19th Ave New York, NY 95822, USA

Klein Tafelberg, U2 + Babilonstoren

Na soveel weke kry ek nou die eerste keer die geleentheid om stil te sit en iets te griffel. Ek moet ook bieg die inspirasie was nie werklik daar gewees nie – die laaste 4 weke was gat oor kop en soms het ek gevoel die wiele gaan enige tyd af kom. Maar ons is nou nie hier om oor ditjies en datjies te kla nie.

Paar hoogtepunte van die laaste paar weke:

Ons het die alombekende Klein Tafelberg se 4×4 roete aangepak saam met ’n vrag vriende. Met die dag die Isuzu verkoop is, het Parma-hulle aangebied dat ons 3 saam met hulle toer.

As 4×4 jou ding is dan moet Klein Tafelberg op jou TO DO lys wees. Met ’n gradering van 4 & soms ’n 5 op party plekke moet die drywer sy storie ken. Dit begin met ’n sand gedeelte en as jou bakkie huig na asem gaan jy sukkel om die koppies uit te kom op ’n warm dag. Halfpad die roete in kry jy ’n opsie om die hardebaard gedeelte aan te pak (graad 5), of om saam met jou klein sussie te gaan speel en die sussie roete terug huis toe terug aan te pak.

Met Parma in die geselskap is daar net een opsie….mamma hou vir baba vas ons gaan bergaf….

Maggies en was daai klip nie rof op party plekke nie. Die son wat ons van alle kante geslaan het, het ook nie altyd gehelp nie, maar na ’n lang middag in die berge was almal darem veilig terug by die kampterrein. Paar karre het gespog met ’n merk of twee wat eienaars nie altyd soek nie….maar hey elke sport het mos sy beserings.

Naweek daarna was dit ’n avontuur van ’n ander soort. Oh Bono en sy bende (U2) het mos kom kuier hier in die Kaap en my skoonouers was so gaaf gewees om kaartjies vir my en Marli te kry. Hierdie kaliber konsert was ’n eerste vir my gewees en al wat ek kan sê van die ervaring is WOW! Nou regtig nie ’n groot van van hul musiek nie, maar ’n beter live performance sal jy nie maklik gou weer sien nie.

Dan verlede naweek was dit weer terug berge toe (Babilonstoren 4×4) met die groot ysters saam met Luhein en sy pa-hulle. Die kêrels is groot Isuzu ondersteuners…dit is mos nou kêrels met wie ’n man kan hard kuier op ’n berg. Die roete het onlangs hard deurgeloop onder vure so daar was sprake dat ons nie sou kon ingaan nie, maar na ’n oproep of twee het ons die groen teken gekry en daar sleep ons (5 voertuie).

Dit is meestal ’n berg roete so die diesels loop mooi soos ’n kat wat prrr. Nie werklik ’n moeilike roete nie en dalk ’n ideale roete as jy wil begin 4×4….of so het ek gedink….Ek en Parma kon ongelukkig nie die roete klaarmaak nie, want ek moes by die huis kom om by Jean te wees, want Marli moes by ’n ander kuier uitkom.

Die volgende oggend kry ek ’n oproep van Parma met die nuus dat die res van die kêrels eers 20h00 daai aand onder by die beginpunt aangekom het….Eers het ek gedink die kêrels het hard vog gevat op die berg en die party was te lekker om af te kom, maar dit was glo nie die geval nie. Die roete eindig met ’n helse val en die moes ook beskadig geword het met die vuur, want op party plekke moes die manne padbou om die bakkies af te kry….eish….dit is mos nou hoe mens moet 4×4.

Die week is ons weer in Johies vir werk en dit is altyd lekker om ou vriende soos Boerbok en Gis weer te sien.

Leave a comment