor my geboorte al kom haal, maar die manier hoe my pa oor hom en my ouma Alice praat moes hul merkwaardige mense gewees het.
In my pa se woorde:
“Die Maandagoggend nadat ons laaste familie kuiernaweek [2007] te Kleinplasie, Oudtshoorn tot ‘n einde gekom het, was die Swartberge toe met ‘n wit kombers van kapok. Broer Johan en sy vrou het die naweek aangebied en dit was soos die vorige twee byeenkomste ʼn reuse sukses.
Broer Chris en sy familie kon dit egter nie meemaak nie, aangesien hy aan die herstel was van ‘n ernstige operasie. Broer Danie het vir nog ‘n paar dae by broer Jimmy gekuier. Ek het hom later die oggend opgelaai en ons het die pad gevat De Rust toe. Ons het nie veel gepraat nie, elkeen was maar met sy eie gedagtes besig. Dit was tog iets besonders, hy die oudste en ek die jongste van 10 kinders. Eindelik 2 wêrelde, want die jaar wat ek gebore is, het hy al begin werk.
Die derde bult op die pad vanuit Oudtshoorn, so is aan my vertel is my pa se broer in sy arms oorlede. By Hazenjaght se afdraai na Kammanasie, die wêreld waar ons groot geword het, het ek stilgehou. Ma het my vertel dat die laaste wat pa die pad gery het, hy daar stilgehou het. Ma se broer, oom Naas het agter pa se voertuig stilgehou. Die twee swaers het uitgeklim en met mekaar gesels. Min het hulle geweet dit is die afskeid van die togpad. Of het pa dalk geweet? Dit was skaars 100 meter vanwaar swaer Eben en neef Matie se kinders deur ’n voertuig dood gery is.
Op hierdie “Eens Stilpad“ lê ons spore. Hier het ons grootgeword, hier het ons vertrek, elk op sy eie lewensreis. Hoeveel vragte hout het pa en oom Naas nie met donkiewaens hier verby geneem nie. Ons is verder. Op Selansnek het ek weer stil gehou. In my geestesoog kon ek die oggend herleef toe pa begrawe is. Dit was in die hartjie van die winter, en baie koud. ’n Wit laag kapok het ook soos die oggend oor die Swartberge gelê. Ek onthou in die kerk het ons gesing “Stille rusplaas van my lewe waar ook my eens wag die graf, eindpunt van verdriet en sorge, hier val eens my reiskleed af.” Ek was maar 21 jaar oud, in my prille jeug. En my pa was weg.
By die graf van ons ouers het ons gestaan, sonder om ‘n woord te sê. Ek het na die ooste na Elandsrivier se berge gekyk. Daarop was ‘n skimmellaag kapok. Agter daai berge is pa en ma gebore, grootgeword, verlief geraak, getrou en daar het die eerste 3 van hulle kinders hulle lewenslig aanskou. Nou staan ons hier by hulle graf. 2 Mense wat hulle alles gegee het vir hulle kinders. Die more toe pa begrawe is, het oom Hekkie Jonker gesê: “Sy hande het hy nooit gespaar, gewerk vir ons al was dit swaar” [met verwysing na sy familie]. Dit is ook die woorde op sy grafsteen. My gemoed was vol.
Ek het na Danie gekyk en gemerk dat ook hy baie emosioneel is. Daar het hy die oggend ‘n roerende gebed gedoen en die Here gedank vir ons ouers. Ek het terug gedink aan die dag van ma se begrafnis. Voor haar bed het hulle Familiebybel oopgelê, met die volgende teks met ‘n potlood gemerk: “Ek dank God elke maal as ek aan julle dink.” Het sy na haar kinders verlang? Wie sal weet. Haar grafskrif “vir haar was die lewe Christus en die dood ‘n wins”.
Wat sê mens nou eindelik oor die twee merkwaardige mense. Hulle was gemin in hulle gemeenskap. Die kinders van die omgewing het by ons ouerhuis tydig en ontydig opgedaag en was altyd met baie liefde ontvang. Van hulle het later in hulle lewens gesê dat hulle wens dat hulle in ‘n huis kon grootword soos ons, waar daar altyd liefde was. Pa het ‘n wonderlike eienskap gehad deurdat hy regs geskryf het, links geskiet het en met beide hande voor met ‘n graaf gewerk en met ‘n byl gekap het.
Ek onthou hoe hy altyd die skaaprammetjies en bulkalwers met die Bullbro knipmes gekastreer het. Nie een van daai diere het asgevolg van sy delikate operasie infeksies opgedoen nie. Een van daai Bullbro messe het via broer Chris toe na broer Naas by my uitgekom, en ek dit weer aan een van my kleinkinders geskenk. Hy was ‘n uitstekende skut met die .22 geweer. As ma sou sê dat daar nie vleis is nie, het hy die seloontjie gevat en kort voor lank was hy met ‘n paar patryse of fisante by die huis. Nooit meer as wat nodig was nie.
