Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Ek en Jean by ma & kind klassie

So vra Marli my nou die oggend of ek nie Jean na sy 2de “Ma en kind” klas by Pikkieland wil neem nie. Sarie (ons nanny) kyk na ons bure se seuntjie (Pierie) so sy is uit.

Pikkieland is so paar strate van ons huis so ek en boeta is in ’n oogwink voor hul hek. Die knapie is gewapen met sy groen padda rugsakkie (why Larry WHY) en ek kan sommer in sy gesiggie sien hy weet hierdie is die woning van kennis en goed leer…

Moet sê ek was skoon senuweeagtig – gevoel of dit my eerste dag op skool was…hoop nie ek is hier om te leer nie.

Daar is net 4 maatjies in die klas. Jean is die jongste van die 4, maar die grootste…wil sien hoe hul sy lekkers gaan afvat…hehe.

Ek was natuurlik die enigste manlike “ma” en moet sê dit het amper gevoel of die ander ma’s my effe uit ge-“check” het en gewonder wat maak hierdie bullebak dan nou hier.

Juffrou Marilize het die klassie begin met liedjies en ek moes vinnig leer om by te hou. Ek en Jean kort definitief nog meer oefening in die sing afdeling – sal nie sê ons was die beste uit die groepie nie. Dink ’n Klein-Karoo dorpie se koor sal ons nie eers wil aanstel nie, maar ja ons Jonkers was nog nooit gebou vir sing nie.

Die klei, verf en spring aktiwiteite was definitief ’n groot verbetering en juffrou het paar keer “mooi so Jean” gesê. Dink sy het eintlik bedoel – “mooi jul 2” 

Die klassie van ’n uur en half was in ’n oogwink iets van die verlede en ek moet bieg ek het dit terdeë geniet. Die ander ma’s en juffrou was ongelooflik vriendelike en ek kan sommer sien hoe die maatjies groot vrinne gaan word oor die jare.

Ek en Jean het baie voorbereiding voor die volgende Pikkieland klassie. Sal al die manne by die volgende braai om die vuur kry en dan kan almal saam kinderliedjies leer…

Leave a comment