Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Bio dans op Piketberg

Met Zinkplaat se Karoo Poison op die radio was ons weereens op die langpad. Dié keer was dit Piketberg toe om diens te gaan doen by die Bio Dans. Jup, ons is besig met ons diensplig. Baie manne veg vir ons land, maar hierdie seuns kuier vir ons land.

Mense sal dink dit is maklik, maar vandag sukkel hierdie laaitie om te fokus. Die liggaam is daar, maar die gevoel het my verlaat. Ek weet nie presies waar dit is nie, maar ek dink dit is êrens op Piketberg. Sal dit maar kry as ons na die volgende skou toe gaan.

Vicky het n hele 3min slaap ingekry Vrydagaand, so hy het maar op 2 silinders gehardloop. My volle stel het gehardloop en ek was reg vir enige pyne wat na my gegooi gaan word. Het die klein avontuurtjie afgeskop by Die Hoek se gholfbaan. Die groot legends van die Feeskomitee (Daniel & Inus) het ons ingewag met glasies vol lekker voggies. Vicky het maar woes gesukkel, maar toe die eerste een mooi af is het daai ander 4 silinders ingeskop en Vickerus was weer op volle stoom.

Terug by Inus se huis het n rustige braai skielik potensiaal begin toon vir een moerse party. Die huis het voller begin raak en die tafel met voggies het soos n bottelstoor begin lyk. Dié van julle wat nog nie saam met die Feeskomitee gekuier het nie, sal gou leer dat hierdie manne brandewyn en coke drink asof dit water is. Daar is nie singles of dubbels nie. Hulle werk hom sommer op so twee gloeg-gloeg. Ek is nou nie n man wat gou bang raak nie, maar later het ek begin stres, want as hierdie maar net die pre-drinks was voor die dans, hoe gaan ek en Vicky dan die dans oorleef saam met hierdie ouens? Maar, soos my pa mos altyd gesê het: “Elke sport het sy eie beserings.”

Na n harde sessie by Inus se huis, het ons die strate ingevaar op pad na die Bio Dans. Ek was lus vir groot gaan, en met manne soos Inus, Vicky en Daniel om jou, is dit regtig nie baie moeilik nie. Jy moet net byhou en die res sal vanself kom. Die saal was lekker vol en dit was nie lank voor ou, bekende gesigte te voorskyn gekom het nie. Was nogals n lekker feeling om te sien hoe baie mense ons onthou het van die laaste skou wat ons op die dorp bygewoon het. Ons manne is nou nie groot langarm helde nie, maar na n paar sterk knertsies kan ons enige dans doen. Shit, man, ons sal dalk selfs beter as n stripper kan dans.

Vicky, trek jou maag in! Daniel, jy brand AL WEER die vleis. Inus, gooi daar n dop!

Plattelandse danse is n avontuur op sy eie. Jy kry daai gevoel dat jy in Trompie se wêreld is en met jou makers moet ma’s en pa’s maar net keer vir hulle dogters. Dit is hartseer om te rapporteer dat daar niks maanligstories was nie. Ek dink ons het dit misgekuier. Uwe, jou beskrywing van die dans was spot-on gewees, ou maat. Dit het gerock en die mense was great. Willeklongdiens is hard en tough op die lywe, maar hierdie bulletjies kan dit vat. Na die dans het ons na die local watergat toe geskiet. Ek weet ons het die plek ingestap en …uhmmm…shit, oom, ek weet nie meer nie. Het eers vanoggend op die kiekies gesien dat ons lekker hard daar gekuier het. Dit is seker die rede hoekom die koppie woes raas en die liggaam vir pille skree.

Terug in die Kaap sit ek hier voor my PC, met Zinkplaat wat weereens die kamer vul, en dan besef jy hoe lekker dit eintlik was. Het saam met ou en nuwe pals n klein dropie aan die brand gekuier. Nuwe memories is ingebrand en my liefde vir die platteland raak al hoe sterker.

“Ma, moenie stres nie, ma se seun is nog OK. Die grens is tough en ek het nie gedink Willeklongdiens is so hard nie, maar ons doen dit vir Volk, Vaderland en al die oulike single goedjies wat daar in die RSA rondhol. Ek weet Rover (my hond) verlang baie, maar ek het n kiekie saamgestuur wat ma in sy kas kan opplak. Het vanoggend van n groot operasie in Piketberg teruggekom. Volgende week se operasie in Swellendam gaan 10 keer groter wees. Hulle reken dat operasie Up the Creek baie soldate laat val, so julle moet maar duim vashou dat ons dit sal maak. Ma se Willeklong, oor en uit! Besig met Willeklongdiens”

Leave a comment