Skaapkop eet tradisie

Van kleins het my pa seker gemaak met die plat hand dat ek eet wat op my bord verskyn, selfs al lyk en ruik dit soos iets uit ‘n ander wêreld sal jy dit eet en nog maak of jy dit geniet ook.

So staan ons om ‘n vuur so paar weke gelede en ou Frans vra of ons al geproe het hoe lekker ‘n skaapkop is? Die knaap het al vir ons skilpaadjies en pofaddertjies op die kole gaar gemaak en damn, dit was wraggies lekker.

Diè dat ‘n skaapkop vir jou gaan loer terwyl jy hom moet betree met jou knipmes is nie iets om aan te dink op ‘n leë maag nie, maar hey, wie is bang en as ou Frans sê dit is lekker dan kan ons seker nie stry nie.

Die riemtelegram kom deur dat die knaap 14 koppe daar van Loeriesfontein se wêreld af gekry het en dat ons Vrydag na werk by Jacques op die plaas hierdie fees gaan aanpak. Om eer te betoon aan die 14 wat gesneuwel het vir hierdie geleentheid, moet elke persoon ‘n das aanhê, of jy nou kop gaan eet of nie, en die wat kop gaan eet moet seker maak hulle het ‘n knipmes.

Vrydag laatmiddag trek die hele spulletjie daar by ou groot Jacques op die plaas in, net so buite Wellington. Eers was dit ‘n helse gesukkel om die nat wingerdhoutjies aan die gang te kry, maar onder leiding van SA se No 1 Vuurmaak Kampioen (Skaap), is hierdie klein hindernissie vinnig verwyder.

Die week se stres en kwale was vinnig iets van die verlede. Hier staan jy saam met jou palle om ‘n vuur op ‘n plaas en bliksem, dit is mos die lewe!

Later trek ou Skaap sy kitaar nader en laat loop met so paar legendariese ou treffers en natuurlik…drum roll asb. oom daar met die groot pens….harder!!….die eerste, hopelik van vele, amptelike Willeklong liedjie, geskrywe, gebore en getoë deur Skaap. Dit was die eerste keer dat die liedjie op my ore geval het en ek moet sê dit laat die bloed deur ‘n man se are net dikker pomp want jy weet van elke woord wat daai knaap sing. Lekker ene Skaap!!!

En dan die groot oomblik. Almal kry hulle plek om ‘n tafel wat gou aanmekaar geslaan is en dan word elkeen se skaapkop voor hom geplaas. Soos ek die foelie oopmaak, sien ek skaap se kind koekeloer vir my en ek wonder waarin het ek myself nou weer begewe…

Eers word daar met die wangvleisies begin voor daar na die oë, tong en laastens die brein toe beweeg is… Dit mag seker woes klink as mens dit so lees, maar ek moet sê, as jy verby die alles kan kyk is dit wraggies een van die lekkerste goed wat ek al geëet het. Bietjie aan die ryk kant, maar wraggies lekker!!

Hande word gewas, die vure word gepak en daar gaan die kuier al weer! Het toe verder heel lekker gekuir en soos gewoonlik is daar woeste besprekings oor alles gehou, terwyl die vure laer brand en die verduidelikings hoër raak…

Ons wil net graag baie dankie sê vir ou Frans, Jacques & Revvie wat die hele ding gereël het. Dankie boys, nog een wat ons van die lysie kan aftrek.

Comments (1)

My giftige moeder het altyd gese as jy nie wil eet wat in jou bord is nie, loop staan met jou bek in die wind en raak daarvan vol.

Leave a comment