Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Ronnies se watergat en Warmwaterberg

Vrydag laatmiddag en ʼn vrag van die Klonge is alweer op die R62, die keer na oom Ronnie se bekende watergat, Ronnie’s S*x Shop, waar ons beplan om die Vrydagaand te kamp.

Vir beter weer die tyd van die jaar kon ons nie gevra het nie, en met ons aankoms so net na 22h00 het almal gesmag na ʼn lekker koue brannas. Oom Ronnie was oudergewoonte op sy plek agter sy bekende bar. Die gatlam en die week se stres by die werk was gou iets van die verlede en om hier, in die middel van nêrens, in ʼn klein bar te sit is iets wat jy net self kan beleef as jy daar is.

Ons stop nou al jare by die oom se plekkie en elke keer dreig ons dat ons daar wil kamp en verlede week, toe ek en M weer daar gestop het oppad Oudtshoorn toe, het ek besluit die naweek is net die tyd vir daai lank beloofde kuier.

Ou Vic, die brak, ruk ʼn bottel withond (Witblits) agter sy bakkieseat uit en aai dit kan mos net probleme veroorsaak.

Later word die vure aangesteek en dinge begin net te lekker raak. Oom Ronnie het ook later ou Vic se bottel gif beet en op een stadium dog ek die oom gaan ʼn hartaanval kry soos hy gesigte trek.

Hoe later hoe kwater en die aand het net nie einde nie…

Saterdagoggend is almal relatief vroeg uit die tente en ontbyt word begin. Later kom maak oom Ronnie se vrou die plekkie oop en die girls sleep in hulle stringe badkamer toe. Mens kan die verligting op hul gesigte ʼn myl vêr gesien het.

Kamp word afgeslaan so net na 10h00 en dan is dit weer op die pad, maar die keer gelukkig net ʼn paar kilometer verder na Warmwaterberg Bronne toe. Tente was onmiddellik opgeslaan en toe is dit reguit na die warmbaddens toe waar ʼn ander groot pal van ons, Casie, en ʼn klomp van sy palle al klaar was.

Later die middag het Francois, Brill, Rene en Christo ook die span gejoin en dinge het lekker gesellig begin raak. Ou Ruan het êrens die Vrydagaand ʼn virus of iets opgetel en die knaap het lelik begin houe vat.

15h00 is die hele spul terug na Ronnie’s S*x Shop toe waar die toets tussen die Bokke en die All Blacks gekyk word. Teen die tyd het die wind lelik begin optel, en na die game is daar maar besluit om liewers te gaan opcheck en seker te maak ons tente is nie iets van die verlede nie.

Terug by die kamp word die vure aangesteek en van hier af was dit net afdraand. Tussen Madre en Christo word ʼn bobaas pot aanmekaar geslaan. Ou Vic se blou bottel maak weer sy verskyning en aai aai, daai goed maak net nie reg met ʼn mens nie.

Iemand bring dit onder ons aandag dat daar tussen die dames en mans badkamers ʼn Roman Bath is en dit is waar alle chaos begin het. Ek, Vic, Francois en Parma kry ons lywe op een of ander wonderwerk in die bad en binne minute is daar nie ʼn droë plek in die kamer nie.

Skielik kom ‘n k*k voorstel uit die geledere en soos die lewe nou maar is, word hierdie voorstelle altyd uitgevoer.

“Bulle kom ons sleep deur die kampterrein kaal en mik vir die warmbaddens”

Great idee…NOT!!! Maar ja, die woorde was nog nie eers koud nie en 4 van ons sleep vir alles wat ons het deur die kampterrein. Ek en ou Vic is voor, gevolg deur Francois en dan Parma. Hier en daar hoor jy iemand wat gil / lag.

Soos ons deur die houthuisies vleg kom ons by ʼn oop stuk gras wat verlig is, maar brannas het ons mos sterk en blind gemaak en ons sleep daardeur sonder die wete van watse oë die verligte gras scan. Soos ek en Vic die doodsakker betree hoor ons net hierdie gejuig agter ons en onmiddellik besef ek dit is die huisie waar Casie en sy pals bly. Die dat almal nou klaar op hulle voete is op hulle stoep het hulle ʼn groter verrassing gekry toe ou Francois en Parma, wat so paar meter agter ons was, ook nog om die draai gekom het. Ek wonder wie het die grootste geskrik…

Nader aan die baddens hoor ons net hierdie ou tannie stemmetjie uit die donker kom: “Aaai pappa kom kyk net die wit boude wat hier hardloop!”

Ek moet sê ons het seker soos duisendvoet fakkels gelyk en die plek verlig waar ookal ons gehardloop het. Memories soos hierdie sal vir altyd in jou geheue ingebrand wees en eendag as ons oud is sal ons terugkyk na dit en net lag.

Sondagoggend maak ʼn bleddie irriterende pou die hele kampterrein wakker. Na ontbyt word ʼn laaste duik gemaak in die warmbaddens voor ons die lang pad terug Kaap toe aanpak.

Wil net baie dankie sê aan al die wetters wat die trippie meegemaak het en natuurlik ook oom Ronnie vir sy toestemming dat ons die Vrydagaand daar kon kamp.

Leave a comment