Na strooptyd as die lande kaal is, was daar baie vaalhase en dan is die trekker met ‘n “spotlight” toegerus en hase gejag. Dit het hom baie genot verskaf. Hy het nooit in die tyd wat ek die voorreg gehad het om hom te ken pap geëet nie, want het hy gesê, daar was n tyd in sy lewe dat hy daarvan geleef het . Sy pyp en Springbok tabak was deel van sy leefwyse. Hy was nie ‘n mens vir die openbare lewe nie. Het nooit op ‘n skoolkomitee of kerkraad gedien nie. Sy vrou en kinders was sy alles. Soggens kon jy maar luister, dan het hy “Uit die Beek” gelees en gebid. Elke aand was huisgodsdiens gehou sonder uitsondering. Pa het ‘n teksgedeelte gelees, waarna die Bybel aangeskuif was en elke kind moes ‘n versie lees. Daarna het almal om die tafel, behalwe ma gekniel en pa het voorgegaan in gebed.
Nooit maar nooit het ek gehoor dat hulle stry nie. Ja hulle het seker hulle verskille gehad, maar het dit nooit voor ‘n kind bespreek nie. Respek vir ander was ononderhandelbaar. Die plaasvolk was outa Jafet en aia Spaas. Onthou ek nog vir outa Timpies en aia Roslyn, wat vir ma die wasgoed gedoen het. Vir ons kinders wat ons hoërskooldae in koshuise gebly het, was daar altyd ‘n flowersakkie met roosterbrood van aia Spaas voordat pa ons na ‘n naweek gaan wegbring het koshuis toe. Die skaapwagter “Piet” moes elke aand teenwoordig wees wanneer huisgodsdiens gehou is voordat hy gaan slaap. Die Sondae wat daar nie eredienste te Herold of Buffelsdrift bygewoon is nie, het pa net voor middagete vir ons Godsdiens gehou. Daar was uit die Bybel gelees, gesing en gebid.
Die Christelike opvoeding van sy kinders was vir hom baie belangrik. Vir sy medemens het hy gehelp waar hy kon. Tydens saaityd sou jy hom sien met ‘n saaisak oor sy blad en pyp in die mond. So, sal hy man alleen 25 sakke saadkoring wegsaai. As die koring opkom kan jy amper nie glo nie, geen leë kolle of plekke waar hy dalk dubbeld gesaai het nie. Mens sou nog baie oor hierdie merkwaardige man kon sê, maar die sanger Adam Tas se liedjie “ ’n Man soos my pa “ vat dit mooi raak, veral as hy sê: ”As my bene eendag krom trek en die skemer op die werf lê en U soek iemand om vir my te kom haal, Here stuur vir my ‘n man soos my pa”.
Ma, die ander helfte in hierdie merkwaardige gesin. Sy was die een wat soms met die allerminste 10 kinders, waaronder ‘n tweeling was moes voed en klee. ‘n Regte tierwyfie as dit by haar kinders kom. Haar man ondersteun. Die pligte van ‘n boervrou van haar tyd het sy pligsgetrou uitgevoer. 2 Baksels dubbelbrode per week, koffie brand, botter afkarring, kos gekook, kinders opgevoed. Ook sy het soos haar man nie op vergaderings en komitees gedien nie, maar haar huis was altyd oop vir die buurt se kinders.
Iemand het ‘n liedjie gesing, “Droomvanger” waarin hy sê “As ek na die Hemel staar dan sien ek jou daar, diepe denker een van haar soort.” Die grootste les van my ma is dat ek trots is dat God my God is”. Maar die jare stap aan en wag vir niemand nie. In die plantasie waarin hulle bome gestaan het, staan nog net een ou boom oor, Aunt Dora Stander. Die ander is almal afgekap en weggeneem. Stadig groei die veld weer toe onder die verganklikheid van die mens en word ou grafte deur nageslagte vergeet. Ook in ons generasie is al ‘n klompie van die bome afgekap, Thys koffie en sy suster Forika, Broers Thys en Jimmy, susters Tina, Nellie en Alice, Corrie van Oupos, Wiellie van Jacobsdal. Ook waar die jong plante opkom, het die Here in daardie distrik 3 Kinders op eendag kom haal. 2 van Matie du Preez en 1 van Eben Serfontein.
En ons klompie, ja ons weet nie wanneer die groot Bosbouer ons boom nodig het nie. Een ding is ons van verseker en dit is van ‘n enige hereniging in die Hemel as hierdie lewenslange skeiding beëindig word. Ons eer hulle nagedagtenis.”
Hallo 🙂
Ek soek ‘n Hekkie Jonker wat v PE af kom?
Groete
Petra
Hi Petra,
Ongelukkig nie. Meeste van ons Jonker familie is van die Oudsthoorn distrik.
Hoop jy kom reg.
Groete,