Kilimanjaro – Dag 2

Shira kamp (3 800m) – +/- 6 ure hike

Donderdagoggend 22 Junie 2006 en ons word gegroet met ‘n bitter koue. Gisteraand se reën het alles gefries en die oggend windjie help wraggies nie die saak nie. Almal het darem ‘n goeie nagrus in gekry maar Ruan moes +/- 6 keer uit gaan om van sy onnodige water ontslae te raak. ESIH!!

“Waar is daai ou man wat vandag 50 word!!”

Oom Kobus druk sy kop by sy tent uit en mens kan die smile van ‘n myl af sien. Jup die knaap is vandag 50 en om deel daarvan te wees was nogals moerse spesiaal. Sy familie sou liewers ‘n groot party by die huis wou gehad het, maar nee die knaap reken hy wil sy 50st klap op Kilimanjaro. Geluk met oom se 50st van al die Klonge!!!

Elk double check sy gear vir die laaste keer voor ons aansit vir ‘n lekker warm ontbyt (tee, eiers, wors en piesangs). Damn ons eet nie eers so lekker by die huis nie. Die bene wat ons gereken het sou styf wees was nogals in top gear. Is dit maar net senuwees of het gister se “pole – pole” regtig seker gemaak dat ons bodies goed adapt het aan die hoogte.

Beide David & Daniel het al ‘n visit by elk van ons gemaak om te check hoe dit gaan. Ek reken jy kan nie hier skeef k*k sonder dat hulle daarvan weet nie. Al die bottels het weer water en dit is nie lank voor ons weer op die pad is nie. Die porters het klaar begin om die kamp op te slaan en dit sal nie lank wees voor hulle met hulle 25kg vragte verby ons sleep nie. Hoe de hel hulle dit doen sal net hulle weet, want dit lyk onmenslik moeilik.

As mens die hoogste berg in Afrika wil aanpak moet jy verwag jy gaan klim en nogmals klim. Hier en daar is ‘n ietsie afdraend, maar 90% van die tyd klim jy stelsel maatig. Vandag se pad is effens nouer en gister se freeway is nou verruil vir ‘n voetslaan paadjie.

Weereens is David aan die lead met Daniel as sweeper.

Pole Pole

Jou liggaam wil weereens druk om die pas aan te jaag, maar al waaraan jy dink is altitude sickness en as jy dit het kan jy jou trip aan jou g*t af skryf. Klein treetjies en kry jouself in ‘n ritme. Die bladders help baie die dat jy nie heeltyd hoef te stop om water bottels uit te haal nie.

Vic begin kla dat hy DRINGEND ‘n privaat gedeelte op die berg moet kry anders gaan dinge gebeur wat jy nie met die normale mens op straat kan deel nie. Almal vee hulle g*tte aan hom af en die string klimmers beer voerentoe. Die klaery raak alhoe erger en erger. David reken hy sal nie die situasie nie kan hanteer as Vicky in sy broek dinges nie so ‘n Take 5 word geroep. Vic se sak het nog nie eers grond geraak nie en sy broek is ook al af. Okay as een gaan dan moet almal seker ook maar gaan en voor jy jouself kan kry is die hele veld gecover met Klonge wat sy ding in die veld doen. Soos Parma aan gegaan het sou mens reken die brak gaan van binne dood. EISH

Pole Pole

Die oggend se klim het goed gegaan en ons is uiteindelik deur die wolke en “man oh man” dit is nou ‘n stunning dag. Die omgewing om ons verander amper met elke tree wat jy gee. Die plantegroei het baie uit gedun en mens kan die oopte om jou voel. Dit is ‘n STUNNING feeling.

Skielik stop die string stappers. David draai om om ons te face en wys na sy linkerkant.

“Guys that is Kilimanjaro!!”

Al wat ek kan uit kry is – liewe BLIKSEM!! In die verte staan die knaap met al sy mag, bedek met ice glaciers en sneeu. DAMN sy lyk mooi. Wat jy skielik besef is hoe ver dit nog is soentoe. Elk bestudeer die berg van links na regs om te kyk van waar ons hom gaan probeer summit. David en Daniel smile maar net en skud kop.

“One day at a time guys. One day at a time.”

Mount Meru (3de hoogste in Afrika) maak sy verskeining agter ons deur die wolke en vir die eerste keer besef jy hoe hoog jy nou al is. Meeste van die porters is al verby ons en Ron, sy vrou en Mel is ook nou al deel van ons span. Ron laat loop weer met sy Kansas aksent en die ouens maak hulle self amper nat soos hulle vir die ou man lag.

Middagete word geroep en ons word gegroet deur so 2-4 White Back kraaie. Die middag sonnetjie voeter lekker op ons neer en sjoe ‘n middag slaapie sal nou net die ding wees.

Die stretch na middagete was meer klimmerig en na so 2 ure is ons bo op die krein. Van hier is dit nou links en alles afdraend tot by Shira kamp (3 800m). Die spirit tussen die ouens is nog goed en almal is nog vol gekskeerdery. Oom Kobus is effens stil, maar daar is darem ‘n smile op die bakkies.

Shira kamp (3 800m) is amper op ‘n oop platoo geleë. Reg voor jou lê ‘n kombers van wolke met Mount Meru wat deur die wolke breuk. Mens kan dit nie beskruif nie. Nie eers Minki met haar klein kleretjies kom naby hierdie scene nie.

Die ouens sit aan vir ‘n koppie tee en popcorn en al wat daaroor gesels word is oor die dag se stap en wat môre vir ons wag. Na ‘n middag slapie reken David ons moet so bietjie na die grotte op die platoo gaan kyk sodat ons liggame gewoond raak aan die hoogte. Oom Kobus begin kla van naarheid en die knaap lyk nie goed nie.

Terug by die tente sit ons aan vir aandete en soos die vorige aand eet ons uit die hoogste rakke. Almal se suursrof word getoets en die lesings lyk goed. Oom Kobus voel ook nou al beter en die wat ligte kopsere gehad het is ook weg. Nes ons wil opstaan om die volgende dag se gear te gaan reg kry, kom David, Daniel en al die porters singend om die draai.

“Happy birthday to you, happy birthday to you…”

4 cupcakes versuur met die letters HB (happy birthday) in jam maak sy verskyning. Hier sit 5 palle 3 800m hoog met ‘n view mooier as enige iets wat ons al van te vore gesien het. Shit dinge kan net nie beter wees nie.

Die nood vir die longdrop begin alhoe groter raak, maar wragtig ons is nie gemaak vir hierdie gebukkery nie. Wat de hel gaan gebeur as jy ‘n kramp kry terwyl jy besig is met jou presidentiele taak. EISH! Twee groot klippe / rotse word nader gesleep en voor jy CTM kan skreeu spog ons bos toilet met ‘n bef*kte tuisgemaakte sitplek. Nou kan ‘n man mos sy besigheid sonder vrees doen.

Die son se laaste strale verdwyn in die verte en mens kan voel hoe die temperatuur verander. Dag 2 het sy gat gesien en vir een of ander onverklaarbare rede voel die hele span nog goed. Nou is dit net om ‘n paar ure slaap in te kry.

Nag ou grote

Leave a comment