Damn, dit begin nou ’n verdomde gewoonte raak die dat ek artikels laat begin post. Ek sal regtig my gat in rat moet kry en meer gedissiplineerd moet wees met die post van artikels.
Maandag 23 November was Marli presies 20 weke swanger met klein terrorist en was dit die groot datum waarvoor ons gewag het, want ons behoort nou die geslag van die baba uit te vind.
Met groot opwagting jaag ek dokter toe en die bakkie klou-klou so deur die draaitjies – verdomde verkeer het my tyd skedule so bietjie opgefoeter. Skielik verskyn daar ’n SMS op my foon van M en dit lees soos volg:
“Hi gogga. Ek het so baie butterflies in my magie en dink die dokter gaan sukkel om die baba te sien.” Bliksem mens kry mos nie ouliker as dit nie…?
Skielik het die ernstigheid van hierdie groot dag my getref en vir eers was die dag se gejaag en werksters iets van die verlede want binnekort gaan ek en yster uitvind of dit ’n Mila (dogtertjie) of Jean Henry (seuntjie) wees.
Die kort van die lang storie is beide ma en terrorist is gesond…en die geslag…wel as jy nog nie kon aflei van die titel van die artikel nie dan is jy wraggies nog agter die klip.
Dit is ’n seuntjie en na vele heen en weer geselsies het ons besluit op die naam – JEAN HENRY JONKER.
Ek is klaar besig om te kyk om vir die knapie ’n reeks WK khaki hempies te maak van 1 maand tot hy 6 jaar oud is. Elke jaar met sy verjaarsdag sal ek maar die volgende jaar se groter size in sy kassie hang sonder dat ma daarvan weet.
Sal seker maak daar is ook ’n Isuzu badge op sy mou geborduurd.