Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Swem Jannie SWEM!

Jean leer swem

Hardloop al weer laat met my artikels – geen verskoning en moet maar net my gat in rat kry.

Begin van die jaar het Jean Tannie Selma se swem klassie bygewoon in Wellington en goeie genade dit was ’n belewenis op sy eie.

Marli was reeds by die werk en met die dat ek nog ’n week op verlof was, was die koël klaar deur die kerk dat ek Mnr Wanne-Be Swemmer klassie toe sal neem.

Dag 1
Kry boeta maklik in sy swempakkie (wat soms ’n mission is) en kry hom lekker opgewonde oor ons swem avontuur. By die klassie aangekom is ek die enigste pa tussen die ander ma’s en ouma’s…eish.

Selma vat net 4 kinders op ’n slag en die lessie is 30min lank. Sy neem hul eers van 4 jaar, maar die dat boeta lekker groot is, het sy ingestem hy kan die jaar al begin al is hy nog nie eers 3 nie.

Sy en haar helper, Karin, sit die skilpadjies (beld met blou sponsies wat op hul rug sit) op al die nuwe rekrute en walla daar is almal….behalwe Mnr Wanne-Be Swemmer aka Jean in die water. Die knaap klou soos ’n apie aan my been en wil nie ’n hel naby daai water kom nie.

Om so bietjie agtergrond eers te gee – Desember by my suster-hulle het die einste see matroos aka Jean met passie en geen vrees in die swembad gespring en kon net nie ophou nie, maar vandag is dit heeltemal ’n ander geval.

Al die ma’s en ouma’s sit intussen langs die swembad en kyk seker nou hoe hierdie super cool, aantreklike pa sy swemmer in die water gaan kry. Ek plaas maar toe my gat langs die swembad neer en loop rustig op die eerste trappie heen-en-weer. Na seker so 100km se loop besluit boeta pa kan nie heeldag loop nie en maak sy verskyning in die water. Ek kon sommer hoor hoe al die ma’s en ouma’s sê “AAAHHH”.

Terwyl die res van die klassie mooi deur Tannie Selma se passies gaan het Jean beheer geneem van trappie 1…

Dag 2
Ek is meer nervous as Jean en as vandag soos gister gaan wees gaan ek wraggies sommer self in die swembad spring. Die keer het ons voorbereid gekom en het die vorige dag die middag by oom Lampies gaan swem saam met Dirk en sy seun (ook Jean).

By die klassie aangekom en Mnr Wanne-Be Swemmer is sommer eerste in die water.

Ditsem, ek het my plek saam met die ma’s en ouma’s crowd langs die swembad ingeneem en kon sien hoe ’n olimpiese swemmertjie ontwikkel word. WELGEDAAN BOETA!

Dag 3
Ek en Jean word sommer op ons name gegroet deur al die ma’s en ouma’s. Wie is the main kokkedore nou!

Wel, dit was van korte duur toe boeta besluit hy is nie regtig lus om nat te raak vandag nie. Hier moet ek herken dat dit my skuld was. Ek het die knapie toe gelaai om ’n middagslapie voor sy lessie in te werk so toe ek hom daar wakker maak toe is alle hel los.

Ons praat nie vêrder oor hierdie dag nie.

Dag 4
Weer word ons op ons name gegroet, maar die keer sonder enige WOW feeling. Sug.

Sê paar inspireerder woorde vir Jean soos: “boeta jy swem reeds beter as mamma so jy is klaar awesome”. Sy 3 kollegas is reeds in die water ek ek voel daai see matroos se klou kom weer. Skielik besef hy “it is time to step-up” en besluit gou om die klassie plat te draf.

Geen WOW van die mamma crowd gekry nie, maar darem nie die keer met koponderstebo kar toe gestap nie.

Dag 5
Dit is Marli se beurt want ek het reeds planne. Marli was dalk in haar verre verlede ’n lifeguard gewees (wat dit ook al beteken) maar om Mnr Wanne-Be Swemmer te leer swem is ek baas klaas. Gee haar ’n vinnige prep talk en daar gaan hul met Tigger.

10min later kry ek ’n kiekie op my selfoon van boeta wat agter balle aan swem – moet seker beginner luck wees of dit is daai damn ma’s en ouma’s gang wat haar gehelp het.

Boeta kon nie die laaste week doen nie en ons het hom reeds vir Desember 2013 se klassie ingeskryf. Elke avontuur saam met jou kind is iets spesiaal en hierdie is een wat ek nooit sal vergeet nie.

Kliek hier vir meer foto’s.

Comments (1)

Welgedaan mamma se kind! Volgende jaar begin ons ‘nippers’!

Leave a comment