
2013 het met so helse tempo weggespring en as jy nie seker maak jou belt is vas nie gaan jy maklik jou broek op jou enkels vind en oelala dan is daar weer skade aan die kakebeen – not cool.
So toe “groot” Jacques vra wie wil saam gaan kamp by Panorama Privaat Kamp by Tulbagh, is die hand onmiddellik opgesteek.
Die spannetjie (Jacques-hulle, Frans-hulle, Nols-hulle & Paul-hulle) het Vrydag na werk al deurgeskiet maar met die dat boeta sy spoed bietjie wil toets teen die Filistyne het ons so net na 12h00 Saterdagmiddag in die pad geval. Tigger smag al lankal dat sy longe bietjie losgemaak word.
By die plaas aangekom kry ons vinnige aanwysings voor ons deur die vrugteboorde op teen die koppie suiker.
As kamp jou ding is dan is hierdie ’n moet vir jou. Ek love die buitelewe en as Marli my toelaat sou ek en boeta lankal naweke in die tuin kamp. Sal sommer Tigger ook daar op die blom beddens trek, maar vroutjie sê die bure sal glo snaaks dink as ons vuurmaak in die tuin…verstaan ook nie vrouens altyd nie. Boeta skud maar net sy kop.
So hoekom die bohaai oor Panorama Henry?
- Jy book die hele kamp. Daar is GEEN teken van enige ander kampers om jou nie.
- VOLLEDIGE toegeruste kombuis so jy moet net jou tent en kos vat. So jy kan maar vroulief se duur cutlery los.
- Netjiese badkamers met gas.
- Netjiese groen gras met baie skadu.
- Dam op jou stoep met foefieslide & trekker band vir kinders en grootmense wat act soos kinders.
- Een ma-helse vuurmaakplek. Nee, wat jy kan maar die hout / stompe gooi.
- 5 gesinne kan gemaklik kamp, maak net seker jou sjomma bring nie ’n 8 man army tent nie, want dan sal jy maar jou tent binne syne moet opslaan.
Soos altyd was Jacques & Frans aan die stuur van die vleis en mense het ons nie vir jou geëet (skaap ribbetjies, boud wat oopgevlek is, pot, vars gebakte brood…) nie. Ek ken nie 2 ouens wat meer passie vir vleis het as die 2 kêrels nie.
Die foefieslide was tot die max getoets, as ek vat die gemiddelde gewig van ons klomp manne was seker 110kg + (nie jou ma se kleinste seuns nie). Paar kêrels & dames het paar non-indrukwekkende landings uitgevoer…ek lag nog steeds vir so paar “laat ek met my kop eerste water toe gaan” probeer slae van Jacques…whahaha.
Alhoewel ons nou net vir die een aand daar was, was dit ’n kookwater naweek gewees saam met bobaas vriende.
Dankie vir al die reëlings Jacques. Ons maak gou weer so.
Kliek hier vir meer foto’s.