18h00 en Kulula MN 101 sit sy wiele saggies neer op Kaapstad Internasionale Lughawe. Dinge moet nou vinnig gebeur want ek en Marli het net ‘n uur om by die huis te kom, te pak en dan om Vic en die res by sy huis te kry. Dinge word net ingegooi en dit wat ons vergeet is nou maar vergete en ons sal maar later daaroor huil as ons dit nodig het.
Trek so net na 19h00 by Vic se huis in en na ‘n vinnige hello sê hier en daar is almal die bakkies in en oppad Greyton toe. Die weer lyk maar sleg en my gat brand sommer want ek weet ons gaan mos reën kry op die roete. Hoop maar net ek het al my gear ingevoeter.
Kom so net na 21h00 by Greyton aan en na ‘n vinnige recce om te kyk of ons nie ‘n oop watergat kan kry nie is daar besluit om reguit na die kampterrein te gaan wat net so buite die dorp is. Dinge gebeur sommer lekker vinnig en voor jy halt kan skreeu is die tente op, die vuur loop soos ‘n veldbrand en die brannas vloei soos water die droë kele af.
Dinge raak net lekker en toe iemand later dit onder ons aandag bring dat AL die brannas op is en dat daar nog net Cane oor is, het ons dit maar ‘n aand geroep. Geen normale mens drink daai wit water nie. EISH!!!
Saterdagoggend word meeste van ons wakker met ‘n kopseertjie uit die boonste rakke en ‘n liggaam wat gemartel is deur Bacchus en sy sjommies. Bad gou in die nabye rivier voor daar vertrek word na die begin van die roete.
Boesmanskloof is regtig ‘n wonderlike roete en is net die regte knaap om aan te pak as jy ‘n beginner is. Ek en ou Vic het dit al vantevore saam met pals gedoen en die roete het asemrowende views. Die roete is baie eenvoudig. Jy begin met ‘n klim en eindig met een ma-helse klim. Die middel is maar relatief gelyk en hier en daar is op en af gedeeltes.
Die begin-foto word geneem en daar sleep ons. Soutie vat die lead saam met die girls terwyl ek saam met Brill en Vicky agter sweep. Omrede dit Marli se eerste werklike hike is besluit ons dat ek van haar gear sal dra want ons weet nie hoe haar voete die ding gaan hanteer nie. Pla my mos nie want ek het mos Vicky se boek (How to be a Camel Man Jnr) gelees en ek ken mos die roete….whahahahha…FOUT # 1. Met diè dat van die mense nie sakke gehad het nie leen ek myne vir Manuela en gebruik ek een van my kollegas by die werk s’n. ‘n Sak is mos maar ‘n sak en wat maak dit saak….FOUT # 2.
Eerste gedeelte het maar gesukkel en ek kon voel dinge is nie 110%. Vandag is een van daai dae wat ek die son met klippe gaan afgooi. Brill is die keer weer saam met ons en nadat die knaap +/- 17kg verloor het na sy eerste hike (Arangies kop….eina) het hy werklikwaar 99% verbeter. Laas wou hy omdraai na 2km die hike in, maar die keer was daar niks van daai tekens nie. Vic het die keer ook sy Kili sak vir die arme ou geleen en mens kon sien die knaap het nogals baie geleer van sy eerste hike. Hike met k*k gear en jy sny ‘n lat vir jou eie gat.
Ons breek vir middagete by ‘n stunning waterval waar van die dapper wetters die koue water aan gedurf het. Na ‘n lekker lang rus is die sakke weer op en nou is dit die laaste stretch hut toe. Ek sit maar my sak met ‘n swaar sug op want ek weet wat vir my wag en dit is nie mooi nie. Marli is in tip top kondisie en sy vertel net hoe lekker dit is, en hier sit kiepie die aap met van haar gear en ek begin wonder of ek nie nou maar van haar goed kan teruggee nie, maar NEE gear uitdeel is mos nie op die boeke nie en mens sal nooit die einde daarvan hoor nie. Ek sal hierdie sak die berg opvat al vrek ek vandag en na so 30min was dit amper die geval. Die ander is vooruit en ek en Vic slaan die berg laaste. Dinge gaan maar swaar en ek kry ou memories van Kilimanjaro. Die bene is jelly en jou mind begin shit games met jou speel. Ek voel hoe sweet ek nog so dubbel brannas en coke uit. Why Larry? WHY!!!
Vicky motiveer vir alles wat hy werd is hier van agter. Elke keer as ek rus lag die bliksem homself amper nat en dan is dit eers weer 50+ fotos van hoe ek in my moer in is. En dit is wat jy pals noem.
So net na 15h30 kom ons UITEINDELIK by die hut aan. Vic het vooraf met die eienaars gereël dat hulle vir ons ‘n kis bier, vleis en paar goedjies vir ontbyt by die hut sal los. Soos my sak die grond tref druk Soutie ‘n KOUE Castle my hand binne. Bliksem dit is mos nou die lewe!!! Geen bier het al so lekker geproe nie. 15 minute later en die hemel maak oop met alles wat hy het en ‘n vraggie water sak daar op ons neer. Die dag was nie net hard op die bene nie, maar ook op my linkerhak. Spog met ‘n splinternuwe blaas so groot soos n R5 muntstuk en die ding is seerder as die lewendige hel. Maar ja dit gebeur seker as jy onnosel is en nie jou skoene reg vasmaak nie.
‘n Vinnige vuurtjie word aanmekaar geslaan en die bottels soetwyn maak hulle verskyning. Soos die wind en reën aangaan begin elkeen maar stadig wonder of môre se terugstap nog gaan gebeur. As dit so aangaan sal dit malligheid wees om die roete terug te doen. So net na 21h00 is ‘n halfton vleis, 3 bottels soetwyn en een kas bier op. Stadig maar seker kry elkeen ‘n bed en so net na 21h30 is daar stilte.
Sondagoggend en die reën kom en gaan. Vic en Brill slaan ‘n kick-ass ontbyt aanmekaar en damn, Vic se boskombuis skills raak beter met elke hike. So net na 09h40 kry ons ‘n breuk in die weer en besluit om dit ten volle te gebruik. Almal se spirits is hoog en die girls vat weereens die lead. Brill en Vic sweep die keer alleen en ek besluit om so bietjie saam met Marli te stap. Die keer het ek besluit dat juffie veels te goed gister gestap het en dat sy haar eie slaapsak kan dra. Dit alleen en die bottel soetwyn wat nie meer daar was nie het ‘n hemelse verskil gemaak.
So 20min die roete in en die hemel maak maar weereens hier bo ons oop. Poncho’s word aan getrek en die dat ek en Marli met die spoed van wit k*k gepak het die Vrydagmiddag, het beide van ons ons reënbaadjies vergeet. Die roete terug is relatief maklik en daar is net een stukkie wat jou so bietjie terug in die stoel druk as jy hom nie met die regte gees aanpak nie. So net na 13h30 is almal terug by die bakkies in Greyton. Omrede dit die heeltyd aan en af gereën het was daar nie eintlik tyd vir rus en om ietsie te eet nie en moes jy maar voortsleep om so gou as moontlik uit die reën te kom.
Na ‘n vinnige bier in die dorp is ons weer op die langpad terug Kaap toe. Groot dankie aan Vic wat alles gereël het. Dit was weereens ‘n grote gewees ou maat. En dan ook aan Petra, Soutie, Ester, Andri, Brill, Manuela & Marli vir ‘n kick-ass naweek. Ons doen dit sommer gou weer!!!