Laaskeer wat ek by Calvinia se jaarlikse Vleisfees was, so 3 jaar gelede, het ‘n groot, bef*kte knaap amper my kop van my lyf afgetik net omdat SY meisie MY kom vra het vir ‘n dans. Daai knaap was darem nou vir jou moeilik en mens ek moet sê my onderbroek het lanklaas so aan my boude geklou, maar ja dit is in die verlede.
So hierdie jaar toe die knape sê ons gaan toer het daai stukkie verlede diep onder my bewussyn gaan sit en ek het gehoop, en seker gebid ook, dat die knaap of bekeer is of hy is net nie daar nie, want ek is nie lus vir hanna-hanna nie.
Petrol en diesel is onmenslik duur en daar word besluit om die voortuie tot die minimum te hou. Die ouens trek laer agterop twee Isuzu bakkies en al die girls kry plek in Marina se Polo.
Calvinia hou vas die Klonge is oppad!! Parma se 2L soetwyn loop soos ‘n jet agterop die bakkie en ons is koue se baas… paar uur later en die soetwyn is Stefe-O se baas. Ahem.
So net voor middernag hol ons Calvinia binne en die dorp is maar stil. Eerste ding wat deur my gedagtes gaan is dat hierdie wetters my vir ‘n gat gevat het en hier is geen fees vanjaar nie.
Tente / laer kry vinnig hulle plek en dan is dit reguit Hantam hotel toe. Gaan nie nou help om fees toe te gaan nie, want dit is klaar te laat. Die hotel is maar stil as mens dit vergelyk met feeste in die verlede. So na die 3de knertsie stroom ‘n vrag mense die plek binne (fees is klaar en almal kom hotel toe om die kuiertjie verder te vat) en ek kan sommer sien hoe opgewonde raak Sieb en Vicky. Ag, die twee smag al weke om langer as 2 minute met ‘n girl te gesels, wat 1) nie hulle flat sal ignoreer nie, 2) wat hulle nie sal klap en dan die polisie skakel nie. Dit is nie meer so maklik om “Minky of Elbe look alikes” te kry as jy soos ‘n grotman lyk nie, maar ja dit is ‘n artikel op sy eie.
Saterdagoggend staan die siele maar swaar op. Die khaki’s word uitgeskud en dan is ons weer reg vir nog ‘n dag. Die strate is maar stil en eerste ding wat ek opmerk is dat daar werklik baie minder mense is as 3 jaar gelede toe ek daar was.
Die maag kry kos en dan is dit veld toe waar al die stalletjies en buiteverhoog is. Daar word nie lank gestop by ‘n stalletjie nie, want anders wil M net goed koop so dit is maar vinnig-vinnig deur alles.
‘n Paar koue knertsies word by die buite stoor geniet waar Rooies geraas maak en die mense lekker kan dans. Parma wys vir die mense hoe daai groot, plat voete van hom beesmis uit die grond kan trap as hy sy passies inwerk.
Die res van die middag is maar spandeer tussen die rugby en al die verskillende watergaatjies.
Later die aand is dit Emo Adams en Juanita du Plessis wat die mense vermaak op die buite verhoog en daarna is almal saal toe om te skoffel saam met die alombekende Klipwerf boere orkes.
Die dag was maar lank op die lywe en daar word besluit om ‘n laaste ietsie by die hotel te geniet voor daar teruggekeer word kampterrein toe. Tussen hierdie punt en Sondagoggend het Sieb se wiele heeltemal losgekom en het hy sy verjaarsdag met n gedoef in die kop wakker geword.
Die rit terug was interessant met diè dat ons reën tussen Piketberg en Moorreesburg gekry het; 120km/h agterop ‘n bakkie as dit reën is nie sports wat mens elke dag wil speel nie, maar wel iets wat mens altyd sal onthou.
Die Hantam fees is nie een van jou standaard gedoef-doef feeste nie. Daar is ietsie vir elk en definitief ‘n moet as jy nog nooit daar was nie.