
Saterdagoggend was Jean se eerste amptelike atletiek daggie. Al die menigte kompetisies teen Pepsi, Basjan & Antjie (honde) by die huis word seker nie geklassifiseer as offisiële wedlope nie, want nie een van die 4 deelnemers bly OOIT in hul baan nie en daar is altyd een wat huil vir een of ander rede.
Hierdie was die “real thing”…duisende skare wat gaan juig (ok, seker nou nie duisende nie, maar Marli gaan seker gil / juig soos iemand wat aangeval word), scouts & natuurlik bookies…ok ok ek vat dit seker bietjie vêr, maar dit sal seker by die volgende wedloop wees.
Kinderland het die daggie gereël met 6 ander kleuterskooltjies wat saam kom deelneem het.
Hugo Rust Laerskool was die ideale venue vir hierdie avontuurtjie en almal het onder die groot bome ontspan op stoele en piekniek komberse – awesome familie dag.
Met die dat Marli op die ouerkomitee dien is ek ook mos indirek betrokke daarby. Ek, Nicus & Dirk het al die vorige aan die helfte van die 350 stukke wors gebraai en teen 07h30 het die vure alreeds lekker geloop om die res gou oor die kole te jaag.
Maar terug by die GROOT event – Jean se event.
Boeta het in die 2-3 jarige kategorie deelgeneem. Ek was besig om vingers te brand toe Marli uit asem kom roep dat dit yster se beurt is vir hol.
Die knape het glad nie lus gelyk vir hierdie stupid hol episode nie. Die oë was al rooi van die huil en al die tonne spelery het ou breker net moeg gemaak. Vinnige word daar besluit dat ek boeta gaan probeer aanspoor by die START…alternatief sal ek met hom oor my skouers moet hardloop, en as daar enige kind my probeer wen sal ek hom plattrap…ek like nie verloor nie…netso.
Klein gekleurde stoeltjies was beide kante van die baan geplaas. So die atlete kan rustig gekry word op die START stoeltjie saam met ouer #1 en dan sal ouer #2 by die END stoeltjie wag waar daar natuurlik gesit sal moet word om asem terug te kry…of dalk was dit bedoel vir ouer #1 wat agter die atleet gaan aanhardloop.
Wel, so praat ek moed in en probeer net vir yster rustig kry op die stoeltjie toe die afsitter sê: “Ok maaitjie maak gereed”.
Boeta wil niks weet van die storie nie, want sy aflos span (die 3 honde by die huis) is dan nie hier nie so hoe “liget “ event kan hierdie dan wees.
“Op jul merke!”
Skielik verander boeta se fokus toe hy die tannie se instruksie hoor. Hy skuif op die punt van die stoeltjie en stoot my arms weg van hom. Ek wil nog soentjie, drukkie gee…en die reëls verduidelik van sprint, maar knapie wil niks weet nie.
“GEREED!”
O magtig nou staan die knaap sommer op. Dit is nou hier waar ek effe dumbstruck was want enkele sekondes vroeër wou hy met alle mag nie deelneem nie en NOU…
“GO!”
Boeta trek weg soos ’n ou Ford GTi. Ek wou nog saam hol, maar toe ek my asem kry toe is boeta reeds in 5de rat en hardloop of die bleddie Filistyne hom jaag. Ek het gereken die knaap gaan geen hulp van my nodig he nie en het maar langs die kant van die baan uitgehardloop.
Boeta was los voor…ek bedoel meters voor en die derduisende skare of altans Marli wat soos ’n besetene langs die veld skreeu / juig raak mal. Ek sien al hoe ons binnekort moet begin spaar vir kaartjies Olimpiese Spele toe.
5m voor die einde en dinge verander…Ouer #2 was nie aan die ander kant nie en het great kiekies van die kant geneem en het ge-act as die “derduisende skare” so toe boete deur die klankgrens gaan en hy weer voor hom kon sien toe is daar net tonne vreemde mense met oop arms…scary stuff man!
Met niemand voor hom wat hy ken nie was die logiese opsie om te gaan na iemand wat jy ken – en dit sal natuurlik ouer #1 (ekke) wat agter hom was. So 5 m voor die einde klap die knape ’n solid (netjies sirkelbeweging moet ek sê) sirkel 180 grade draai en hardloop terug na my.
Die knapie het regtig bewildered gelyk en ek was weer op die baan en ons twee is oor die END streep met hom in my arms huilend.
Die mense het lekker gelag en hande geklap en boeta het duidelik sy merk gemaak.
Ons was verby TROTS gewees op boeta en dit het my ure geneem om my bors plat te kry…en nee dit was nie die paar worsies wat ek geëet het nie.
Boeta/yster/Jean pa & ma is so trots op jou en of jy nou gewen of laaste gekom het, dit maak glad nie saak nie. Jy is ’n wenner in ons oë.
Kliek hier vir meer foto’s.