Dwarsberg Trout Hideaway anderkant Rawsonville is ’n moet as jy van kamp/outdoor hou.
Dit is een van die min kampplekke wat ek al besoek het waar jy jou eie privaat staanplek het. Elke staanplek is langs die rivier en daar is geen teken van die ander staanplekke om jou nie. Jy hoor nie eers die ander kampeerders nie.
Toe M sê ons moet Jean op sy eerste kamp uitstappie neem het Dwarsberge sommer na #1 toe gespring. 21 Maart was dit Human Rights Day (wat dit ook al deesdae beteken….eish) en ons het besluit om die res van die week af te neem en ’n “short mid-week break” te neem.
Die oggend was dit eers Jean se kwartaal afsluiting by Pikkieland voor ons in die pad geval het. Die knaap het geweet iets groot gaan kom, maar kon nie sy vingertjie daarop sit nie.
Toe ons die grondpad tref het die knaap regop gesit in sy stoeltjie en groot oë die venster uitgekyk.
Ons badkamer sleutels vir kamp #6 (eerste een) gekry en moet sê, alhoewel ons nog nie op een van die ander staanplekke gestaan het nie kan ek nie sien dat die ander staanplekke beter is as #6 nie.
Jean was soos ’n Jack Russel toe ons hom uit sy stoeltjie gehaal het. Rond gehardloop en skoon gelyk of hy deeglike recce vir ons gedoen het….net om seker te maak geen van sy speelgoed raak dalk per ongeluk weg nie.
Die knaap se oë het eers gerek toe ons tent staan gemaak het. Amper gelyk of hy vir ons wou sê: “WTF is hierdie pa?”.
Alhoewel die rivier so aanloklik gelyk het, was die water menslik koud gewees. Ons het dit in die vlak kan gewaag, maar niks het ook die broek gegaan nie…
Middae was daar gespeel, gestap en natuurlik ma se lekker kos geproe terwyl die aande om die vuur spandeer was…wat kan mens nou vir meer vra. Moet sê Jean het dit terdeë geniet en toe ons die Vrydagoggend oppak kon ek sien hy wou nie nou gaan nie.
Kamp by Dwarsberg (Video)
Aanvanklik was dit nie die einde van ons kort vakansie gewees nie, want van hier het ons na Stefe-hulle vertrek in Robertson, waar ons vir 2 aande langs die rivier sou kamp op die plaas wat sy pa bestuur.
Op pad soontoe het M begin kla maar sy voel nie lekker nie. Het pille by die apteek gekry, maar sy het nie beter begin voel nie. Was eerste op die plaas gewees en het tent opgeslaan en M het onmiddellik gaan lê.
M se simptome het al erger geraak en teen 4am Saterdagoggend kon sy nie meer nie. 5am het ek begin oppak met ou Parma se help en 05h45 was ons terug op die pad Paarl Medi Clinic toe.
Die kort van die lank is vandag is Marli weer tip top gesond en dit wil voorkom of sy net ’n slegte virus gehad het.
Dalk nou nie hoe ons beplan het om die vakansie te eindig nie, maar was nogsteeds ’n wonderlike ervaring om saam met ons bulletjie te gaan kamp het.