Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Karoo toe

Karoo_toe

As dit winter is MOET mens ʼn draai gaan maak in die Karoo. Die Karoo se winters is iets spesiaal en dit is iets wat mens moet beleef as jy nog nie die voorreg gehad het nie.

Die PVA was eenvoudig: 4 knape (ek, Paul, Ruan & Marnus) met Paul se legendariese 1984 Isuzu bakkie (enkel kajuit), doen ʼn sirkel roete via Ceres, Tankwa Karoo, Gannaga pas, Middelpos, Sutherland, Ouberg pas, Ceres en dan weer tuis.

Met reën wat die Saterdagaand gedreig het, is daar op 99 besluit om liewers die ou legende te verruil vir Paul se Hilux want niemand is regtig lus om nat te reën agterop ʼn enkel kajuit bakkie nie.

Vrydag laat middag so net na 17h30 val ons in die pad Tankwa Tented Camp toe. Die gees loop hoog en almal se gatte juk vir ʼn loskop naweek saam met die manne. Terwyl die Country musiek deur die speakers blaas vreet ons die grondpad km vir km en so net voor 21h00 is ons by ons eerste bestemming vir die naweek, Tankwa Tented Camp.

Paul maak reg vir 'n kiekie

Met die dat almal ʼn groot dors op hul het word daar besluit ons sal later worry oor die tent op slaan. Groot vuur word gemaak en die bar se tunes word paar knoppies harder gedraai.

3am Saterdagoggend en daar moet sekerlik gerus word. Krag is daar wragtig nie nou om tent op te slaan nie en ons besluit om sommer langs die vuur kop meer te lê.

Saterdagoggend 8am is ons terug op die pad, die keer in Gannaga pas se rigting. Die park is mooi groen en baie wild word gesien.

Bo op die berg word ʼn lekker plaas ontbyt geniet by Gannaga Lodge voor ons verder stoot Middelpos Hotel toe. ʼn Man raak mos dors van so baie stil sit so nadat ons iemand gekry het om die bar oop te maak word daar ietsie kouds bestel terwyl van ons die Australië vs Engeland toets kyk in die sitkamer.

Kuier bietjie op die stoep by Middelpos Hotel

Uiteindelik terug op die pad is dit Sutherland Hotel toe waar die groot wedstryd vir ons wag, Bokke vs Ierland. Sutherland Hotel se Rooikat bar bly maar ʼn legendariese watergat in die Karoo en al 4 van ons was al paar keer deur hierdie bar se deure.

Die toets is gewen, maar verder wil ons nie oor die wedstryd praat nie. Alhoewel die toets ʼn moerse teleurstelling was, het die kuier die aand op gemaak vir dit. Soos met ons vorige aand se avontuurtjie is geluk weer aan ons kant en die hotel eienaar noem ons kan sommer in die voorportaal langs die kaggel die aand rus.

Chaos

Sondagoggend en almal is vroeg uit die vere. Die bakkie word vir die laaste keer die naweek gepak en ons is op die pad. Met die dat die dorps garage eers 11h00 oop maak besluit ons dit sal liewers wys wees om die teerpad Touwsrivier te vat waar ons kan vol maak, want met ʼn range van 120km sou ons nie Ceres maak via Ouberg Pas nie.

So net voor 12h00 het ons by Paul op die plaas gestop waar almal se voertuie gestaan het.

Kêrels dit was tops en broodnodig vir die siel. Volgende jaar vat ons die laaities saam.

Kliek hier vir meer foto’s.

Leave a comment