Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Kamp by Protea Plaas

Protea Plaas

Net voor ons die jaar op sy gat slaan, moes ons darem nog een kamp inwerk. Met die dat ons in die middel van somer is, was 1) skadu en 2) swemplek ʼn moet. Protea Plaas het albei ge-tick en die bespreking is gemaak.

Daar is twee manier hoe mens na Protea Plaas kan ry. Jy kan of via Montagu gaan soos jy Avalon Springs toe sal ry, of jy kan op die N1 verby De Doorns gaan en dan regs draai op die R318. Ons het nog nooit deur die Hex Vallei of Rooihoogte pas gery nie, dus het ons besluit op die De Doorns opsie. Ongelukkig was dit reeds donker toe ons daardeur ry, maar kon darem die oopte waardeer die Sondag toe ons terug gery het.

Vrydagaand eers laat by Populiersbos aangekom so kon toe nie regtig alles verken nie, maar een ding was duidelik – ons het definitief die weer onderskat. Met die dat die Boland die laaste week lekker warm was, was daar aangeneem dit is nie nodig vir warm klere nie. Daai Vrydagaand was daar geen teken van die Boland hitte nie en die windjie het nie gehelp met die koue nie.

Tent was in rekord tyd opgeslaan en Ruan & Christo het solank werk begin maak van die vuur. Paul en Marina het later die aand ook die donker / koue kloof in gesuiker. Die twee seuns (Jean & Ewan) was in ʼn 2de hemel en het alles deeglik verken.

Ons spannetjie vir die naweek was:

  1. Ek & Marli – Jean (4 jaar)
  2. Paul & Marina – Tessa (skaaphond)
  3. Christo – Ewan (3 jaar)
  4. Ruan

Protea Plaas is geleë in die bekende Koo Vallei, 29km van Montagu in die hartjie van die Route 62. Populiersbos is in ʼn kloof geleë wat uit twee gedeeltes bestaan. Aan die een kant kan jy onder bome kamp naby die waterval poel en dan bietjie onder is ʼn hout/klip (dubbel verdieping) huisie met 3 kante. Fasiliteite is netjies en skoon en meer as genoeg wat mens benodig vir ʼn kamp naweek.

Saterdagoggend na ontbyt is daar besluit om lyn nat te maak by een van die damme op die plaas. Met ons aankoms was almal verstom hoe helder die water is en kon jy die visse sien swem. Die immergroen grasperk en braai geriewe skep ʼn ideale piekniek plekkie vir somer maande. Met die dat Vrydagaand se koue iets van die verlede was en die sonnetjie lekker stoot is die twee springplanke uit getoets.

Ongelukkig was geen visse uit getrek nie, maar die helder water was wraggies salig teen die hittige sonnetjie.

Laat middag, terug by die kamp, het van die moeë liggame gaan skuinslê terwyl ander ʼn diep gesprek gevoer het met ʼn bottel Gin.

Toe die windjie begin optel is vuur aangesteek en voortgebou op die vorige aand se samesyn. As die kinders nie orals rond jaag op die skoeters nie word die bos paadjies oor die rivier verken.

Sondagoggend is tent en alles vroeg opgeslaan en weer dam toe beweeg waar ontbyt geniet was. Ek en Paul het ons eie duikplank kompetisie gehou wat seker vreesaanjaend vir die ander moes gewees het as hul sien hoe die twee grote lywe die water getref het.

11am is daar blad geskud en kort voor lank was ons weer op die R318 De Doorns toe.

Weereens dankie vir ʼn great naweek julle.

Kliek hier vir meer foto’s.

Leave a comment