So kom die nuus verlede week deur dat Elizca na ‘n plaas net buite Wellington toe getrek het en om die plekkie in te lyf gaan ons so ‘n rustige braaitjie hou. Nou in my kort bestaan op moeder aarde het ek nog nooit gehoor van ‘n rustige WK braai nie, maar ja kom ons probeer dit. Het skoon die kamera saam geneem want ek moet foto’s neem van so ‘n storie. Dink die koerante sal groot betaal vir die kiekies.
Op my onlangse trippie Oudtshoorn toe het my oom vir my twee bottels van daai super sterk water, Witblits, gegee en om nou nie onvoorbereid by ‘n rustige braai aan te kom nie het ek maar een agter die bakkie se seat ingedruk net vir ingeval die braaitjie tekens wil toon van rof raak.
Soos ek weet dat die son elke dag opkom in die ooste en sak in die weste het ek geweet dit gaan nie lank vat voor die vog soos water loop en die gatte begin jeuk nie. Gaan kry daai bottel super sap uit die bakkie en daar k*k een standaard rustige braai. Ok, so hier vrek ons dan vandag, maar wie worry, ons??? en baggas gaan saam grond toe as daar gesneuwel moet word.
Merlene (Rev se beter helfte) bring nogals die aand ‘n lekker slaaitjie daar aan en soos al die kuiers maar gaan is al die ouens weer in die kombuis en begin hulle verwoesting saai onder die slaai.
Eers kry elkeen so kopskietertjie via die doppie en toe die doppie sy gat sien toe kry een dom, onnosele, rot, brak…(die lys kan lank aangaan) die slim idee om die volgende rondte uit ‘n soplepel te neem wat wraggies seker 4 tots kan vat. My maat Witblits sit die hoofletter T in Tiermelk.
Dinge raak woes lelik en Rev is loshande verby die omdraai punt. Daar is nou een pad en dit is nie na ‘n lekker plekkie toe nie. Die girls word later ingesleep en nou slaan die party internasionale rekord levels van handuitruk. Almal kuier laat die biesies bewe.
Die slaai kry later twee gloeg-gloegs nes Vicky daaraan begin eet en die arme knaap gaan deur ‘n kleur verwisseling toe hy dink hy doen die gesonde ding om ‘n groot hap slaai die liggaam in te jaag. Wed jou hy het nog nooit so skop van blaarslaai gekry nie!!!!
Chaos, anargie, pyn…die einde.
Saterdagoggend word ek met die mees vreesaanjaende view op aarde wakker. Met die bodies wat verby taai was van die vorige aand was Merlenetjie so gasvry en het sy aanbeveel dat ons by haar en Rev die aand moet oorbly. Ek en Marli het plek gevind op die een bank en Parma en Vic op die ander. Met die hitte wat nie saamspeel nie trek ou Parma maar die broek die aand uit en toe ek my oë nou die oggend oopbreek deur die slaap lê daar ‘n half ton melkboer met ‘n gat groter as Kimberley se gat en dit lyk of die ding skoon sy eie land nommer het so groot en rof is dit…
Maar ja die lewe moet aangaan en ek sal dit probeer verwerk. Groot dag wat voorlê want ek en Parma is nou oppad Atlantis toe om saam met sy neef-hulle die duine daar aan te pak met die 4×4’s. Kry die manne daar by die garage op die N7 en die hele konvooi (4 voertuie) is Atlantis toe om eers ons permitte te kry. Net buite Atlantis draai ons regs reguit duine toe. Nou hierdie knape saam met wie ons gaan is al harde 4×4 manne en hulle doen die k*k elke naweek amper. Ek en Parma is nog stukkend van die witblits en hierdie is mos nou nie reg nie. Parma is mos ook nou nie n rustige mens met sy bakkie nie en ek weet die brak gaan my geloof vandag toets. Bande is 0.8 bar en ons is die duine in.
Duine op en duine af en manne se babbelas is weg en die adrenalien pomp een dik stroom. Zac van Niekerk blaas oor die iPod soos die sand deur die bakkie blaas. Parma se long wheelbase staan glad nie terug vir die ander manne se short wheelbase voertuie nie en Isuzu hou die GM naam hoog.
Voor ons groot duine afgaan word daar eers so effens voor die kruin gestop om te check hoe hoog dit af is en of daar nie iemand anders onder is nie. So kom ons tot stilstand seker by die hoogste duin van die dag en alle Parma styl moet ek sommer nou oorneem. Nou kom ek skep die prentjie vir jou. Net voor ons begin het, praat die manne met ons dat ons maar effens skuins moet stop op die duine anders gaan ons sukkel met die weg kom. Hier stop dom vet melkboer Parma reguit neus op seker teen die steilste duin. Daar is nie tyd vir eers bietjie rond ry om die clutch control te voel nie en met die ander manne wat alles doen gladder as botter is die pressure aan. Nes die bleddy lot dit wil hê gee ek te min krag en bliksem ek daai Isuzu se maag op die kruin neer. 15min later (uiteindelik) kry ons hom uit en ek is af. Gaan weer om die duin en die keer gaan dinge sommer stukke beter nou dat ek die krag van die bakkie kan voel. So voeter ons aan en speel woeslekker rond.
2 ure later besluit die manne maar hulle wil nou hierdie een ma-helse duin opvoeter. Dit jaag en dit skreeu en die manne kom op. Parma is ook nie vêr agter nie en die Isuzu dreun die duin op. Die trick is jy moet presies weet waar om voet van die krag af te haal dat jy nie oor die duin vlieg nie. Parma doen dit so 2 keer relatief OK en toe is dit weer my beurt. Aaai en daar staan die ander manne op die duin en wag weereens vir my. Vandag gaan ek nie weer f*kken vasval met hierdie bakkie nie en ek trap daai bakkie flatbox, 4L, 4de rat daai duin uit.
Nog nooit vir Parma sien klou in ‘n bakkie nie, maar daai knaap klou en as ons vandag sterf dan moet ons dit in styl doen. Slaan die duin so hard as wat ons kan en ons klim asof ons op ‘n teerpad ry. Bliksem maar die ding het baie krag!! Sal hier moet af gear. Maar voor ons oh f*k kan skree is ons by en oor die kruin en ek sit airtime op Parma se bakkie. Paar millisekondes later tref ons die duin weer, gear af en gee voet, kom brullend langs die ander manne tot stilstand…lyk of alles beplan is. Die manne klap hande en laat weet hulle het nog nooit ‘n voertuig so hoog sien gaan nie. My poepol is nog besig om my onderbroek op te vreet, maar ek skud maar kop en maak asof dit is hoe ons Willeklonge ‘n ding doen. Bakkie nog in een stuk: check. Ons lewe nog: check. Respek gekry by die ander hardebaard 4×4 manne: check.
Oppad terug dink ek by myself – f*k Jonker jy sal moet rustiger raak want eendag gaan julle jul gatte solid sien. Aaai ons sal maar wag as die dag kom en dan sal ons hom aanpak, hoop net iemand bring ‘n paar koue biere saam.
Laat hom loop bulle en onthou bakkies is gebou om te hou so hou daai voet plat…