
Sondagmiddag net na kerk en die Boland se hitte is op sy stukke alweer. As ons nie vandag uit die dorp (Wellington) kom nie, gaan hierdie klein huishouding van vier mekaar waarlik vrek maak.
Kinders word skreeuend in die kar gegooi (skuus, bedoel rustig geplaas) en ons skiet Durbanville se rigting in. Altydgedacht Landgoed om meer spesifiek te wees.
Het so paar weke gelede die Zipzoom Avonture op die internet raak gegoogle en dit ge-bookmark as iets om met die jongspan te doen, so hoekom nou nie vandag nie.
Met die aankoms word die nodige papiere geteken (sou die seuns hulle in hul m__r val…oeps) en Jean staan nader dat hulle hom kan begin reg kry vir die hindernisbaan.
Toe Lian die harnasse sien het hy onmiddellik dit onder ons aandag gebring hoekom hy ʼn 3 jarige is en dat hy geen harnas oor sy unieke, oulike lyfie gaan toelaat nie. Uiteindelik toe ons hom stil kry, en nog verbasend nie gevra is om die perseel te verlaat nie, het almal soos ʼn normale, rustige familie afbeweeg na die begin van die hindernisbaan.
Sal seker nooit ooit weer gesig daar kan wys nie…thanks boeta Lian. Maar hey, elke sport het sy beserings.
Jean kry ʼn crash-course in harnas hantering en ek sien al hoe die knaap 1 min die hindernis in sy agterkiestande gaan los val. Die gids is verbasend kalm, as jy dink hy moes die storie vir elke liewe kind wat daar was al verduidelik het, en daar was seker +/- 2/3 partytjies alreeds.
Tyd vir praat was verby en die knaap is die trappe op na die 1st platform. Verbasend onthou hy alles wat die oom verduidelik het van ʼn haas wat ore moet kry en as die hasie se ore aan is dan kan jy maar laat gaan en gly. As die vorige sin nie sin maak nie, moet jy maar self gaan besoek om te verstaan wat die hasie + sy ore beteken.
Zipzoom bestaan uit +/- 11 hindernisse en 3 ziplines. Die platforms is relatief hoog waarvan die hoogste seker so 2.5m hoog is. Jy kan jou tyd vat en gidse is orals byderhand om moed in te praat.
Daar is ook ʼn mini baan wat baie dieselfde hindernisse het, maar net nie so hoog is nie. In Lian style het hy so ver as moontlik van die hindernis aktiwiteite gebly en homself besig gehou met wie weet wat.
Definitief ‘n plek om te besoek met die jongspan. Tot ‘n volgende keer…