Ek dink ou Sakkie het die trippie baie goed opgesom op sy Facebook status toe iemand vir hom vra hoe sy naweek was: “die Bosvarkie, wille klonge, `n volstruis, adverture bike op 4×4 hill climb, paintball met `n land rover sonder brieke, Swartbergpas….Take your pick. Alles in 1 naweek”.
Ek sit hier met ’n swaar gemoed en tik die artikel want ons het op die einste trip ’n makker verloor…’n yster soos min ander manne saam met wie ek al gekuier het….’n knaap wat ons nie goed geken het nie, maar wat wel sy alles gegee het tot voor ou Fran hom….maar eers bietjie later daaroor….
Die Karoo het geroep en ons moes luister…. mens kan nie vir so lank op jou gat sit en wortels tel nie. Die PVA word sommer gou-gou beplan en voor daar ’n skewe poep sy verskyning kon maak het ons ’n naweek vol planne by die Bosvarkie anderkant Calitzdorp.
Dit is my bulletjie se eerste trippie saam met pa en die Klonge en ma pak ALLES wat sy van hom kan kry…mens kon die kind Australia toe stuur met al die klere wat moet saamgaan…ek sluk my gemoed en pak maar net in…
23h00 en ons suiker die Bosvarkie se parkeerplek binne – die res van die spannetjie kuier al van vroegaand….sommige klaar op ’n beter plesierige planeet as ekke wat droog bek daaraan kom.
Vrydagaand….chaos….sjoef….vog….tent word plat geduik…ek word wakker in my bed…1 uur se slaap….bliksem dit gaan ’n lang dag wees.
Saterdagoggend 08h00 en almal geniet ’n lekker ontbyt en dan is dit weer op die pad. Die keer Bojaankop waar ons so bietjie stof en klippies gaan opskop met die 4×4’s en bikes.
Sakkie en Wern op hulle 2 wiel ysters (800 GS), ekke met die Zuuzbox, Fran met die Pajero & Mac met sy OU Landi.
Die plaas Bojaankop is net so buite Calitzdorp (terug Kaap se kant toe). Roete geld word betaal en almal is jukkerig om die avontuurtjie te begin…
Noodlot tref ons…’n fratsongeluk…en ’n volstruis is nie meer met ons nie. Hoe de hel kon dit gebeur…
Aaai as hy maar net in sy kamp gebly het en nie besluit het om voor Fran se Pajero in te hol nie…afskeid word geneem en party girls klim maar swaar terug in die voertuie…
Terug op die roete en ons kom by ons eerste klein koppie wat ons moet uit. Sakkie en Wern klim maklik uit met die ysters. Mac se Landi is volgende, maar ¾ teen die koppie stol hy die ding…die ding beweeg terug, maar dit stop nie….ooo bliksem hier kom kak.
Gelukkig hou Mac kop en reverse hom veilig, met spoed natuurlik, af die koppie. Die Landi spannetjie is maar wit om die bakkies – die knaap se brieke wou glo niks weet toe hulle benodig was nie.
Nou begin ek ongemaklik raak: eers ’n volstruis en nou ’n Landi se brieke wat nie werk nie…o hel dit is mos nie goeie tekens nie.
Paar minute later en ons is ALMAL aan die voet van die berg waar ons moet uit. Sakkie en Wern lyk maar moer nervous. Moed word ingepraat en Sakkie reken dit is sulke tyd. 50m teen die koppie en die GS hardloop links en regs en hy het nie keuse om die knaap op sy sy neer te sit nie.
Hierdie gaan NIE ’n maklike dag wees nie besef ek…en dit was wragtig die geval. 2 uur later en ons het beide bikes halfpad teen die berg op. Sakkie sit die fiets paar keer neer…die manne is moer toe…almal help trek en stoot maar die goed is net te swaar en die klippe te los. ¾ teen die berg en dinge lyk nie of dit makliker gaan raak nie. Die knape het hulle alles gegee, maar genoeg is genoeg en mens moet nou aan veiligheid dink en om die knape weer in een stuk onder te kry. Mac reken ook hy gaan nie die Landi die koppie uitvat nie en bied aan om die ouens af te help.
Die res van die span spring agter by my in en ek en Fran is die koppie uit. Die low range doen sy ding en dinge ruk en pluk, links in die bosse in, regs in die bosse in, maar die Zuuzbox skop vorentoe tot op die koppie.
PAAAAAAAAAAAR minute later en die Pajero is agter my…sjoe dit was amper ’n geval dat ons moes dien as ’n recovery voertuig…hehehe…Fran jy kan enige tyd vra vir hulp ou maat…hehehe.
Die res van die roete is maar eenvoudig en doen mens relatief gou…
Terug by die Bosvarkie en die dag se GEBEURE het sy tol geneem – die meeste kry ’n koue bier en soek dan ’n skadu plekkie om skuins te lê.
Laatmiddag en Danie ruk my aan die tone – paar van die locals is op pad om teen ons te kom paintball speel…jy maak seker ’n grap…hoe de hel kom ek hier uit…eish.
Die baan is so 200m van die Bosvarkie en moet sê dit was seker die lekkerste veld baan waarin ek al ooit gespeel het. Die dag se vorige avonture was iets van die verlede en nou word daar oorlog gemaak dat die stof en rivier klippe spat.
Laaste game en paar van ons Klonge is vroeg uit die game. Mac reken hy het ’n plan.
“Kom kêrels. Kry paint en laat ons die kêrels wys wat ’n Landi kan doen”
Hier kom ’n storie….Ek en Willa klim agter in en druk gewere by elke venster uit. Soutie is op die dak….daar GAAAAIT ons.
Mac het geen genade vir die Landi nie en ons is deur bosse en oor ma helse rivier klippe. As dit beweeg kry dit verf/pyn – dinge ruk so los ek skiet byna ou Mac agter teen die kop soos dinge skud in die Landi.
Terug by die Bosvarkie en wonde word gelek terwyl almal oorlogs verhale deel met ’n koue bier in die hand.
Die dag is afgesluit met ’n lekker pot op die vuur en nog ’n paar koue biere.
Sondagoggend is dit weer vroeg uit die vere terug Kaap toe via die Swartbergpas…
Great naweek! Dankie aan almal wat dit onvergeetlik gemaak het!