Voel nes nou die dag toe ons die einde van 2005 gevier het en wraggies hier is ons klaar in die gatkant van 2006. Dit voel of die jare deesdae vinniger en vinniger verbysleep en dat die 52 naweke net nie genoeg is om te doen wat mens wil nie.
Die laaste twee maande was maar ‘n besige tydperk vir almal en ek dink baie is nogsteeds nie seker of hulle sit of staan nie. Die dat Robertson Rocks om die draai vir ons loer het ‘n paar van die knape besluit om solank die gees vroegtydig te begin. Klomp van die ouens kan ongelukkig nie die trip maak nie as gevolg van werksverpligtinge en omrede die wingerd manne binnekort in hulle besige seisoen inbeweeg, het almal besluit daar moet vir ‘n slag bietjie hard gebraai word.
Soos ouder gewoonte word laer getrek by Parma op die plaas (Dasvlei). Die plaas trek bloed met elke kuier en is al legendaries in die Willeklong kringe. Daar aan gekom is die aap homself (Parma soos sy parooloffisier hom ken) en Bloues (werk op die buurplaas) nog in die lande om hout te werk, maar na so paar minute jaag daai Mazda bakkie die plaaserf binne en mens kan van ‘n myl vêr sien Parma se bek water vir groot samesyn.
Die eerste koues word gegooi en vinnig vinnig word daar gesellig verkeer. Een vir een trek die karre die jaarts in en aaai dit voel soos jare gelede wat die gevrete kennis maak. Die bakkievrag hout word plat gekloof met ‘n bleddy handbyltjie, maar na ‘n paar kragwoorde en harde knertse is al daai groot seuns middeldeur gekloof. Die sonnetjie doen sy ding lekker, maar die Eigevis brannas loop soos water.
15h30 word ‘n executive decision geneem dat daar geswem moet word. Twee bakkievragte wetters en dit is nou plaasdam toe. Die dam is op een van die ander plase, maar met ‘n coolerboks wat meer vog as ‘n karoo dorpie het kan die roete maar lank wees. 80km/h deur die veld en die manne gooi doppe met ‘n steady hand. Die arme ou wat mors gaan wraggies gevoeter word, of gaan dalk damwater binnekort sluk.
Die dam is nie helse groot nie, maar met ‘n eiland in die middel. Dis baie klein, maar dit is groot pret as mens mekaar so bietjie wil roer met die klei. Jou gat raak nog nie eers die water nie en die eerste 30kg klei missiel vlieg verby jou ore. Coolerboks het ‘n helse knak gekry oppad hierna toe so 90% van die wetters is immuun teen pyn en reken hulle is onsigbaar. Dat iemand daai middag nie versuip of sy kop verloor het deur n klein missiel nie, is ‘n wonder!
Woord kom van die bakkies af dat daar nog bulle by die huis aangekom het en dit is terug plaas toe. Met geen tv reception op die plaas nie word die radio vinnig getune, maar aai die geselligheid loop so hard dat die rugby skoon vergete word.
Plaaskuier is maar net ‘n ander tipe kuier. Jy kan raas en breek nes jy wil en niemand weet van jou nie. Die wegbreek uit die stad is amper soos n refresh button vir jou siel en al die k*k en hare wat jou moer gekoer het die vorige week is by die agterdeur uit. ‘n Klein bosbou plantasie word gebrand en aai die brannas loop soos damwater – tog te lekker op die tong.
Later die aand word daar ‘n tweede executive decision geneem om te gaan jag, maar die dat BoerBok nou op ‘n dieet is verloor hy nie net gewig nie, maar ook verstand en geheue en het die aap sy jaglig vergeet by die huis. Bliksem die jag is uit, en ek kan sien BoerBok is naby aan trane. Moenie worry nie sjomma, jy kan jouself volgende week in jou moer val in Robertson.
Stadig maar seker val die wetters een vir een. Nes my kop die matras tref val daai bleddy vet melkboer hier op die tweede matras langs myne en ek dog die vloerteëls breek.
“Bliksem Jonker, wanneer gaan ons ‘n rustige braai hou? Hoe vorder daai reëlings vir die Willeklong boekklub?”
“Sjomma ons is gestraf omrede ons nie wil bad en tandeborsel op trips nie. Hou nou jou bek en slaap jou rot!!”
“Nag ou man”
Nog ‘n kuier verby, nog memories wat ingebrand is, nog stukkende voete wat deurgeloop het deur die dorings, nog selfrespekte wat hulle gatte gesien het…bliksem dit is darem lekker in Suid Afrika!!!!!!!!