Dit wil voorkom of elke jaar maller en besiger raak. 2007 was by verre my besigste jaar ooit en die vakansie kon nie vinniger kom nie.
Soos elke vakansie wil ek wegkom van die buzz van die stad en my voete in die stof kry. Ek soek die stilte om my, ek wil nie ʼn half miljoen Transvalers om my sien nie, soek nie rye by winkels nie en belangrikste van als wil ek plekke en dinge sien en doen wat ek nog nie vantevore gedoen het nie.
Marli smag en smeek nou al twee jaar om vir ʼn slag ʼn paar dae see toe te gaan en toe Rene en Christo noem dat hulle Pearly Beach toe gaan vir ‘n paar dae en dat hulle graag wil hê ons moet hulle join was die koeël klaar deur die kerk voor hulle die sin klaar gemaak het.
Die paar dae by die see was presies wat my siel nodig gehad het. Dit was rustig en terselfdetyd kon ek so bietjie oefening inkry…seker maar wat die liggaam nodig het. Rene en Christo weet van gasheer speel asook kos maak en ek wil nog ʼn couple sien wat hulle ‘n go kan gee as dit by kosmaak kom.
Na Pearly Beach het ons gou by Struisbaai ‘n draai gemaak om te sien hoe Steyn in die TransAgulhas (meer hieroor op <a href=http://www.willeklong.co.za/article.asp?ART_ID=1146&PageHit=A&PageMode=A&StepMode=1 target=”_blank” class="link10">Willeklong</a> site) doen waarna ons Calitzdorp toe geskiet het via Mosselbaai omrede die pas tussen Ladismith en Calitzdorp gesluit was na vloedskade.
Mac se boskroeg / restuarant, die Bosvarkie, is net so buite Calitzdorp en is amper soos ons ander huis as ons in daai geweste kom travel. Die knaap, Mac, dra ons altyd op hande en elke kuier daar is iets besonders, maak nie saak of daar tonne mense of selfs net ‘n handjievol mense is nie. Die eerste aand het ons bo op die Rooibergpas gekamp en die volgende dag toeriste gespeel soos Mac ons al die gate gewys het waarna ons Nuwe Jaar om ‘n vuur met ‘n lekker potjie geniet het. Meer hieroor bietjie later.
Na Calitzdorp het ek en M van die ander geskei en Knysna toe geskiet via Oudtshoorn, De Rust, Avontuur en natuurlik twee passe wat eintlik vir die publiek toe was (maar ons het maar deur gesleep). Ek dink M het byna 3 hartaanvalle daai laaste 100km gekry, want op plekke het beide passe lelik skade gekry.
By Knysna het ons gesukkel om plek vir ‘n tent te kry, maar na ‘n paar oproepe het ons ‘n gaaitjie by ‘n Backpackers gekry. Die volgende oggend was ons vroeg op en na ‘n draai by Toerisme het ons besluit om ‘n trippie op die John Ben (ou boot wat trips op die Knysna lagoon doen) te doen. Die trippie het net weer bevestig dat party mense net te veel freaken geld het…te veel speelgoed.
Daarna is dit Blou Krans toe waar ons die aand by Khoisan Village gekamp het in stortende reën. Dit het die hele aand gereën en op party kere moes ons maar bid dat die tent tog net hou tot die volgende oggend.
Die volgende oggend en die wêreld was woes nat. ‘n Aand in ‘n tent met ‘n tropiese storm buite laat enige mens smag na ‘n bed. Skiet die oggend deur Plettenbergbaai toe, maar om akkommodasie Des/Jan in Plet te soek is ontmoontlik.
Met die dat ons die volgende dag die Canopy Tours by Tsitsikamma Village gaan doen het ons besluit om in daai omgewing te soek en weereens was geluk aan ons kant en het ons ‘n kamer by ‘n B&B gekry.
Die volgende oggend was dit vroeg uit die vere en reguit na die Canopy Tours se kantoortjie. Gewapen met ‘n harnas, helmet, handskoene en ‘n reënjas en dit is reguit bome toe. Om tussen bome (+/- 15m hoog) te gly is iets wat ek nog nie aan gedink het nie, maar damn wat ‘n avontuur is dit nie vir jou nie!
Later die middag het ons terug Kaap toe geskiet, maar toe ons Sedgefield tref het ons besluit om liewers die aand oor te slaap voor ons die volgende dag terug Somerset Wes toe skiet.
Die vakansie is iets van die verlede en die eerste week terug by die werk is klaar agter die rug en al wens ek dat ek nog op vakansie was sien ek uit na 2008 en wil net so gou moontlik in die ritme kom.
2008 is ek en M se huweliksjaar en 1 Maart kan nie vinniger kom nie. Hierdie gaan ook die jaar wees waar Willeklong sy merk hard gaan maak in Suid Afrika en gister se onderhoud met RSG Befonk is klaar ‘n stap in die regte rigting.
Hou die blink kant hoog, was agter jou ore en maak seker jy kou toe mond.
Tarra