Die jaar het vinnig begin en dinge loop alreeds klopdisselboom. So die kamp naweek kon nie vinniger kom nie.
Toe ek die eerste foto’s van hierdie kampplek (Secret Falls) op sosiale netwerk sien, het vir Christo gesê ons moet ons gatte + families daar kry. Die knaap het nie op hom laat wag nie en twee dae later het die info/besprekings epos deur gekom.
Vinnig het die spannetjie gegroei en voor ons “effortlessly” (vir jou Marli) kon sê het ons die hele kampplek bespreek.
Secret Falls is teen die hange van die Winterhoek berge geleë. Dit is net bekombaar met ʼn 4×4, of natuurlik jou sussie se kêrels se 1.4 Golf wat klink soos ʼn pofadder wat op hitte is as hy die ding ref.
Vrydag laat middag val ons eers in die pad oppad Tulbagh toe. Gelukkig is Wellington darem net om die draai, en voor die son wou-wou verdwyn ry ons die plaas binne. Die kort donkie stokkie word na 4L geskuif en ons pak die laaste +/- 800m na die kampplek aan. Dink as dit die dag reën moet jy maar omdraai en soetwyn by die naaste watergat gaan drink, want ek dink dit kan effe rof gaan as daai pad nat raak.
Bo by die kamp en meeste van die groep was reeds besig om samesyn te bou. Die uitsig oor die Tulbagh vallei is onbeskryflik mooi en lyk soos iets wat jy op ʼn poskaart sal sien.
Toe Jean se deur oop gaan het hy spoorloos saam met al die ander kinders verdwyn. Tent het gou sy staanplek gekry (dankie Danie) en toe kon die uitsig ten volle in geneem word met ʼn paar koue biere.
Ons spannetjie vir die naweek was:
- Christ & Rene – Ewan
- Danie & Elizann – Le Roux & Mariancke
- Michael & Janet – Logan & Kyle
- Stephan & Bernadette – Alwyn
- Henry & Marli – Jean
- Ian & Anne – Jade & Tyler
- Mario – honde (Gizmo, Cheska & Stitch)
- Karel & Lizanne
- JP & Wanda
- Ricky
- Ruan
- Andre
Saterdagoggend het paar van ons met die kinders die stap roete na een van die twee watervalle aangepak. Die jong klomp en Mario se 3 honde het die avontuurtjie geniet en dit het my laat terug dink aan die stap roetes op Voortrekker kampe as kind.
Terug by die kamp en Christo/Rene was besig om ʼn kookwater “brunch” aan mekaar te slaan. Party manne moes stop by hul 3de rondte…Karel?
Die berg swembad se water het ʼn ander definisie tot die woord “bliksems” koud gebring, maar weereens was die uitsig die moeite werd.
Met 9 kinders in die groep was daar nooit stilte nie en het mens ook nooit regtig geweet waar hulle is nie. Selfs Mario se 3 honde het ʼn fees van ʼn tyd gehad in en buite die swembad.
Laat middag het die Van Der Merwe’s (Christo & Rene) begin met die pot. As daar een ding is in die lewe wat vir my baie moeilik is om te doen is om vir die wetter ʼn kompliment te gee , maar bliksem Christo & sy vrou, Rene, mag maar potjiekos maak. Enige iets van ʼn vark, seekos, groente, vleis pot….en die lys gaan nog aan. Noem dit en hul het dit seker al gemaak.
Toe die pot van die vuur kom het Mario & Andre begin om die vuur te stook met alle mag. Res van die aand was daar gesellig gekuier om die vuur met Tulbagh se liggies wat ver onder in die vallei vir ons flikker.
Sondagoggend het paar van ons die tweede waterval verken. Die ene was bietjie meer uitdaging vir die kinders gewees, maar nogsteeds ʼn great avontuur wat hul sal onthou. Terug by die kamp was die lywe gou afgekoel in die swemgat voor die opslaan van die tente aangepak word.
So net na 11am het ons in die pad geval, want ons moes nog klein boeta, Lian, by ouma-hulle in Somerset Wes gaan haal het.
Weereens dankie vir ʼn great naweek en natuurlik al die reëlings Christo. Was lekker om al die nuwe gesigte te ontmoet het.
Kliek hier vir meer foto’s.