Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Skud-skud deur die Oos-Kaap

20 Desember en ons kan nie die bakkie vinnig genoeg laai op uit die Kaap te kom nie. Die strate en winkels is al klaar vol met al die vakansiegangers, so hoe vinniger daai Isuzu oor die berg kan gaan hoe beter.

Die 2 weke vakansie begin met ‘n kort besoek by ouma op Oudtshoorn voor ons na Doringkloof vertrek in die Baviaanskloof vir 2 dae. As mens op n kaart kyk lyk dit of Doringkloof in die middel van die Baviaanskloof is.

Doringkloof is so paar km voor die ingang van die reservaat en dit is eers werklik vandat jy by die reservaat in gaan waar jy n 4×2 nodig het. Tot by Doringkloof kan jy maklik met jou pa se Datsun ry.

Die wêreld is droog en vrek warm. Hier kan mens nie sonder ‘n air-con nie…ek draai die knoppie op 4, maar die son se strale maak die lyf nog steeds warm deur die venster.

‘n Stilte kom oor my hoe dieper ons die kloof in voeter – hierdie son gaan my dood bliksem as daar nie ‘n boom of watergat / swembad is nie. Ek wil vir Marli sê om te begin bid, maar dog ek los maar eers en kyk watse verrassing my te wag staan.

By Doringkloof en wat ‘n lekker verrassing…lekker groen gras, bome om die tent onder op te slaap en meer belangrik ‘n watergat nie meer as 5m van my tent nie.

As daar nie geswem word nie word daar in die skadu’s beweeg. Sonsondergang is soos gewoonlik nie iets wat jy kan beskryf nie – saans is die wêreld cool…so cool dat ek freaking bewe onder my kombersie…

Volgende dag is die werklike rede hoekom ek hierdie bleddie kloof kom in voeter het. Wil die Zuuzbox deur sy passies sit en Doringkloof het glo 5 lekker 4×4 roetes. Loer so na die bord en kies sommer een met gradering nommer van 3. Ons is opgewonde – binnekort is dit diesel, tires, ‘n gil hier en daar en hopelik n high 5 as ons en die damn bakkie in een stuk terug kom.

M se magie staan stok styf en dit lyk wraggies of sy ‘n paar KFC’s geroof het. Die bakkie prrr en grinnik soos hy die koppies uit gaan – ek en M loer maar net met groot oë en hoop net die 4L kak op ons nie. Af…dit is hier waar dinge begin snaaks raak…nie so seer vir my en die Zuuzbox nie, maar vir arme M. Daai magie druk hard en as M met die hande wil keer dan skiet ons deur ‘n sloot en dan is dit kop teen ‘n venster…’n gluur…vrees in my oë en ek weet ek moet die vroutjie van die rollercoaster af kry.

Terug op horisontale grond en ek kan die verligting op M se gesiggie sien. Dit kon nie vir haar lekker gewees het nie, maar sy het nie een keer gekla nie – net daar besluit ek een roete is genoeg en dit is wraggies nie nodig om al 5 te ry nie. Sal wraggies nie weer vir M deur sulke hel wil sit nie en ek gaan nie alleen klippe kou nie.

23 Des en ons is 06h00 op die pad – vandag is dit ‘n lang, lang dag want ons moet deur die ergste gedeelte van die kloof nog gaan en dan Oos-Londen toe. Die 40km deur die reservaat is rof vir M en later het ek ook begin bid dat die pad net tot ‘n einde wil kom vir haar part.

By Patensie word daar ‘n brunch geniet en moes so gou moontlik in my bakkie kom want ek wou ‘n vertraagde waiter dood voeter wat dommer as ‘n baksteen is…maar dit daar gelaat.

Uiteindelik in Oos-Londen en ligte reën druppels val op die bakkie – ek en M kyk mekaar verstom aan. Die 4 dae by my ouers is baie rustig – pa en ma is mal oor M se stokstyf magie en M word oorval met ma wat allerlei baba goed aangee.

24 Des en die bakkie moet gaan vir ‘n diens. Sus (Adri) en swaar (Danie) join die groupie by die huis later die middag van PE – vol huis.

Lanklaas dat ons al 4 saam in Oos-Londen is. Gewoonlik is dit of in Oudtshoorn of PE.

25 Des en soos gewoonlik het ma weer uit haar pad gegaan – dit is ‘n ete tot die dood…

27 Des en dit is tyd om die bakkie se neus huis toe te druk. Ons volg Adri-hulle PE toe waar ek en Danie die hele middag werk aan ‘n swing arm vir die bakkie…dit gaan vrek netjies lyk as dit klaar is…kan nie meer wag nie.

28 Des en dit is die lang pad Breede Rivier waar ons vir ‘n paar dae gaan kuier by Dirk en die spannetjie. Eers word daar by Gouritsmond gestop (dametjie wat in M se trou rok belangstel) voor ons weer op die N2 klim Swellendam se kant.

Kom die aand laat by die rivier aan en die party is klaar aan die gang…

Ek is nie ‘n groot water mens nie en dit is nou nie my droom eendag om ‘n huisie langs de see te wil he nie, maar jy kan my enige tyd ‘n plekkie langs die Breede Rivier gee.

‘n Kuier by Dirk se plekkie is altyd lekker – veral is jy tussen ‘n vrag vriende is.

‘n Paar pals het ‘n ma-helse huis vir so paar dae gekry verder die rivier af en toe daar besluit was om so klein mini Nuwe Jaars party daar te gaan hou het ek gereken dit is ‘n goeie geleentheid om so klein bietjie die ketels oop te maak…oooweee, maar toe Werner die brannas begin gooi het ‘n avontuur begin…sjoef…wat kan mens nou meer sê …CHAOS, aai maar dit is tog so lekker.

31 Des en die spannetjie raak groter soos die karre die erf in ry. Almal maak reg vir n groot aand – Dirk reken hy gaan die wêreld plat drink…sjoef hier kom skade…

Weereens is die groot kuier by Jan-hulle se huis verder af die rivier. Die kuier begin rustig, maar toe die klok 00h00 slaan ontplof bottels champers en dit is ‘n gelukwensery uit die hoogste rakke – soos ou Wolf (Dirk) aangegaan het sou mens glo hy gaan Grens toe soos hy geluk gewens het…whahaha…ek skuld jou nog ‘n bottel brannas ou Wolfie…

2 Jan en die bakkie se neus is weer op die pad Suid toe. By Napier word daar gou ontbyt geniet voor ons op die N2 oor die berg skiet tot by die huis.

Dit is min dat ek en M nie ‘n groot road trip na êrens / nêrens alleen aanpak nie, maar die dat Jean ma se magies woes uit stoot het ons besluit om die jaar dit eenvoudig te hou en bietjie by familie en vriende te gaan kuier en wow wat ‘n lekker reset was dit nie vir die liggaam nie.

Gogga dankie vir ‘n great vakansie en om te dink hierdie was ons laaste vakansie alleen saam. Volgende vakansie het ons +1 in ons spannetjie…kan nie meer wag nie. Love you M…

Leave a comment