Vrydagoggend, 1 Mei, so net na 8am suiker 2 volgepakte voertuie (ek, Marli, Jean, Lian, Paul, Marina, Jismene & Chris) Wellington uit op pad na Wagendrift Lodge, die 1st van 2 stoppe.
In Worcester word daar by die Shell Ultra City gestop waar Divan & Celia vir ons wag. Na ʼn vinnige koffietjie is ons konvooi weer op die pad en die VHF radio’s begin lewe kry.
So 12km anderkant Touwsrivier word daar weg gedraai (regs) van die N1 op ʼn grond pad (P1469) wat al langs die N1 kronkel. Alles loop klopdisselboom totdat ek in my truspieëltjie sien dat my regteragterwiel gebars het. Spaarwiel word vinnig op gegooi – koue bier maak die keel nat en daar suiker ons voort.
Kort voor lank kom ons by die R323 T-aansluiting. Daar draai ons regs en dan is dit nog so +/- 24km tot by Wagendrift.
Hierdie was my tweede besoek aan Wagendrift en ek moet bieg ek was verbaas hoeveel die plek verander (vir die goed natuurlik) het toe ek in 2009 laas daar was.
Paul het soos altyd weer ʼn watertand hoender pot gemaak met Marina se potbrood kort op sy hake.
Saterdagoggend en almal is vroeg uit die kooi want daar wag ʼn lang dag vir ons. Koffieflesse word vol gemaak, padkos word reg gesit en ek en Marli maak seker ons het alles in die LC om die twee seuns besig te hou…sjoef.
Terug op die R323 draai ons regs op pad Seweweekspoort toe via die Koueveld pas.
Ek was verstom om te sien hoe erg die poort op sekere plekke gebrand het. Divan het vir ons ʼn stopplek gekry en almal het daai padkos en koffieflesse nader getrek.
Uit die poort draai ons links op die R62 op pad Calitzdorp toe waar Paul & Divan-hulle bietjie Port gaan proe en vir ʼn groot vriend (Mac van die Bosvarkie) gaan hello sê het. Ek en Marli is deur Oudtshoorn toe om te kyk of ek ʼn band kan kry want met die spaarwiel wat tans op was het ons geen spaarwiel gehad sou daar iets gebeur het nie.
Paul & Divan-hulle het toe later die middag die grondpad van Calitzdorp gevat tot by die R328 kruising waar ons vir hulle gewag het by Kobus se Gat. Die dag het al begin water trek en ons moes nog teen die Swartberg Pas uit en dan nog afsak in die He (Gamkaskloof) wat op sy eie ʼn +/-2 ure rit is.
Die +/- 2 ½ ure die Hel af was maar lank vir die kinders en ons het net so voor 6pm by Boplaas Gaste Plaas gekom. Die tente het vinnig hul staan gekry en Paul en Chris het seker gemaak die vuur kom aan die gang terwyl ek en Marli doenig was met die seuns.
Was maar ʼn lang daggie vir klein boeta, Lian, in die trok en van slaap was daar net GEEN sprake nie. Dink die knapie was maar oormoeg en wou ook maar deel wees van die kampvuur geselsies.
Almal was relatief vroegerig in die tente want more (Sondag) wag daar net so ʼn lang dag vir ons.
Sondagoggend 5am en Lian besluit hy het nou genoeg geslaap en van slaap is daar GEEN teken nie. Toe die son sy eerste strale gooi was almal doenig met kamp opslaan en om die voertuie reg te kry.
Kort voor lank en die radio’s het weer begin lewe kry. “Hello Nicky…..”
Na +/- 2 ½ ure se rond skuttery kom ons weer by die R328 uit. Die keer draai ons links en sak ons af met die mooi Swartbergpas tot ons Prince Albert in galop. Kinders het begin moeg raak en ons het besluit om aan te stoot.
25km buite Prince Albert draai ons links op ʼn grondpad. Van hier is dit +/- 100km tot by die Floriskraal Dam. Teen die tyd was die seuns behoortlik moeg vir die Cruiser binne en ek en M het besluit om die ander te volg via die N1 tot by Leeuwenboschfontein Gaste Plaas in plaas om via Anysberg Natuur Reservaat te gaan.
Beste besluit wat ons geneem het want so 20km voor Touwsrivier overheat ons voertuig en gelukkig het Paul paar bottels water in sy trok. Op Touwsrivier groet ons van die ander voertuie want dit is hier waar ons moet links draai Leeuwenboschfontein toe.
Van Touwsrivier is dit nog +/- 20km na Leeuwenboschfontein wat beteken ons gaan so net na 6pm (skemer) daar aan kom. Om dan nog tent op te slaan en Lian deur sy bad en aand roetines te kry sou chaos gewees het. Die besluit word toe geneem om liewers deur te trek huis toe (soos die ander) en alhoewel ons graag nog ʼn aand sou wou kamp was dit die beste besluit toe gewees.
Het die aand so net voor 8pm veilig by die huis (Wellington) gekom. Seuns was moeg en vol stof. Cruiser het soos ʼn Koevoet Casper binne gelyk wat 2 weke in die bos baklei het.
Die hoogte punt van hierdie vinnige roadtrippie moes die mense wees saam met wie ons dit aangepak het. Mens kan nie so iets saam met enige persoon aanpak nie, want die dae is lank en die stof klim orals in.
Dankie vir ʼn kookwater trip almal en was ʼn voorreg om paar grondpaaie in ons mooi land saam met my familie te verken.
Kliek hier vir meer foto’s.
Dankie vir die storie, informasie en mooi fotos.