Met die dat Marli (M) in die middel van haar steenvrugte seisoen by Colors was en ek die laaste voorbereidings van die demerger by Rocketseed moet klaarkry was daar nie werklik baie tyd vir ’n lekker lang Desember vakansie nie.
Dit gesê het ons die beste van die tyd gemaak en die paar af daggies met familie spandeer.
Die kort avontuur het begin by Agulhas waar ons Kersfees by Marli se ouers spandeer het. Hul ’n woonstel klip gooi van die see gehuur het so vir beter kon mens nie gevra het nie.
Jean het nou die kuiertjie by die see terdeë geniet en al die stappies by die see saam met oupa en ouma was ’n avontuur op sy eie vir die klein knaap gewees.
Van hier het ons die see met sy lekker koue see briesie saans verruil vir Dwarsberg Trout Hideaway se rivier poele en saligheid.
Dwarsberg is op die pad na die Stettynskloof Dam (het nog nooit voor hierdie kuiertjie van die dam gehoor nie, maar die einste dam verskaf glo drink water aan die Worcester omgewing) en is bekend vir hul trout visvang.
Ons het een van die huisies (Tant Sarie) tot ons beskikking gehad vir 2 aande en nog soveel meer….groot grasperke, kooi dam 50m voor ons voordeur, klimrame en natuurlik die treffer….die rivier poele wat so helder is maak nie saak hoe diep jy is nie jy kan nogsteeds die bodem sien.
Jean het sy liefde vir klip gooi ontdek en nou wil hy alles gooi wat hy in sy hande kry….sjoef.
Marli moes terugwerk toe, maar ek en Jean se trippie was nog nie klaar gewees nie. Met M wat terug Wellington toe is die Woensdag het ek en boeta die lang pad Oudtshoorn toe gevat.
My ouers het vir my ouma kom kuier en met die dat hul Jean so min sien hoe kan mens die groot geleentheid laat verbygaan.
Ouma’s en oupa’s moet naby hul klein kinders wees het ek net weereens besef. My ouers was op ’n ander stasie met Jean om hulle.
As my oom en Rimpels (sy hond) nie aangeval was deur ’n moerse straat brak nie sou ek gesê het hierdie was een van my lekkerste kuiertjies in die dorp met die groot voëls. Dit kon soveel erger gewees het, maar beide my oom en Rimpels is darem ok nou.
Het ook darem tyd gehad om ’n vinnige “harde” kuiertjie by my goeie ou vriend, Brill, te maak.
Pad terug Boland toe was nie so maklik nie en boeta het elke 2km dit baie duidelik gemaak dat hy nie in ’n kar wil wees nie, maar êrens op klimraam of rivier poel wil speel…sjoef, wat ’n LANG LANG LANG pad…
2011 is iets van die verlede en wat ook al gebeur het, is agter ons. Nou kan daar net gefokus word om 2012 soveel beter te maak en nuwe uitdagings & avonture aan te pak…