
Met die dat Jean & Marli in Johannesburg was vir die Junior Nasionale Onderwater Hokkie kampioenskappe het ek en Lian besluit daar is nie ʼn manier dat ons twee tuis gaan sit oor die naweek nie.
Vrydagmiddag word daar vinnig iemand gereël om na die honde te kyk oor die naweek, ʼn paar goed word in Tigger gegooi en dan is ons twee in die pad op pad Porterville toe.
Die afdraai na 22Watervalle is op die R44 net buite Porterville (dit is as jy van Gouda se kant af kom). Na die afdraai is dit ʼn grondpad vir so paar km tot jy die plaaswerf inry.
Hierdie sou ons eerste kamp by 22Watervalle gewees het, maar nie ons eerste besoek aan die kamp nie. Baie jare gelede het ons by vriende kom kuier vir die dag wat daar gekamp het, so ek het toe al ‘n mental note gemaak dat ek graag een naweek daar wou gaan kamp.
Alex Kock (wat gereeld daar kamp) het aanbeveel ons bespreek Lebos 10 omrede dit groter as die ander staanplekke is, en meer belangrik omrede dit privaat is. Die staanplek is, soos al die ander, langs die riviertjie geleë tussen laag-hangende bome.
Op pad Porterville toe moes ek keer anders het die wind my sommer in die aankomende baan gedruk, selfs toe ons uiteindelik by 22Watervalle aankom het die wind geen tekens getoon om te gaan lê nie en later die middag het ‘n paar mense agter tente en gazebo’s aangehardloop. Lebos 10 is gelukkig omsingel deur bosse en bome so die wind het ons nie so erg gepla nie.
Omdat ons met die daktent op die Cruiser gegaan het, het dit maar gesukkel om die voertuig reg te posisioneer dat die tent kon oop maak. Sou ek eendag weer gaan, sal ek definitief nie met die daktent gaan nie.
Saterdagoggend en al teken van gister se wind is ou, dooie takke wat orals rondlê.
Soos altyd het dit Lian nie lank gevat om nuwe maaitjies te maak nie en voor ek my oë kon uitvee was my beplande pa-en-seun-alleen-tyd naweek iets van die verlede. As daar nie 4 jong knape rondhardloop in ons kamp nie, sit ek soos pikkie-alleen en teug aan ʼn koue bier – wat ook nie die einde van die wêreld was nie, natuurlik!
Ons twee het wel ons eie tyd gehad en die hoogtepunt van die naweek was by verre toe die knaap sy eie vis uit een van die plaasdamme getrek het. Die alleen tye in die daktent voor ons gaan slaap het was soos altyd baie spesiaal want dan wil die man nie ophou praat nie en sal enigiets doen om nie te gaan slaap nie, haha!
Die watervalle is iets om te beleef en ongelukkig kon ons nie by al 22 uit kom nie, want die jong mannetjie het later begin skrikkerig raak vir die hoogte. As sy ouer broer wel saam was, sou dit natuurlik nie ʼn probleem gewees het nie; hy volg hom soos ʼn vlieg op ʼn hond.
Sondagoggend is ons vroeg aan die gang en kamp word afgeslaan voor die hitte kom. Die knaap groet al sy nuwe naweek maats en dan begin die swaar 4.5 Cruiser weer waggel.
In Porterville word daar eers gestop vir ontbyt voor my klein wingman uitpass op die agtersitplek.
22Watervalle het baie potensiaal, maar persoonlik voel ek daar is net te veel staanplekke en almal is opmekaar. Maar hey, dit is dalk net my stuiwer in die beurs.
Tot ʼn volgende keer.
Kliek hier vir ʼn paar foto’s van die naweek.