“Jonker jou vet bliksem, waar is julle? Julle moet gat-roer ou maat! Dit gaan ‘n grote wees”
“F*k Soutie die bakkie gee klaar sy alles. Kou klippe ons is nou daar!!!”
Anderkant Worcester voel dit vir my of ek my onderbroek kan begin opvreet van opgewondenheid. Wag al ‘n tydjie vir hierdie fees en na twee stil maande skreeu my liggaam vir die wegbreek.
21h00 en ons sleep langs Soutie en Petra se tent in. Mens kan sien die brak se bek is al droog en sy eerste woorde was amper iets soos:
“Coke, brannas, ys, spoed, roer jou gat…EK SOEK DIT NOUUUUUUUUUUUUU!!”
Jup, wys jou wat gebeur as mens ‘n setpil verkeerd gebruik, maar jaaaa broertjie. Glase hardehout word geskink en dit is reguit stage toe om die laaste twee bands (Dirty Skirts & Lark) van die aand te check. Eerste keer dat ek oë op Dirty Skirts kry en damn die knape was wild goed en weet hoe om ‘n crowd te werk.
Later raak die gestappery Tigger toe vir brannas ‘n moeê storie en ons betree maar die biertent waar dinge net warmer en warmer geraak het. Drink ‘n paar harde knertste saam met die tiere van Dirty Skirts, Janus van Skopbeen en so paar ander knape wat jare terug diens in die vloot gedoen het. Irre…lang oorlog stories. Vog loop soos water en met ‘n coolerbox vol Eigevis brannas by die bakkie beweeg die hele vraggie tente toe. Doppe word vryhand gegooi en aai, een vir een val die helde.
One down, net nog een dag om deur te maak. Ons kan dit doen ouens. Grawe diep en kry krag van êrens…nag bulle.
Saterdagoggend 05h00 skrik ek met ‘n helse slag wakker. Ons bure het die hele aand hulle alles gegee en dit klink of hulle nou eers begin spoed vang. O bliksem dit gaan ‘n lange dag wees vandag. Kry my gat weer in die bakkie en probeer nog so 2 uurtjies afdwing op die body, maar aai Soutie se gat begin jeuk en die ding wil begin spoed vang.
Skud die vorige aand se stof van die shirt af en dit is reguit tent toe waar ons gisteraand gelos het. Boulevard Blues het die dag begin gevolg deur Dream Soda & Lukraaketaar wat ‘n bef*kte set gehad het. Met MC’s soos Corne & Twakkie van die Most Amazing Show weet jy sommer dat die pot geroer gaan word.
12h00 en boeta die son voeter ons van alle kante. Ek begin al brannas sweet en probeer die ratio van verloor en injaag balanseer, maar damn nes ek spoed kry voel dit of iemand die kniee onder my leen. ‘n Groot Willeklong favourite, Zinkplaat, was volgende en damn die wetters bly maar legends. Die knape is gevolg deur Verismo, die nuwe Skallabrak look wat wraggies tip top is, Valiant Swart & nog ‘n helse groot WK gunsteling, DNA Strings.
Bulle, by die tyd tap ons al vog om net die hitte te breek. Die gees is groot en mens verstaar jou soms aan die karakters by so fees. Maar dit is wat hierdie feeste so uniek maak – dit is die mense.
Dit is laat middag en die show haal sy groot ysters uit. Met ‘n lineup soos diè kan geen feesganger kla oor hekgelde nie. Hulle het geloop soos volg – Koos Kombuis, The Rudimentals, Bed on Bricks, Fokofpolisiekar & laastens was dit Hog Hoggidy Hog.
Die fees het sy tol begin eis en alle gevoel onder my voete is weg, my bek, ore en neus is vol stof en dit voel of ek deur ‘n trok getrap is. Damn raak ek nou te oud vir die k*k, of was dit werklik so rof? Eish, sal môre daaraan dink. Soutie reken hy gaan nog stof opskop, blad word geskud en ek sleep bakkie toe. Was ‘n groot dag en man kan ook net soveel houe vat.
Robertson Rocks is een van daai feeste wat jy op jou feeslys moet kry. Die ding is as hy eers op is dan gaan jy sukkel om nie volgende jaar s’n op te sit nie. Mike en sy span het wragtig ‘n kick-ass job gedoen en mens moet ook groot dankie sê aan groot borg, Klipdrift, wat gehelp het dat die naweek moontlik was. ‘n Groot helse DANKIE ook aan Corieda wat die comps vir ons gereël het.
Dankie Robertson…was soos altyd ‘n grote gewees.