‘n Jeukerige 4×4 by Trekoskraal

Saterdagoggend 06h00 en ek kan nie meer Parma se inheemse, ondergrondse reuke hanteer nie. Liewe donder, val die ding se binneste dan nou uit sonder dat hy daarvan weet?? Sukkel my gat af om die tent se zip oop te kry en na ‘n paar harde woorde is ek en ‘n kopseer van hel uiteindelik uit. Die sonnetjie
wil-wil sy strale oor Trekoskraal (tussen Vredenburg en Parternoster) gooi en die oë sukkel maar om oop te kom. Gisteraand se kuier was mos nou weer heeltemal verby woes uitmekaar geruk en ek dink niemand het eers geëet nie. Nes jy reken jy kan dalk daaraan dink om êrens ‘n rooster op te sit dan voeter die volgende ou nog ‘n halwe boom op die vuur. DIt was chaos gewees.

Stadig maak hier en daar ‘n bleek siel hul verskyning uit ‘n tent. Party waag ‘n warm koffietjie oor die lippe, maar met palle soos Parma en Ruan is dit sommer reguit waar ons so rukkie gelede opgehou het – ‘n koue dubbel Eigevis en enige mix wat ons in die hande kan kry. Die dag stap lekker aan en almal is later op die beach wat wraggies +/- 20m voor ons is. Dinge kan net nie beter nie, koue vog in die hand, girls in klein bikinis en bliksem ‘n wonderlike sonnige weskus dag.

Berto (slot vir Maties se 1ste span) reken hierdie joligheid op die strand is iets vir girls en dat ons ouens liewers Parma se bakkie moet vat en Trekoskraal so bietjie gaan verken.

“Goeie idee!.JAAAAAA! Bef*kte idee ou Berto! Kom ons doen dit manne!” kom die jubelende krete van die manne. My gemoed slaan teen die grond neer en ek weet dit is mos nou die ideale resep vir ‘n moerse, internasionale, globale fok*p. Hoeveel van hierdie wetters het al saam met Parma deur die lande gejaag? Hoeveel van hulle moes al klou vir hul lewens want die jaag van ‘n ystervark is meer werd as die lewens van die dom goed agter op die bakkie? Sovêr kan net ek en Ruan ons name op hierdie besondere lysie sit.

Maar ja 7 (Parma, Ruan, Andre, Berto, Wim, Casie & ek) van ons (oorgewig en onnosel) is op ‘n jeukerige 4×4 en al wat in ons pad staan is Trekoskraal se duine. Gee ons tog net krag en genade dat as die dood kom dit sommer vinnig moet kom, want….oooooooooo KAAAAAAAAAAAAK, en dit is sand, klippe en brannas wat vlieg soos Parma se sinker toon die pedal plat trap. Andre is voor by Parma en navigate maar waar hy kan. Berto en ek is agter by die roll-bar terwyl Casie, Ruan en Wim plat op hulle gatte agter in die bak sit. 4×4 caps is aan en tussen die gejuig hoor jy Bok se De La Rey oor die radio gil.

Duine op en duine af en daai Isuzu loop soos ‘n jet. Parma se pens balanseer die gewig voor uit en dit is amper soos ‘n gyroscope wat die bakkie self uitbalance as ons te veel na die een kant toe leun. Soos ons oor die een duin kom, gaan ons deur ‘n vallei van duine en dan op jou linkerkant sien jy die enigste gap waardeur jy moet gaan.

“Parma jy moet hom floor”, kom navigator Andre se woorde deur… BLIKSEM HIER VREK ONS WRAGTIG VANDAG!!

Die ouens juig / gil / bedinges hulself soos ons die duin aanpak. Ongelukkig was die krag net-net te laat aangeslaan en ons kom tot stilstaan bo-op die duin. Maag plat op die sand. Almal is uit en bekyk ons situasie so bietjie. Nee wat Parma reken hy gaan hom weer probeer, maar die keer met so bietjie meer krag en gewig op die pedal. Na so bietjie stoot oefening en sand vreet kry ons die knaap van die duin af. Parma vat hom rustig agteruit en beweeg links van die duin af, waar hy ‘n draai gaan maak en dan met ‘n aanloop die duin gaan aanpak.

Almal staan nog rustig op die duin toe daai besetene om daai draai kom en ek dog die duiwel homself is agter Parma. Hy tref / vlieg / rocket oor daai duin. Die manne juig en mens sal glo die Cheetas het weereens die Currie Cup gewen. Damn dit was wild gewees. Andre roep die ouens nader en wys ons van waar jy die laaste track kan sien en waar die bakkie nou staan is daar ‘n 2m gap met geen tracks nie. Parma het nou airtime op sy bakkie gesit. Blad word geskud en mens sal glo hy het die laaste drie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk.

Terug op die bakkie is dit is dieper die duine in. Na ure se speel word daar besluit om ‘n laaste duin baas te raak waar ons verby is vroëer vandag. Andre is voor in die stuur en dinge loop vinnig verby.

“HOU VAS HIER GAAN ONS!!!” kom Berto se woorde deur die lug. Elkeen klou en gryp vas waar hy kan en dit is skielik net blou lug voor jou soos ons reguit op gaan. ¾ teen die duin uit en die knaap staan stil, skop en ruk in die los sand. Berto reken hy wil die knaap ‘n go gee en +/- hier besef ek dat karsiek se kind my nou solid getref het. Sommer in die ry spring ek van die bakkie af en laat loop met Abraham en Jakob. Die ouens slaan weer die ¾ merk en diè keer reken Andre en Parma hulle wil ook ontslae raak van oortollige gewig, maar hulle sal die meer tradisionele onderste exit gebruik.

Mense, as iemand net die foto kon geneem het was ons vandag die wenner van die mees exstreamste ding ooit. Hier staan ek en haal my binniste deur my longe uit op die strand. Parma, met geen skaamte, hurk so paar meter links van my en plant die grootste veldtie in menslike geskiedenis, paar meter links van hom is Andre agter ‘n klip besig met nog ‘n veldtie tweestryd, terwyl Wim, Ruan, Casie & Berto NOGSTEEDS besig is om die duin aan ons regterkant op en af te jaag.

Die laaste stretch huis toe was onmenslik erg op my gat gewees, want almal se bekke was droog en daar wag ‘n halfton brannas vir ons by die huis en almal is geworry dat die girls die goed onder hande gekry het en Andre het gereken dit is sy menslike plig om ons so vinnig as moontlik daar te kry en te red wat te redde is.

By die tente aangekom kan mens sien ‘n 30 seconds game het groot happe uit die girls gevat en die klomp is verby jolig al. Die dat my maag êrens op ‘n strand lê reken ek ‘n paar minute shuteye is net die ding en nes ek my oë toemaak dink ek by myself, BLIKSEM dit is darem lekker om palle te hê saam met wie jy die pap dik kan aanmaak.

O ja en vir al daai wetters wat reken Isuzu is nie 4×4 kwaliteit nie, wel ek sal jou Parma se nommer gee en hy kan jou ietsie of 6 wys wat daai knaap kan doen.

Leave a comment