Ek moet bieg, ek het gestres vir vanoggend se sonar sessie – ons 2de een sovêr. Het my pose goed gehou, maar diep binne het ek gebid en hoop dat alles sal goed verloop.
Net ’n paar dae gelede het M nuus gekry dat haar niggie ’n miskraam gehad het en dit het my net weer laat besef watse wonderwerk hierdie regtig is.
Vandag se sessie is waar hulle toets vir downsindroom…
M het al so week gelede vir die nodige bloedtoetse gegaan so gesamentlik met vandag se foto’s en die toetse kan hulle bepaal of downsindroom ’n faktor sal speel of nie. Wel, dit alles gesê het ons Terroris (tot ons weet watse geslag dit is, het ons maar besluit op Terroris) vandag goed gedoen en volgens die dokter lyk dit of alles 100% is. Sy sal net weer bevestig sodra hulle die bloedtoetse ook na gegaan het.
Vandag kon ons die armpies en beentjies baie duidelik sien. Dit is werklikwaar ’n ongelooflik gevoel om te sien iets so klein besig is om te ontwikkel.
13 weke en 1 dag en Terroris is 68mm van kop tot boudjies.